Posts Tagged ‘Johann de Lange’

Resensie: I wish I’d said … Vol. 3 (Johann de Lange & Goodenough Mashego Reds.)

Thursday, September 24th, 2020

 

I Wish I’d Said… Vol. 3 deur Johann de Lange & Goodenough Mashego (Reds.) Naledi, 2020.

Resensie: Dewald Koen

 

I

In 1969 verskyn die Switsers gebore psigiater Elisabeth Kübler-Ross se wêreldbekende boek On Death and Dying waarin sy haar teorie oor die vyf stadia van verdriet uiteensit. Die Kübler-Ross model omskryf die vyf stadia van verdriet soos volg: Ontkenning, Woede, Bedinging, Depressie en Aanvaarding. Gedurende die afgelope tien maande is mense regoor die wêreld as gevolg van die Koronavirus gedwing om bestekopname te neem van die wêreld waarin ons woon en die mense met wie ons ons lewe deel. Honderdduisende mense vanoor verskeie vastelande het weens die Koronavirus gesterf en gevolglik is talle geliefdes, familielede, vriende, kennisse en kollegas se lewe deur die dood aangeraak. Kübler-Ross se model is ook op talle Suid-Afrikaners van toepassing wat tydens die grendeltyd ’n vorm van verdriet ervaar het. Ten spyte daarvan dat die Skoppensboer ons daagliks agtervolg, het die dood ons gemaksone onverwags betree weens die wêreldwye pandemie.

II

Dit is gevolglik heel gepas om AVBOB se jaarlikse Poetry Project wat vanjaar vir die derde agtereenvolgende jaar aangebied is binne die konteks van die Covid-19 pandemie te bespreek. In sy inleiding tot die bundel I wish I’d said… Vol. 3 verwys die redakteur Johann de Lange na D.J. Opperman se Joernaal van Jorik (1949) waarin die karakter Dabor opmerk: “Ons maak maar almal ’n geraamte groot”.

Die dood ontsien niemand nie. Daagliks moet iemand êrens in die land of wêreld van ’n geliefde afskeid neem. Tydens die rouproses moet elke individu sy of haar verdriet op individuele wyse verwerk ongeag watter stadium van Kübler-Ross se model betree word. Om die gevoel van verlies in woorde om te skakel, is seker een van die mees uitdagende ondernemings. Vir digters is laasgenoemde onderneming des te meer uitdagend vanweë die slaggate van clichés waarin gedigte soos lykdigte kan verval. Gelukkig is die Afrikaanse poësie geseënd met gesoute digters wat op geslaagde wyse oor die dood dig. Digters soos Lina Spies, Petra Müller, Marlise Joubert, Joan Hambidge, Johann de Lange, Daniel Hugo, D.J. Opperman en Breyten Breytenbach (om maar enkeles te noem) het al oor die dood gedig. Dit was immers Breyten Breytenbach wat tydens een van die Tuin van Digters-feeste op Wellington opgemerk het dat “’n mens natuurlik eers seker [kan] wees dat jy regtig dood is wanneer Joan Hambidge ’n lykdig oor jou geskryf het”. AVBOB se Hoof Uitvoerende Beampte beskou die bundel as “a bereavement resource available to all South Africans, to help them craft funeral pamphlets and write eulogies”. Ek wil egter aanvoer dat hierdie bundel veel meer bevat en ten doel stel as bloot “a bereavement resource […] to help [South Africans] craft funeral pamphlets and write eulogies”.

III

I wish I’d said… Vol. 3 kan (soos in die geval van die vorige twee volumes) beskou word as ’n versameling elegiese verse wat Suid-Afrika se rykdom aan tale weerspieël. Hierdie projek is sekerlik een van die innoverendste pogings om nasiebou en versoening te bevorder deur middel van taaldiversiteit. In ’n land waar taal ’n sensitiewe onderwerp is en maklik onmin tussen verskillende taal- en/of rasgroeperings teweeg kan bring, slaag I wish I’d said… Vol. 3 daarin om Suid-Afrikaners uit die elf amptelike taalgroepe byeen te bring deur een van die mees menslikste aspekte wat almal affekteer aan te raak, naamlik die dood. Die bundel bevat verse deur ’n aantal gevestigde digters uit die elf amptelike taalgroepe asook die drie wengedigte in elke taalkategorie. Die bundel word vir alle Suid-Afrikaners toeganklik gemaak deur die vertaling van die gedigte in Engels. Deur Engels as lingua franca te gebruik, kan verskillende taalgroepe mekaar se elegiese verse waardeer en kulturele praktyke ten opsigte van die dood bestudeer.

