Wenners van die Plekgedig-kompetisie!

Wenners : Plekgedig-kompetisie

Baie geluk aan hierdie drie wenners!

 

EERSTE PRYS (R1500):  Solet Scheeres. “Om af te tree op Bela-Bela”

TWEEDE PRYS (R1000):  René Bohnen.  “Nieu-Bethesda 2020”

DERDE PRYS (R500)  :  Carina Stander.  “Volmaan, Nature’s Valley”

Met dank en waardering aan Cordis Trust  vir hulle steun, maak ons graag die bogenoemde wenners bekend. Die beoordelaars vir hierdie  kompetisie was drs. HJ (Henning) Pieterse, Zandra Bezuidenhout en Amanda Lourens wat onafhanklik van mekaar die gedigte (anoniem) beoordeel en hulle keuses gemaak het.  Dat twee van die keurders die vernuftige en ontroerende gedig Om af te tree op Bela-Bela as eerste plek gekies het, het nogal verras. D.m.v. ʼn puntestelsel is die wenners uiteindelik gekies.  Die name van die 15 finaliste word dan nou vir die eerste keer bygevoeg na ontvangs van kommentare deur die beoordelaars.

Ons het Solet Scheeres gevra wie sy is en waar vandaan …. Haar antwoord: “Ek woon nou al 10 jaar in Nederland, Brabant om presies te wees, met my man en drie kinders. Ek het in my vorige lewe by die SABC gewerk as regisseur. Op die oomblik skryf ek aan ‘n jeugreeks, die Glam-divas. Verder fassineer die kortverhaalkuns my en my eerste gepubliseerde kortverhaal was vir “As almal ver is” wat Danie Marais saamgestel het. Ek skryf gedigte vandat ek kan onthou, maar ek het nog nooit gedink dat dit goed genoeg is nie…”

Weereens is die oorspronklikheid en krag van ons digkuns in sy verskeidenheid gedemonstreer. Nie net was die keuse van ‘n dorp, stad of nedersetting verrassend uiteenlopend nie, maar die poëtiese aanbod van meeste van hierdie gedigte was opwindend en beeldend. Ons hoop dat hierdie kompetisie ook ‘n leerproses vir die Afrikaanse digkuns sal wees en vir dié wat hulle graag met die woord besig hou.  – Red. Versindaba.

 *

                   

HJ (Henning) Pieterse: Daar is ‘n hele paar uitstekende gedigte voorgelê vir die plekgedig-kompetise en hierdie keurder het gesukkel om die drie bestes te kies.”

Amanda Lourens: “Die Afrikaanse poësie is ’n tradisie waarin gedigte oor bepaalde plekke, en daarby inbegrepe, die subjek se interaksie met bepaalde ruimtes, sterk posisies beklee. Oor die redes hiervoor kan sekerlik wyd gespekuleer word, met die Afrikaner se bewustheid van en verknogtheid aan grond of ruimte waarskynlik een daarvan.  Plekgedigte kan uiteenlopende gedaantes aanneem, en dit sou onwys wees om die plekgedig as ’n homogene kategorie te probeer tipeer.  Eerder gee die plekgedig as “gedigsoort” vergestalting aan ’n verskeidenheid van interpretasies van ruimte.  Sommige plekgedigte fokus op die fisiese eienskappe van die bepaalde ruimte, terwyl ander weer die verhouding tussen die ervarende subjek en die ruimte beklemtoon, soos in gedigte oor plekke van herkoms gesien kan word.  Ander plekgedigte fokus weer op die sosiale inhoud waarmee ruimte gevul kan word, en betrek aktuele kwessies soos klas en identiteit.  Alhoewel hierdie uiteenlopende vergestaltings die beoordeling van plekgedigte besonder moeilik maak, was die een deurlopende kriterium tog om die integriteit van ’n gegewe gedig te probeer peil: Hoe eg of oortuigend is die beskrywing, die herinnering of uitbeelding van die sosiale ruimte?  Die keuse van bepaalde gedigte as “wengedigte” was wel besonder moeilik – enersyds vanweë die uiteenlopende aard van die gedigte, maar andersyds omdat die gedigte op die kortlys almal van hoogstaande gehalte was.”

