Gedigte

Hein Viljoen. Politiek van die pens / Politics of the belly

Monday, May 25th, 2020

 

Politiek van die pens

Opgedra aan al die ANC-kaders
wat kospakkies vir die armes misbruik

 

die ou teef is rond en vet en al swaai-swaai

haar tette al amper op die grond

sal sy, as genoeg heuning van jou tong afdruip,

jou dalk laat saamsuip aan haar ou hondepens

 

Opmerking: Die Amerikaners noem dit pork-barrel politics, wat ek misgelees het as pork-belly politics, oftewel hondepenspolitiek

 

Politics of the belly

Dedicated to all ANC cadres who misuse
food parcels meant for the poor

 

though the old bitch is round and fat and her paps

swing just above the ground

she will, if enough honey drips from your tongue,

perhaps also let you suck from her swollen belly

 

© Hein Viljoen, 2020

 

Hennie Nortje. Bleshoenders

Friday, May 22nd, 2020

 

Die bleshoenders sleep

steeds slykgrasse aan.

Sagte groenigheid

om nes mee te maak.

Sodat die suidewind

vir altyd hierna,

‘n gefladder

en geplas

oor hierdie waters

aan kan dra.

 

Oupagrootjie

het destyds

‘n keerwal hier

oor die spruit

laat gooi.

Oupa en Pa

het sy bousel agterna

herhaaldelik verhoog;

oor die jare

slik uit bly bagger,

sodat ons lei-vore

die oewers al wyer

kon vergroen.

 

Drie geslagte se bleskoppe

rus reeds in die koeltes

onder die damwal.

Ons en die watervoëls

bly die oumense

immer dankbaar.

 

© Hennie Nortje, 2020

 

Johann van der Walt. Waarheen hardloop die ure?

Thursday, May 21st, 2020

 

nou klop die verouderde skat weer agter my ribbekas

my jeug joviaal besprinkel met somergoud

hoeveel bome het ons nie onder sool gehad nie?

ingesluk en verbloem teen die wêreld van grootmense

die vrystaat en sy bome was self destyds nog maar net kind

ons het beloftes teen mekaar se verhemelte in tongskrif uitgekerf

‘n geur so sondeloos en sonder roes uit mekaar onttrek

argeloos het ons bly vashou aan kreunende boomkloue

ten spyte van die skielike inval van skemer

die hemel wat sy donkerure kwistig oor ons kom uitsmyt

so verlaat die son ons dorp om sy skoene op die horison te loop uittrek

maar almal weet seisoene kom en gaan

beendere verweer nóú selfs met die oggendson

die klop in my bors verstadig

die skat onwillekeurig verlos van sy gloed

saamgepers in my palm lê sterwend

‘n verbrokkelende winterboom

die ruggraat van ons kinderdrome in flarde

ons gekloutery en gelag klaar ontbind

die jare sluip nader gedrapeer in skaduwee

blare lê opgekrummel en verteer

vader tyd vat nie kak van ‘n mens nie

gestroopte sentiment is sy gunsteling dis

leser lag terwyl die noodlot dit vermag

bewapen jouself deeglik

hardloop die afsnytyd vooruit

steel herinneringe uit elke boom

en gryp die laaste bietjie hitte wat die dag uitspoeg

draai sy goud soos ‘n lint om die ure van jou lyf

voor die koue nag jou finaal kom afsluk

 

© Johann van der Walt, 2020

 

Hannes Visser. Covid-son 18 April

Monday, May 18th, 2020

 

 

 

 

die herfsson het vanoggend vroeg

met minagting van die inperking

deur die voordeurskreef gebars

en vierkanthelder op die sitkamerdeur

(wat deesdae altyd toe is)

die somberheid van jou afwesigheid

kom besweer

 

© Hannes Visser, 2020

 

Francois de Jongh. Huis Utopia

Monday, May 18th, 2020

 

 

‘n Sonnet

 

mees weerloos

drakonies  ingeperkte

geblikte bejaarde

kwesbaar argeloos

kwarentynvoos

verpak met etikette

gekluister op rakke

of iewers ingedoos

sonder parool

 

buite is dit sonskyn

maar hierbinne is dit koud

agter  knieë sonder venyn

ingedwing vroeg veroud

en sommer so versorg verloor

 

© Francois de Jongh, 2020

 

Breyten Breytenbach. Vir Versindaba

Saturday, May 16th, 2020

 