’n Toevoeging tot vanjaar se bundel is gedigte wat in ǀXam geskryf is. Wat ’n fantastiese inisiatief om die taal wat amper uitgesterf het, te bevorder. Met Erfenisdag wat op 24 September gevier word bied I wish I’d said… Vol. 3 ’n mikrokosmos van ons diversiteit in bundelformaat aan.

IV

Vanjaar se Afrikaanse opdragverse is so divers in invalshoeke oor die dood as die bundel self. Andries Bezuidenhout, Charl-Pierre Naudé, Corné Coetzee, Loftus Marais, Marlise Joubert en Ronelda Kamfer het gedigte bygedra. As redakteur van die Afrikaanse afdeling verdien Daniel Hugo ’n pluimpie vir die keuse van laasgenoemde digters wie se verse van uitsonderlike digvernuf getuig.

In sy gedig “Lasciare suonare” gee Andries Bezuidenhout lewe aan musiek. Die polsende ritme word met elke versreël gevoel en skep ’n kakofonie van klank waaroor Abdullah Ibrahim liries sal raak. Die treffende vers lees as biografiese skets van Ibrahim se lewe en dien terselfdertyd as huldeblyk aan ’n groot gees.

 

Is hierdie kroeg ’n katedraal? Mout, umqombothi, vaaljaapdop

op systap van tromboon en trompet, saksofoon ’n kraai,

’n meeu, soms lewerik. Die riff, die rip, die run,

o, die klawers, die klawers, die klawers, man!

die stride, die stroll, die scat, Jitterbug hop, Charleston skop

blitsige jazzbriewe, bebop epistels vir hulle in tavernes

op vlaktes, in doodskadudalle, in optogte –

[…]

Eendag, maestro van stilte, sal u vir oulaas

tot buiging kom? Sal u hande ’n bede, ’n mantra palm

om die gevolg uiteindelik tot stoet op te roep?

 

Charl-Pierre Naudé se “Leukerbad in Julie” neem die leser op reis na die sprokiesagtige suide van Switserland waar toeriste hulself aan die natuurskoon kan vergaap. Die gedig neem ’n gewyde toon aan waarin die spreker die toeristebestemming met pragtige beeldspraak beskryf: “En verblindend is die pieke / wat swewend hang / soos wit heksehoede bo die pikswart windstil nag”. In “Wanneer” sluit Corné Coetzee by Naudé aan deur die natuur as tema te betrek. Coetzee se gedig kan vanuit ’n ekokritiese oogpunt gelees word waarin sy krities staan oor die verhouding tussen die natuur en die antroposeen. Sy fokus op die dood van die natuur – die mens, dier en plant se natuurlike habitat wat weens aardverwarming en besoedeling teen onrusbarende tempo uitgewis word.

 

Wanneer hulle weg is,

die ongeliefdes en die onliefhêbares,

die vaartbelyndes en die tonnelgrawers,

die hoogtrappers en die laagvliegers,

die sonsingers en dié wat in die maanlig werk,

wanneer alles wat hulle s’n was

platgestoot en omgedelf

en hulle verhonger, verdryf, vergif is,

 

dan sal ons hulle gedenk:

Onthou jy die vuurvliegies daardie een Oujaarsaand?

Onthou jy die naaldekokers?

Onthou jy die skerpioen in die speelgoedkis?

Onthou jy bye op ’n stil someroggend?

Onthou jy die ferweelwurm?

Om hemelsnaam, onthou jy die heilige skarabee?

 

En dan – sou ons nog lewe –

Sou kinders ons vra: Hoe dan so? Waddefok?

 

Coetzee slaag daarin om sonder blik of bloos die mens se onreg teenoor die natuur te verwoord. Klinkklare beelde en die gebruik van herhaling beklemtoon die boodskap wat die spreker aan die leser wil oordra.

Ronelda S Kamfer se gedig “Lykskouing” fokus op die geliefdes wat na die afsterwe van ’n dogter en vriendin op onnatuurlike wyse probeer sin maak van hul verlies. In ’n land waar geweld asook geweld teenoor vroue en kinders die norm geword het, gee Kamfer ’n spreekwoordelike stem aan die duisende verontregdes wat daagliks slagoffers van geweldmisdaad word.