Zandra Bezuidenhout:  “Die aanwys van wenners uit die 15 finaliste was vir my moeilik, vanweë die meriete wat elkeen van hulle besit.”

 

Kommentare deur die drie beoordelaars:

 

Eerste Prys

 

Plekgedig 17: Solet Scheeres. “Om af te tree op Bela-Bela”

  1.  “Hierdie gedig is volgens my ’n waardige wenner, juis deur die vernuftige vertelstruktuur waarin die dorp Bela-Bela as sosiale ruimte verken word.  Ten spyte van die bedrieglike eenvoud daarvan, gee die gedig blyke van ’n vaardige woordkunstenaar wat onder die dekmantel van ’n sekondêre vertelling (“sê my ma”, “sê my pa”) te werk gaan om diepgewortelde veronderstellings subtiel aan die kaak te stel en te ondermyn.  Die fisiese ruimte word die raam waarbinne kwessies van ras en klas aan die orde gestel word. Die gedig is noukeurig opgebou: dit bestaan uit vyf strofes van vyf reëls elk, met die brokkie oorvertelde inhoud telkens as fokus. Die sorgvuldige konstruksie van die gedig blyk by nadere ondersoek ook uit die aanvangswoorde van byvoorbeeld strofe 1-3: “Vandat” (strofe 1 en 2) en “[h]ierdie lente” waaruit dit duidelik blyk dat die teenstelling van die verlede en hede ook ’n kode tot die ontsluiting van die gedig is.” 
  2. “Om af te tree op Bela-Bela”: Die subtiele aanwending van ironie gee aan hierdie gedig sy buitengewone slaankrag.  Deur die refreinmatige “sê my ma” en “sê my pa” skep die digter op ’n gemaak onskuldige manier twee sprekers wat oor die “toe” en “nou” van die dorp berig.  Dis eintlik ’n drama in die kleine wat hier afspeel: wit mense van die ouer geslag se omgaan met ’n nuwe bestel word ontmasker, want swart mense en kleurlinge bly vir hulle steeds “die ander”. Die ek-spreker speel ’n spel met gesigspunte, en deur die vernuftige seleksie van (kleurvolle!) feitelike gegewens en ’n empatiese stelwyse word die sosiale kommentaar verhul, maar nie versag nie. Die hele gedig is opgebou rondom kontraswerking en omkering ten opsigte van tyd,  lewensuitkyk, die naam van die dorp en selfs  dié van ’n boomsoort, asook die posisie van die onderskeie rassegroepe. Die keuse van die gedigtitel is vindingryk en skep afwagting wat voortreflik gerealiseer word.  Die slotreëls sê alles: die afgetredenes se ingenomenheid met en selfs verwondering aan die “kleurlingkelner/ wat vir jou die tafelgebed in Afrikaans doen” verraai tegelyk ’n verknogtheid aan die oue en ’n uitreik na die nuwe. Daar is ’n fyn balans tussen erns en humor, aanklag en begrip. Die tema kon beswaarlik meer aktueel wees, en die begrip “plek” word vindingryk ontgin. Die hele gedig verkry ’n eksemplariese werking deurdat dit met enige wysigings in die teks op al die dorpe in die land van toepassing sou kon wees. Die poëtiese uitvoering is vernuftig en eietyds: die narratief maak ’n spontane en ongekunstelde indruk en dien as ’n voorbeeld van hoe versdissipline en die vryeversvorm versoen kan word. ’n Ongeforseerde, ontluisterende en oorspronklike gedig; tersaaklik, toeganklik en met ’n hoë graad van tegniese bekwaamheid  uitgevoer. Die digter trap ook nie in die slaggat om ’n vergange beeld van die dorp uitsluitlik met nostalgie te benader nie; daar is trouens ’n poging om idealisering met nugterheid te temper, wat ’n besondere element van patos in die gedig indra. Dit maak die gedig sterk en ontroerend.”
  3.  “Om af te tree op Bela-Bela” is ‘n gedig met uitstekende ironiese spel met die spanning tussen fragmente van die ou en die realiteite van die nuwe Suid-Afrika.”