Daar is so baie mense – te veel – wie mens nooit sal leer ken om ‘n mondjievol woorde mee te wissel nie ; daar is so baie digters, ook oor die eeue heen, met wie jy in gedagtes sou wou tree om te ja-maar of ‘n beaming te mompel by die lees van hulle tekssterf, maar hierdie deurgang wat ons ‘lewe’ noem is weinig meer as kortpad-vat en jy kom nie by al die stanings uit nie. Dit word seker ook gerig deur wat jy op ‘n gegewe moment raaksien. Dan is dit nie aan te beveel om vanuit Parys ‘n venster oop te maak op wat ver hiervandaan gebeur nie…

 

My eerste twee aan(d)tekenings as verstekelinge is vir Charl-Pierre Naudé, miskien met die gedagte dat daar tog ‘n Parys in die Vrystaat is (tot vryheid in staat ?), te ver om te loop en te na om te ry ; my derde gesang is vir Gisela Ullyatt. Niemand kan haar na-praat nie.

 

 

die keiser se skaduwee in die hemel

 

Napoléon – op al sy swerftogte

na die ontwykende droom van mag

deur bevryding, oor slagvelde

met ‘n nagwaak se melkweg van lyke bestrooi

in paleise waar in elke kooi ‘n nooi

naak getooi en mooi soos melk wag –

 

het nag vir nag

buite geslaap

hoed op die kop

gestewel en gespoor

slegs in sy groot jas toegerol

 

om oë oop of toe

na Jupiter te staar

asof hy al sedert die begin

dood is

 

*

 

 

sous-entendu : stilskryf

(vir lees tussen die snoere)

 

hoe omvattend daardie woord

soos die keiser se jas

wanneer hy punt in die wind

die melkweg in ‘n idioteboot bevaar

na die eiland van vergaan

 

gryp !

 

die greep vang niks vas

behalwe afwesigheid in die jas

as omwoorde begrip van die nieweesniewers

van nikswordnêrens

 

ook wanneer die melkemmer se geklingel

dood se ryp-word kristal-lig in die skrywe beskrywe

 

dit wil sê

dis nie te sê nie

maar wel te hoor

wanneer ‘n kiel die nat

in die water naat

en smoor

 

om naamlik net wat nié geuiter

of begryp is na te laat

in die keel :

 

dat die uur van die koei

reeds ryp (soos) as is

 

 

*

 

 

aardsengel

 

mens is altyd self

jou eie demoon

om te verskoon

totdat jy opeens onthou

jy is ook jou eie

inwonende verwonde engel

waaraan jy jou moet wend

en na meriete

van verdriet en vreugde

mag behou

of oor kan rou

al is dit ook slegs

met die stil

rietbeweging

se vlerkdans woorde

 

want dit is

soos dit sal wees na behoorte

wanneer al wat voël is

ophou sing in die boord

 

en julle drie

die laaste passies meet –

te wete : engeldemoon,

mens-is-altyd-self,

en skrywe –

 

© Breyten Breytenbach, 2020

 

 

Gisela Ullyatt. Uitgang

Saturday, May 16th, 2020

 

Hospitaal, eensame doolhof / êrens val lig in blokke

steriel die vloere / my hart klop elektries, iewers

naalde en bloedsusters. Ongesiens glip ek deur

vlakke van nabyheid en afstand / ongekend.

 

Môre /  ’n dagreis ver en geruisloos soos wit

komberse. Moederowerste, agter poorte lê

pêrels en die vaak / jou kruise besweer niks

én alles / jou bidkrale klik stom.

 

Vader van pyn / jou vleishakies soos ’n Bacon-

skildery / Francis Francis, jou screaming pope

kasty en betig met vuur / maar ligjare verwyderd

van vlees reis ek over the rainbow

 

© Gisela Ullyatt, 2020

 

 

Hannes Visser. Covid-internering

Tuesday, May 12th, 2020

 

‘n verweerde bank en ‘n lazyboy voor ‘n telefunken-televisiestel

en tretchikoff se green lady  langs ‘n verbleikte slag van bloedrivier

‘n enkelbed en eendeurkas agter ‘n gordyn in die hoek

 

‘n vergeelde ketel, ‘n tweeplaatstoof en ‘n stil yskas

drup ‘n  waterspoor oor deurgetrapte bruin linoleum

‘n bottel handy andy en ‘n bloublokkievadoek op ‘n rak

 

‘n tandeborsel, ‘n waslap en skyfie lifebuoy-seep

twee skeefgetrapte pantoffels en ‘n deurgewaste japon

‘n bad met koue water en

Dood

se stilte

 

© Hannes Visser, 2020

 

  •