 

my vriendin se ma kan haar noggie begrawe nie

sy wag vir die lykskouing

sy sê lykskouing die way iemand ’n nuwe woord sê

wat hulle nog nooit gebruik het nie

’n woord wat normal mense nie nodig het om

te gebruik nie

lykskouing stap

in my vriendin se ma se woordeskat in

soos ’n overdressed kerksuster by ’n kind se doop

ek kan sien hoe die woord oor haar smelt

waar sy sit

in die voorhuis

waar my vriendin se soet musky reuk nog

in die furniture vassit

 

Marlise Joubert se “gedagtig aan ma” lewer ’n hartroerende huldeblyk aan ’n moeder. Joubert het in haar bundel Grondwater (2019) ’n soortgelyke huldeblyk aan haar moeder geskryf naamlik “in memoriam: ma didi”. Haar gedig aan haar ma gee gestalte aan die ongelooflike verdriet en verlies wat ’n kind ervaar wanneer hy of sy ’n ouer aan die dood moet afstaan.

 

[…]

nog eenmaal, ten minste, wil ek

by jou graf besoek aflê, ma

die donker omslag in graniet weer

streel, my van jou waarde vergewis

totdat ek helende kan glo dat jou

boek in goeie aardse hande rus

 

Joubert se gedig sluit aan by Hannes Visser se elegiese vers “Vir Piet Visser (21.7.1925 – 19.7.1967)”. Visser het die derde prys in die kompetisie gewen met hierdie vers waarin die spreker op sy verjaarsdag terugdink aan sy geliefde pa. Visser het in 2019 gedebuteer met die bundel Die jaar toe pa… waarin die spreker ’n jaar van sy lewe en die verlies van sy pa met die leser deel. Die gedig “Vir Piet Visser (21.7.1925 – 19.7.1967)” staan sterk as enkelgedig en sluit op gepaste wyse by Visser se debuutbundel aan.

Loftus Marais se satiriese vers “Begrafniskitsch” is egter een van my gunsteling opdragverse. Op tipiese Maraisagtige wyse slaag hy daarin om die “komminwaarkonkreetheid” van die Afrikaner tydens begrafnisdienste met sy literêre lugdrukboor oop te bliksem. Die gedig skep ’n balans tussen die meer somber elegiese verse en die ‘ligter’ humorisitese aspek van die mens se verganklikheid sonder om afbreuk te doen aan die dood as ritueel. (Die leser moet die bundel gaan koop om hierdie gedig te kan lees – dit sal nie teleurstel nie.)

Vanjaar se bundel bevat 102 gedigte waarvan 33 deur die wenners van die onderskeie taalkategorieë asook 66 opdraggedigte in die elf amptelike tale (Die oorblywende drie gedigte verwys na die ǀXam-gedigte). Maretha Maartens het met “Perperboom”  die eerste plek in die Afrikaanse kategorie verower terwyl Marthina Broschk op haar beurt met “Swanesang” die tweede plak beklee. Al die gedigte is deur die digter en bekwame vertaler Douglas Reid Skinner in Engels vertaal.

Soos reeds genoem het Hannes Visser se huldeblyk aan sy ontslape vader die hartsnare geroer, terwyl Maritha Broschk met haar gedig “Swanesang” tragedie, kuns en dood byeengebring het. Broschk se treffende beeldspraak en gebruik van intertekstuele verwysings na Nietzsche en opera dra by tot die geslaagdheid van die gedig. Dwelmverslawing kom tematies aan bod en die stelselmatige agteruitgang van die verslaafde wat “soos ’n kwynende Odette” haar laaste dans dans, sal menige leser ontroer.

Die wengedig is getiteld “Peperboom”. Maretha Maartens bring hiermee, soos in die geval van Marlise Joubert en Hannes Visser, hulde aan ’n geliefde moeder. Maartens maak gebruik van die peperboom as metafoor vir die geliefde moeder. Die spreker beklemtoon egter dat selfs al vergaan die boom soortgelyk aan die afsterwe van ’n geliefde moeder, sal die nageslagte bly voorbestaan uit die spreekwoordelike sade wat die moeder nagelaat het. ’n Peperboom mag dalk afgesaag word, maar ’n moeder se liefde vir haar kinders is lewenslank.

 

“Geil en goed gegroei om só verwoes te word.”