 

 

Tweede Prys

 

Plekgedig 24: René Bohnen.  “Nieu-Bethesda 2020”

  1. “Nieu-Bethesda 2020”: “Hierdie gedig val op nie slegs vanweë die baie relevante gegewe van fracking waarmee gewerk word nie, maar deur die verbinding daarvan met die welbekende Helen Martins-interteks. Alhoewel laasgenoemde dalk as ’n cliché gereken kan word, lê die verrassende van die gedig in die skakeling van gaseksplorasie en die werk van Martins, met laasgenoemde hier as die slagoffer van die mens se vernielsug in sy soeke na nuwe hulpbronne.  Die toonaard van die gedig is dan ook uniek deurdat die ironiese trant deur ’n besondere visuele sensitiwiteit gekenmerk word, wat ook daarvoor sorg dat die gedig nooit ’n overstatement word nie.  Voorts gee die gedig blyke van besondere vaardighede wat die konstruksie van die reëls en strofes betref, met veral ’n uitbuiting van die moontlikhede van enjambement.”
  2. “Dit is ’n slim skuif om die gekose plek in die toekoms te projekteer , en ’n trefseker manier om “plek” en “aktualiteit” te verbind, veral waar die toekoms van die Karoo deur die kontroversiële fracking bedreig word. Die gedig val dus tematies ook binne die ekokritiek, waardeur dit ’n besondere geldigheid verkry. Die gedig is tegelyk realisties, hartroerend en skokkend –’n groteske aanklag by implikasie. Die uitbuiting van klankwaardes is ’n gepaste tegniek waar dit hier gaan om die versteuring van harmonie in die natuur, en by name deur ’n boorproses. Die berekende klanknabootsende “ratatat-tat” word op sigself ’n eiesoortige indringertaal en vorm so ’n funksionele onderdeel van die teks. Die beelde is oorrompelend: ewig dreunende bore en druisende tenkwaens op die dubbellaanpad – ’n skrikwekkende visioen van industrialisasie en die skreiende teenpool van ’n rustige, onverstoorde oer-Karoo. Die refrein: “oor fracking in die Oos-Karoo” is knap gekies; dit verleen ’n ritmiese, lirese waarde aan die gedig, ten spyte van die inherente paradoks. Ewe treffend is die versinnebeelding van weerloosheid in die klipmeermin se uitgestrekte handjies wat vergaan in die suurreën, asook die tolbos se tuimelende orakels en Moederaarde se ondergrondse hoes – alhoewel die laasgenoemde twee beelde gevaarlik na aan effekbejag beweeg, soos ook die binnerym van “protesplakkate” en “magnate”, gevolg deur die allitererende “krippe en kamele” en “glip ’n gladde”. Daar is net ’n fraksie te veel bedagte tegniek wat die geheel bederf. Die eenvoudiger en onopgesmukte “die lug is maalglas” is vir my meer oortuigend – en hoe knap is die klankspel tussen “maalglas” en die naam van Koos Malgas nie. Ook treffend is die stel van natuurgegewens (“watertafel”, “dragtige ooie”en ’n “tweekopakkedis”) naas die artefakte in die beeldetuin wat deur Malgas en Helen Martins gemaak is, en natuurlik ook naas die potensieel vernietigende nywerheidsingryp. Die slotstrofe is ’n pragtige afronding van die gedig: dit kombineer ’n omgewingspesifieke naam en baken in die gebied (Kompasberg) met die misterie van natuur wat, ongeag alles, steeds haar loop neem. Die stelwyse van die eindreël is so beeldskoon dat mens dit nie buite konteks wil aanhaal nie.”
  3. “Nieu-Bethesda 2020” gee fyn ekologiese kommentaar met slim gebruik van ‘n refrein”.

 

 

Derde Prys

 

Plekgedig 34: Carina Stander. “Volmaan, Nature’s Valley”

  1. “ “Volmaan, Nature’s Valley” werk met fyn sensualiteit en mooi beelde, vgl. “vanaand sal die strandmeer/aangevuur deur die maan/weer in vlamme opgaan”.  Die sterk visuele inslag is treffend. Natuur en mens word vernuftig omvou en verweef in die vers en daar is ‘n sirkelgang wat op verskeie vlakke voltooi word en die vers pragtig bind.” 
  2. “ “Volmaan, Nature’s Valley”: ’n Besondere vergestaling van atmosfeer, tesame met ’n bewussyn van argetipiese inhoude wat onder die oppervlak van die ruimte sluimer. Goeie gebruik van ritme en klank; die eenvoudige slot is treffend.”

