![teenstrydige-generasie Omslag](https://i0.wp.com/versindaba.co.za/wp-content/uploads/2011/03/teenstrydige-generasie.jpg?resize=120%2C184)
By die Nederlandse uitgewery Meulenhoff het daar onlangs ‘n besonder belangrike bloemlesing, De tegenstrijdige generatie, onder redakteurskap van Yves T’Sjoen verskyn. Wat dié boek interessant maak, is dat T’Sjoen die versplinterde groeperings wat sedert die 1970s in bykans alle digkunste ter wêreld geld, ignoreer en terugval op die haas uitgediende generasie-groepering; sonder om tematiese en stilistiese verskeidenheid in berekening te bring: “In De tegenstrijdige generatie zijn belangrijke Nederlandstalige dichters bijeengebracht die debuteerden in de jaren zeventig. Deze dichters, geboren tussen 1944 en 1954, zijn inmiddels gevestigde namen. Maar voor oeuvrebouwers en geleidelijk tot wasdom gekomen stemmen in het hedendaagse poëzielandschap, bestaat steeds minder kritische (en volgehouden) aandacht. Met deze bloemlezing krijgen deze dichters de plek die ze toekomt.”
![Yves T'Sjoen Yves T'Sjoen](https://i0.wp.com/versindaba.co.za/wp-content/uploads/2009/09/yves-tsjoen-2009blogger-256x300.jpg?resize=154%2C180)
In totaal word 16 uiteenlopende digters in hierdie bloemlesing byeengebring, te wete: Robert Anker, Benno Barnard, Huub Beurskens, Frans Budé, Eva Gerlach, Jacob Groot, Luuk Gruwez, Stefan Hertmans, Hester Knibbe, Frank Koenegracht, Anton Korteweg, Wiel Kusters, Leonard Nolens, Willem Jan Otten, Hans Tentije, Miriam Van hee en Ad Zuiderent.
Volgens die berig by De Contrabas het Yves T’Sjoen hom soos volg hieroor uitgelaat: “[Er was] de vraag onder welke vlag de expositie moest worden gepresenteerd. Er werd eerst gedacht aan ‘Een bescheiden generatie’, maar dat klonk nogal geringschattend, want de dichters die tussen 1968 en 1984 hun eerste stappen op het poëzieforum zetten, zijn allerminst bescheiden te noemen. Ze zijn dan wel geen ‘omroepers van oproer’, hun dichterschap kan beslist niet als low profile worden omschreven. ‘De tegenstrijdige generatie’ leek beter te passen. (…) De gemeenschappelijke karakteristiek die deze dichters verbindt, is dat ze met zijn allen weigeren een generatie te vormen. Het is mijns inziens het begrip ‘generatie’ zelf dat in deze titel geproblematiseerd wordt.”
En waarskynlik is dit die voorlaaste sin hierbo, “(d)e gemeenschappelijke karakteristiek die deze dichters verbindt, is dat ze met zijn allen weigeren een generatie te vormen”, wat ook die problematiek van ons eie groepie tagtigers onderstreep, aangesien hulle hulself ook nog nooit as “groep” beskou of aangebied het nie, en na alle waarskynlikheid as gevolg daarvan ook nie juis prominent in ons eie literêre geskiedskrywing gereflekteer word nie.
Nietemin, ter wille van volledigheid: Yves T’Sjoen se De tegenstrijdige generatie staan tans natuurlik ook in die spervuur vanweë die name wat volgens se benadering wél kwalifiseer, maar nogtans onbreek; digters soos Gerrit Komrij (gebore 1944, debuteer 1968) en Rob Schouten (gebore 1954, debuteer 1978) word veral voorgehou as beduidende afwesiges.
Vir ‘n omvattende bespreking en beskouing van die digters wat hierin opgeneem is, kan jy gerus Chrétien Breukers se artikel gaan lees. As leestoegif plaas ek graag Luuk Gruwez se gedig “God skryf ‘n brief“, soos dit deur Hennie van Coller in Afrikaans vertaal is, hieronder.
***
Sedert gister het Marlies Taljard ‘n gedig van haar eie geplaas, terwyl Andries Bezuidenhout ‘n stuk oor Paul Celan en sy ikoniese gedig Todesfuge gelewer het.
Hê pret daarmee.
Mooi bly.
LE
God skryf ‘n brief
Ek het dit nie gedoen nie. Dit was iemand anders.
Ek was toe net besig met die miervreter, kopererts,
en al die visse
in die Atlantiese oseaan.
Dit was tog sekerlik nie ek nie.
Ek was nie daar nie, watter dag!
Pas het ek Saturnus en Uranus se mane klaar,
of sowaar, ek moes tyd en taal versin
en titels vir die meeste van my handewerk.
Ek was pootuit, vind nêrens rus,
want slaap was nog nie geskape nie.
My oeuvre het in omvang toegeneem.
Veral die vrou het vreeslik sorg geverg.
Sy moes nog skouers kry en ‘n kapsel,
verliefdheid, mymeringe, moederskap.
En erogene sones waarvan ek weinig weet.
Ek het geen tyd gehad, watter dag!
Daar’s van my verwag deur hulle wat toe nog nie was
dat daar ‘n oerknal sou wees in die heelal.
En dan die regte volgorde, ja dit veral:
die proefbuisbaba en die tandestokkie,
die boorplatform en ook ekself.
Eintlik wou ek net sê, liewe vriend:
dit was beslis iemand van ‘n ander oorde,
‘n konkurrent met meer talent,
wat iets so salig en sagaardigs
geskep het soos die dood.
© Luuk Gruwez (vertaling: HP van Coller, Bandelose gedigte, 2007: Praag Uitgewers)