Die lem vibreer deur bas en duramen

en jy, suurstofsoekend voor die venster,

kreun oor die peperboomstam wat grond toe stort.

 

Ma, jy was tog lewenslank lembestand

onknakbaar sterk en doodweerstandig

 – ons lowerryke peperboom

huisboom, groen baken van ons binneland.

 

Ons het ons honger en nood voor jou oopgegooi

en die bessies wat jy strooi soos die sysies

streepkoppies en rooirugsaadvreters opgepik.

Weet jy, Ma, daardie bessies was genesend rooi.

 

“Aan ’n peperboom,” het jy gesê, “kleef daar ’n eenvoudigheid

wat aan saadvretervoëls en koeltesoekers bied wat hulle soek.”

Toe jy gekreun het omdat die stam dwarsdeur sy pithout knak

 – ou huilboom, huisboom in jou gewaande onaansienlikheid –

 

moes ek gesê het: “Die boomsaer dink hy vát jou, Ma,

maar die takke uit jou stam sal jou peperbossies dra.”

V

AVBOB se Poetry Project dien as geskrewe simbool van Suid-Afrika se rykdom aan taal en kultuur. Die aantal inskrywings wat jaarliks groei, dien as bewys dat poësie nie ’n spreekwoordelike sterwende genre is nie. Soos die nasionale boekeredakteur van MEDIA24, Jo Prins, onlangs in sy rubriek Boekevat opgemerk het, het 2020 geen gebrek aan nuwe digpublikasies nie – kritiek ten spyt. Die Afrikaanse letterkunde begin reeds die vrugte pluk van ontluikende digters soos Lynthia Julius wat vanjaar met haar debuutbundel Uit die kroes gedebuteer het nadat sy vroeër ’n wenner van die AVBOB Poetry Project-kompetisie was. Wie weet watter opwindende jong talent nog deur middel van hierdie projek ontgin kan word? I wish I’d said… Vol. 3 is ’n geslaagde en hartroerende bundel. Die elegiese verse is omvangryk in diversiteit en die verstegniese vernuf waarmee digters met ’n onderwerp soos die dood omgaan, is prysenswaardig. Die redakteurs het hul goed van hul taak gekwyt.

 

 

 

Volg die onderstaande skakel om in te skryf vir die 2020-Avbob Poësiekompetisie. Groot kontantpryse kan gewen word:

 

https://www.avbobpoetry.co.za/?gclid=Cj0KCQjwy8f6BRC7ARIsAPIXOjgcXTaM8K11Sp2Zrq7gSws15ib4w4i2bySQ_

AioG2iNlcmBSb0OhiQaAmqpEALw_wcB

 

 

 

 

Nini Bennett. Ligdraers

Thursday, June 4th, 2020

 

 

Of dit gloeiwurms in grotte is … of vonkende plankton wat soos ’n sterrehemel onder die seewaters skyn; of die silwer borduurwerk om ’n vis se romp; of die nederige vuurvlieg met ’n flitsie in sy stert: bioluminesente lewe is verstommend, oeroud, en beskik oor gesofistikeerde sein- en kommunikasiestelsels. Skrikwekkend futuristies.

Die lampie van die Photurus-vuurvliegie is bedek met skubbe wat ’n geriffelde patroon vorm, amper soos dakteëls wat oor mekaar geplaas is. En tog laat dit die lamp byna 50 persent helderder skyn as wat dit die geval sou gewees het as die skubbe plat gelê het. Gepraat van biomimese – of die mens se nabootsing van biologiese verskynsels in die vervaardiging van produkte en tegnologie: hierdie ‘ontwerp’ van die vuurvlieg se lamp word gebruik om ligemissiediodes (LED’s) doeltreffender te maak. Wetenskaplikes het LED’s bedek met ’n geriffelde oppervlak wat soortgelyk is aan dié van die vuurvliegie se lampie. Die gevolg was dat die LED’s tot 55 persent meer lig uitgestraal het. Haas ongelooflik!

Beide Aristoteles en die Romeinse filosoof Pliny het verwys na vermolmde hout wat “’n gloed afgee”. Eers ’n paar eeue later het dié magiese verskynsel, gloeiwurms, ’n naam gekry, naamlik bioluminesensie. Dit verwys na lewende organismes soos marienediere, byvoorbeeld jellievisse, fungi, mikro-organismes, fosfor in ’n seesoom, bakterieë en insekte wat self lig kan vervaardig. By ’n vuurvlieg, byvoorbeeld, dien die ensieme, lusifirien en lusiferasie in die kewer se buik as katalisators wat in die teenwoordigheid van suurstof en water (vog) reageer om lig te vorm.