 

                                                                                                             *

Eervolle vermelding

(nie in enige volgorde nie)

 

Plekgedig 38: Jeanne Fourie. “op Randfontein” :

  1. “Die gedig se wins lê daarin dat dit ’n veelvlakkige verkenning van die dorp aanbied, tesame met uiters relevante kritiek teen die mens se mishandeling van die aarde in sy soeke na hulpbronne. Die kontras van die land se ekonomiese welvaart teenoor ellende van die enkeling kom besonder sterk na vore, sodat daar ’n beeld geskep word van die landskap sowel as die individu as die slagoffer van die mynbedryf. Identiteit en die besinning oor identiteit staan deurgaans sentraal, soos blyk uit die eerste strofe waarin die sosiale ruimte se amorfe aard ter sprake kom: “nog vis nog vlees / nog stad nog dorp / nog platteland nog plot nog plaas / nog informal watsenaam”. Die gedig bied uiteindelik ’n diepgaande verkenning van ’n fisiese en sosiale ruimte waarin die individu in diens van ’n ekonomiese stelsel uiteindelik getuie is van die uitwissing van ’n eens deernisvolle sosiale wêreld.”
  2. “ “op Randfontein”:  Dalk is die ooreenkoms toevallig, maar ek vermoed ’n knap sinspeling op Pikkedel se vroeë Afrikaanse gedig “Op Hartebeesfontyn” (sic) waar alles so uitgesproke landelik was, terwyl Randfontein in die woorde van die eietydse digter “nog plot nog plaas” is”. Mooi kontras, bedoeld of onbedoeld. Ek hou ook van die lakonieke toon en die ironiese blik in hierdie gedig, maar dit raak te lank en uitgesponne om enduit te boei.”
  3. “ “op Randfontein” : Hierdie gedig word ontsier deur te veel enumerasie, maar ‘n dorp wat “vis nog vlees” is en “amper iets” word goed voorgestel deur die stromende gang van die gedig; die strofe “goud in die grond/geen brood op die tafel …” is goed.”

 

Plekgedig 30:  Joan Hambidge. “Standerton”:

  1. “  “Standerton”:  Die gestroopte trant en woordekonomie beïndruk; die aard van herinnering word ook subtiel in die laaste twee strofes ondersoek.  Goeie visuele beeld waarmee die gedig afsluit.”   
  2. “ “Standerton” roep ‘n dorp en sy geskiedenis op gestroopte, dog liriese wyse op. Nieteenstaande politieke spanninge word inherente stilte en skoonheid netjies verbeeld. Die slotbeeld is veral goed en open ‘n nuwe raam op die gegewe.”

 

Plekgedig 11:  De Waal Venter. “’n  Man in Johannesburg”:

  1. “ ’n Verdienstelike verkenning van die kwessies van verskuiwende en meervoudige identiteit soos dit met ruimte verband hou. Die realistiese en onopgesmukte styl van die vertelling ondersteun die outentieke aard daarvan.”
  2. “’n Man in Johannesburg”: “Die digter konstrueer sy vers deur middel van drie opeenvolgende scenario’s. Op ’n oorspronklike wyse word manlike figure gebruik (elk binne ’n eie tydsgewrig) om ’n stad sosiologies verskillend in te kleur en die konteks totaal te verander. Die krag van die gedig lê enersyds in die skerp waarnemings waarmee teenstellende leefwêrelde en eras geskets word, maar die gedig verky ook ’n filosofiese diepgang danksy die geïmpliseerde vraag oor wat dit behels om ’n Suid-Afrikaanse burger te wees – voor en ná die apartheidsera – en daarmee saam word die verglydende betekenis van “plek” aan die orde gestel. Die kensketsing van konkrete situasies lei na ’n veelseggende en onverwagse slot, en die kunsgreep lê daarin dat die leser tog stelselmatig daarop voorberei word. Die stadsfeer word lewensgetrou herskep, wat aan die gedig ’n filmiese karakter gee. Die beklemtoning van Eloffstraat as stadsbaken vestig dit as die lewensaar of spil waarom die gedig draai. Die digter hou sy styl doelbewus saaklik en onbetrokke om die gegewe vir sigself te laat spreek. Weereens is dit ’n dubbelvisie wat die gedig so suksesvol en relevant maak. Daar is geslaagde beelde, soos in die slotstrofe waar “die stad … stadig besig [is] om nuwe klere aan te trek”, met die raak detail wat daarmee saamgaan. Ondanks ’n merkbare aanvoeling vir die poëtiese (“Sy passasiers gesels gedemp/ in Setswana”), kan daar nog etlike klein tegniese verstellings aan die versaanbod gemaak word, sonder dat die digter se eie stem in die slag bly.”
  3. “Die slotstrofe is veral sterk.”