Lank voor die implementering van veiligheidsligte in myne, het myners bottels vol vuurvlieë gedra om hul omgewing te verlig. Interessant genoeg dien die lampies wat ligdraende organismes dra, min of meer dieselfde doel as by die mens, wat lig kunsmatig moet vervaardig. ’n Bioluminesente organisme straal (of flikker) lig óf as deel van hulle kamoeflering en mimikrie; óf om alarm te maak teen gevaar, byvoorbeeld predatore; óf om te dien as lokmiddel (vir prooi); óf om as deel van reproduksie hulle maats te lok of te herken.

 

 

Bioluminesensie het al menige digter geïnspireer; veral die vuurvlieg word as magiese wese verbeeld. Daar is ook digters wat ’n meer wetenskaplike beskouing rondom hierdie ligdraers verwoord. In “Swanger vrou” skets Jonker die herinnering van ’n betowerende jeug teenoor die ontluistering en onthutsende werklikheid van swangerskap, strofes 3 en 4:

.

Nòg singend vliesrooi ons bloedlied,

ek en my gister,

my gister hang onder my hart,

my kalkoentjie, my wiegende wêreld,

en my hart wat sing soos ‘n besie,

my besie-hart sing soos ‘n besie;

maar riool o riool,

my nageslag lê in die water.

.

Ek speel ek is bly:

kyk wáár spat die vuurvlieg!

die maanskyf, ‘n nat snoet wat beef –

maar met die môre, die hinkende vroedvrou

koulik en grys op die skuiwende heuwels,

stoot ek jou uit deur die kors in die daglig,

o treurende uil, groot uil van die daglig,

los van my skoot maar besmeer

met my trane besmeer

en besmet met verdriet.

.

Ook in Marlise Joubert se vers, “Waterberge”, word die allure van ’n mooi jeugherinnering aan die hand van ’n vuurvlieg verbeeld, strofes 3-4:

.

dis nie ’n taal uit my Boland se berge nie

nog minder ’n taal van die San of ’n kind uit die Karoo

dis ’n anderste wartaal gekruisig in die bloed

wat uit die Waterberge val

’n donker rivier deur jou lyf laat reën

waar die vreemdeling geen weerkaatsing vind

geen afbeelding wat roer

tensy jy die vuur verstaan dat elke vlam

soos ’n witbasblom sy eie musica sacra straal –

.

ek reis soms terug op ’n oggend soos nou

met die Stabat Mater drywend agterna

ek steek gemaklik weer lanterns aan

vlieg geluidloos soos ’n vuurvlieg deur die veld

 

 

In Johann Lodewyk Marais se bundel, In die bloute, word ’n inkvis dubbelduidig en enersyds as Ars poëtikale siening, en andersyds as bioluminesente verskynsel voorgestel:

.

Die inkvis word in die treilnet

van die woord harteloos gevang.

Swyg sou nie onvanpas wees nie:

jou sien en weet bra sonder nut.

Maar met die diefstal van sy ink

bring jy hom meteens aan die lig.

.

Ook Johann de Lange bring in sy bundel, Weerlig van die ongeloof, die intelligente inkvis in verband met taal en die vermoë om te kommunikeer.

.

Die inkvis is ’n geisja

wat ligvoets dans oor koraal,

verwissel vlug kimono’s

in ’n ondersese taal.

.

Ongeag die invalshoek – mities, magies of wetenskaplik – dit is duidelik dat digters die bioluminesente vermoëns van organismes bedig as tipe seintaal of kommunikasie, en ek haal aan uit Cloete se Karnaval en Lent:

.

my insekte kan mekaar van ver roep

in die nag mekaar ruik

mekaar opspoor met feromoon

sonder radio of telefoon

van ver af in die donker

gloei die koue geel lig van vuurvliegies

en gloeiwurms morse vir mekaar . . .

 

 

 Verwysings:

 

https://en.wikipedia.org/wiki/Bioluminescence#:~:text=Bioluminescence%20is%20the%20production%20and,terrestrial%20arthropod%20such%20as%20fireflies.

https://www.jw.org/af/biblioteek/tydskrifte/g201402/lampie-photuris-vuurvliegie/

Cloete, T.T. 2014. Karnaval en Lent. Kaapstad: Tafelberg.

De Lange, J. 2010. Weerlig van die ongeloof. Pretoria: Protea Boekehus.

Jonker, I. 1963. Rook en oker. Johannesburg: Afrikaanse Pers-Boekhandel.

Joubert, M. 2007. Passies en passasies. Pretoria: Protea Boekhuis.

Marais, J.L. 2012. In die bloute. Pretoria: Cordis Trust Publikasies.

 

 

Binnekort op die rakke: Johann de Lange 60 – ‘n Huldiging

Friday, December 27th, 2019

Johann de Lange 60 – ‘n Huldiging (Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns)

Johann de Lange is die enigste digter van sy generasie – die sogenaamde Tagtigers – wat tot dusver met die Hertzogprys bekroon is.

Sy poësie vertoon ’n boeiende paradoks. Enersyds is hy verstegnies ’n besonder vaardige vakman wat tradisionele digvorme met gemak hanteer, andersyds is hy tematies ’n uitdagende vernuwer ten opsigte van die gay-erotiek. Verder is hy ’n meester van die interteks – en dié intertekste behels sowel die Afrikaanse letterkunde as die wêreldliteratuur.

Sy binnenshuise studeer- en stoomkamerverse word in elke bundel, waarvan daar reeds dertien sedert 1982 die lig gesien het, deur pragtige natuurgedigte en huldigingsverse vir geesgenote in die literatuur en kunste aangevul.

De Lange is benewens digter ook die skrywer van twee kortverhaalbundels en ’n dagboek, hy is ’n bloemleser en ’n vertaler. Al die aspekte van hierdie veelsydige skrywer kom in dié bundel – wat by geleentheid van sy 60ste verjaarsdag verskyn – aan die bod.

Die bydraes – akademies, persoonlik en kreatief – getuig van vriendskap en waardering vir ’n woordkunstenaar wat die Afrikaanse letterkunde verryk en verruim het.

Van die gehuldigde verskyn hier vir die eerste keer in boekvorm sy vertaling van Allan Ginsberg se beroemde gedig Howl.  Hierdie vertaling word onder meer bespreek in Tony Ulyatt se bydrae oor Johann de Lange as vertaler.

Hierdie publikasie deel is van ‘n reeks, uitgegee deur die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns, oor Hertzogpryswenners. Johann de Lange het in 2011 die Hertzogprys ontvang vir die digbundel Die algebra van nood.

Daniel Hugo -Redakteur

 

Nini Bennett. Die bloedlyn van ’n taal

Tuesday, November 12th, 2019

 

“There is no language that is superior to another.” Dít was president Cyril Ramaphosa se boodskap aan Suid-Afrikaners op Erfenisdag, 24 September 2019. Die VN het 2019 verklaar as die jaar van die inheemse taal. Die president het ’n skare toegespreek in die Mxolisi Jacobs-stadion in Upington tydens die amptelike vieringe van dié geskiedkundige dag. Aldus Ramaphosa doen die regering alles in sy vermoë om meertaligheid te beskerm – maar verál die inheemse tale van die Noord-Kaap; tale wat kan uitsterf, soos die N|uu-, Nama- en Khwe-tale. Vyf studente gaan van 2020 af opgelei word as Nama-onderwysers aan die Universiteit van Namibië, terwyl die 23 000 openbare skole teen die einde van 2020 almal toegerus sal wees in die onderrig van Afrika-tale. Ons kulturele diversiteit moet verenig onder die kollektiewe waardes van respek, waardigheid en gelykheid, het die president aangevoer. Die taalstryder, Katriena Esau (oftewel Ouma Geelmeid) was teenwoordig tydens hierdie verrigtinge. Esau is die 2014-ontvanger van die Order of the Baobab (silwer) vir haar besondere werk in erfenisbewaring. En dit is die einste Katriena Esau wie se gedig, The bloodline of language (soos vertaal vanuit N|uu), opgeneem is in AVBOB se eerste bundel, I wish I’d said (Redakteurs: Johann de Lange en Mantoa Motinyane). Vervolgens die eerste strofe van hierdie eenvoudige, dog aangrypende gedig, soos dit opgeteken is deur David M.N. van Wyk en vanuit die Afrikaans vertaal is deur Douglas Reid Skinner:

 