 

Plekgedig 52:  Marie Bredenkamp. “Calvinia”:

  1. “Ook ’n vermelding vir die knap struktuur en fyn gebruik van woorde om die streek se eiesoortighede (onder meer fauna, flora, kos) te verbeeld.” 
  2. “ ’n Sensitiewe en evokerende vers, met ’n goeie aantal tipiese en goed verwoorde verwysings om die eiesoortigheid van en verbondenheid aan die betrokke plek te beklemtoon. Die vers staan meer in die teken van die nostalgie en die tradisionele verromantisering van ’n bepaalde plek, maar het nietemin ’n redelike vars aanslag.”
  3. “Die slotstrofe is pragtig.”

 

Plekgedig 22: Andries Bezuidenhout. “Johannesburg, Witwaterwyser”.:

  1. “Knap jukstaponering tussen die ongerepte, inheemse en die gekoloniseerde “plekke” met behulp van ’n vaardige   naamspel (met inbegrip van die musiek van name). Dit word egter so ver gevoer dat die verrassingselement verwater. Daar is nogtans goeie vormbeheer en ’n raak beklemtoning van spraakverskille deur die digterlike verwysing na “gorrel, lip en tong, om oerwoorde te vorm”.”   
  2.  “ “Johannesburg, Witwaterwyser” omvat ‘n hele streek by wyse van plekname (telkens met ‘n watermotief), sonder dat dit hinder as enumerasie. Daar is deurtentyd slim inspelings op Wilma Stockenström se poësie en die kontras en spanning tussen besoedelde mynwater en die ongerepte Karoo- en Noord-Kaap-natuur/-landskappe werk baie goed. Die wrang slotstrofe bind hierdie gedig uitstekend.”

 

Plekgedig 47: Johannes van Loggerenberg. “Herinnering aan Port Elizabeth”.:

  1. “Dit is ’n slim idee om die gedig aanvanklik binne ’n Nederlandse milieu te plaas en dan deur assosiasie na Port Elizabeth te spring. Die vers steek dalk te veel vas in die blote opnoem van name en dinge, maar oortuig tog met fyn waarnemings en ’n mooi slot.”
  2. “ “Herinnering aan Port Elizabeth”:  daar is ‘n paar sterk beelde en die personifikasie in strofe 5 is goed.”

 

*

Pryswenners se gedigte (asook dié vir ‘eervolle vermelding’ ) sal later opgeneem word by die Gedigteblog  

Om al die ander gedigte te lees en die digters se name wat ingeskryf is, gaan na :  

https://versindaba.co.za/category/kompetisie-blog/

 

 Met spesiale dank aan die deelnemers, die beoordelaars en Cordis Trust! (mj- webmeester)

 

Bookmark and Share

4 Kommentare op “Wenners van die Plekgedig-kompetisie!”

  1. Baie dankie aan Cordis Trust en die beoordelaars wat klaarblyklik hulle werk goed gedoen het. Mens kan sien hulle het die gedigte deeglik bekyk en daaroor besin. Dit is nie maklike werk nie!

  2. Lieze Stassen :

    Baie, baie geluk! So tros op julle Rene & Marie. Ook ‘n groot handskud vir al die wenners en vermeldes.

  3. René Bohnen :

    Lieze Stassen, baie dankie dat jy áltyd my werk lees.

  4. marie bredenkamp :

    Ek betuig ook graag my dank aan Versindaba en Cordis Trust vir hierdie wonderlike geleentheid om te kon deelneem aan ‘n “oop” kompetisie. Ek het ongelooflik baie geleer net deur die lees van al die inskrywings, en neem met respek kennis van die beoordelaars se kommentaarlewering – op sigself ‘n waardevolle stukkie “klasdraf”! Baie dankie!

  •