I was born into the language

I drank it

I never just heard it

or learned it from someone

I drank it from my mother’s breast

Soon as I got some sense I heard language, N|uu language,

I heard N|uu from my pa and ma and my gran and grandpa,

N|uu we spoke at home

Afrikaans I learned to speak from those farmers

That language, we had a hard time of it with the white people and

that language

But N|uu was the language of the heart

(…)

Katriena Esau is een van vier mense op aarde wat N|uu praat, ’n antieke San-taal wat na beraming 25 000 jaar oud is. Die 86-jarige Esau knyp met haar maandelikse ouderdomspensioen en skenkings geld af om kinders in haar tuisskooltjie te onderrig in N|uu en Nama-gebruike. En Katriena is die volledige argivaris van die N|uu-taal; die enigste lewende digter wat die taal beliggaam.

 

 

In sy ikoniese biografie, Long walk to freedom beskryf Nelson Mandela die vormende invoed van die Xhosa-digter (of imbongi), Krune Mqhayi. Die jong Mandela was in 1937 ’n leerder aan die Wesleyaanse kollege in Healdtown, ’n dorpie naby Fort Beaufort. Toe Mqhayi op ’n dag by die skool opdaag, geklee in ’n tradisionele Xhosa-karos en spies, was die jongman bekommerd oor die skoolhoof, dr. Wellington, se reaksie. Die hoof het koloniale waardes aangehang. Tot Mandela se verbasing het dr. Wellington niks gesê nie; net stilswyend na die digter se politieke relaas oor Afrika-nasionalisme geluister. Die droom dat alle mense in Suid-Afrika kan saamleef en mekaar se kultuurerfenis en diversiteit op kollektiewe wyse kan respekteer, het vir die eerste maal posgevat by die oud-staatman – asook die herinnering aan Mqhayi, wat hy vir jare in die gevangenis, en later tydens sy presidentskap, sou koester. Ook ons voorste digter, Breyten Breytenbach, het tydens sy Mandeladag-lesing aan die Universiteit van Gent aangesluit by die Mandela-nostalgie. Ten spyte van kritiek op die huidige regeringsbestel het Breytenbach beaam: Die geskiedenis verbind ons. Ons rykdom is ons diversiteit. Kuns is een van die laaste toevlugsoorde waarsonder ons nie kán nie.”

Suid-Afrikaanse poësie: ’n historiese blik

Die koloniale tydperk

Om te sê dat poësie deur swart digters sy beslag eers in die twintigste eeu gevind het, reflekteer slegs die korpus geskrewe werk en nié die ryk orale tradisie nie. Afrika-poësie het ’n lang en glorieryke geskiedenis van lofdigters (izibongo en imbongi) wat lofpoësie, gebede, tradisionele himnes, fabels en treurdigte voordra. Digters het oorwegend hulle skoolopvoeding in sendingskole ontvang, en die invloede van Engelse digters soos John Keats, Percy Shelley, Thomas Gray en Oliver Goldsmith is sigbaar in hulle werk. Herbert Isaac Ernest Dhlomo, B.W. Vilakazi en die satiriese poësie van Herman Charles Bosman staan uit as eksponente van hierdie periode.

Die post-koloniale tydperk

Vier maande nadat die Nasionale Party in 1948 aan bewind gekom het, verskyn Alan Paton se seminale Cry, The Beloved Country – ’n roman wat op simboliese wyse hierdie tragiese tydvak in ons geskiedenis binnelui. Die poësielandskap van 1948-1990 was inderdaad ’n stormagtige een. Deur die loop van die vyftigerjare was Drum magazine ’n gewilde platform vir die publikasie van swart poësie, wat intussen ’n ryk en diverse kultuur van verstedeliking begin weerspieël het. Belangrike digters soos Peter Clarke, Richard Rive en James Matthews is met die tydskrif geassosieer. Protes teen die onderdrukkende apartheidsregime het toegeneem – ’n bloeitydperk (letterlik en figuurlik) vir struggle-digters wat dekades lank gely het onder diskriminerende wetgewing, ballingskap, huisarres, detensie en marteling.  Daar is ’n verbod op die publikasie van sekere digters se werk geplaas; ook is hulle reg tot openbare toesprake, insluitend die beoefening van orale poësie, in die ban gedoen. Hierdie digters het egter die soeklig laat val op sosiale ongeregtighede en plaaslik, sowel as in die buiteland aandag getrek met hulle gedigte in literêre tydskrifte soos COSAW (Congress of South African Writers) en Staffrider. Die sensuur op publikasies was hewig, en van hierdie digters het verkies om hulle stem eerder in buitelandse tydskrifte te laat geld. Binne die Afrikaanse geledere het die Sestigers, waarvan Jan Rabie, André P. Brink, Etienne Leroux, Breyten Breytenbach en Ingrid Jonker die vernaamste was, radikale vernuwing op sowel tematiese, sosio-politieke en linguistiese gebied gebring. Die sestigerjare het eweneens sy nuwe generasie wit Engelse skrywers opgelewer, soos byvoorbeeld Douglas Livingstone, Lionel Abrahams en Stephen Gray. Indekse soos Voices from within: Black poetry from southern Africa vermeld die Sharpeville-slagting (1960) en die Soweto-opstande (1976) as waterskeidingsoomblikke in die Suid-Afrikaanse letterkunde. Die struggle-digters het met ’n groter dringendheid as ooit geskryf; genoop tot die mobilisering van die massas teen die apartheidsregering. Poësiebyeenkomste is nou ondergronds gehou in ’n tipe versetpoësie wat gekenmerk is deur die gebruik van rewolusionêre slagspreuke. Die kataklismiese nadraai van die marteldood van Steve Biko in 1977 het nuwe momentum aan die protesbeweging gegee. Swart digters se werk was teen dié tyd heeltemal gemarginaliseer en vooruitsigte op publikasie binne die landsgrense was feitlik nul. In teenstelling hiermee het Afrikaanse uitgewershuise floreer en ’n stortvloed poësie uitgegee (dikwels van minderwaardige gehalte). In 1970 het Antjie Krog, toe 17 jaar oud, se debuutbundel Dogter van Jefta verskyn en Krog het ’n herrie in die pers veroorsaak ná die publikasie van haar gedig, My mooi land in ’n skooljaarblad: “Gee vir my ’n land waar swart en wit hand aan hand / vrede en liefde kan bring in my mooi land.”

Op sy beurt beeld die ghetto-agtige Soweto-poësie, wat sedert die sestigerjare toegeneem het, Soweto uit as ’n sosiale en metafisiese hawe – maar ook as een van verset. Dit is poësie wat geskryf is in ’n rou Engelse idioom en wat rym en vaste vorm vermy ten gunste van die ‘naaktheid’ van die vrye vers; ’n lingua franca wat Afrosentriese Engels voorstaan en wegdoen met Eurosentriese invloede. Die tagtigerjare is gekenmerk deur die versetpoësie van die werkersklas (“worker poets”), asook die lofdigte van vakbonde, byvoorbeeld Black Mamba Rising.

Post-apartheid

Met die vrylating van Nelson Mandela in 1990 het ’n nuwe demokratiese bestel aangebreek wat gekenmerk is deur “honeymoon literature”, of “the literature of celebration”, om die kritikus, Stephane Serge Ibinga aan te haal. ’n Belangrike tema van post-apartheid-poësie is dié van nasiebou, asook die herevaluering van identiteite in die verlede op pad na die ideaal om op outentieke wyse uitdrukking aan die Self te gee. ’n Inklusiewe Suid-Afrikaanse digtersgemeenskap waarbinne ons diversiteite verenig kan word, was uiteindelik in die vooruitsig: ’n gemeenskap waarin die wonde van die verlede, maar ook die ongelykhede in die hede kollektief aangespreek sou word.

Hedendaagse Suid-Afrikaanse poësie

Performance poetry het die afgelope dekade met rasse skrede toegeneem. Laasgenoemde genre het sy oorsprong te danke aan die inheemse orale tradisies van die izibongo of lithoko, asook die praattaal van die dag, soos dit neerslag vind in die populêre kultuur. Die protespoësie van die sewentiger- tot negentigerjare is dikwels begelei met musiek (of deur musikante self beoefen); en is verder kruisbestuif deur Amerikaanse hip-hop en rap (kletsrym). Professionele digters en kunstenaars kry blootstelling via poësiefeeste soos Poetry Africa of Badilisha Poetry X-Change, waar poësie verder versprei word deur potgooie, of gelees en gedeel word op literêre webtuistes soos LitNet, Poetry International – SA en die sosiale media. Hedendaagse Suid-Afrikaanse poësie is dus die assimilasie van alle diverse invloede – soos hierbo genoem – met die magdom multimediafunksies wat die internet bied. Die opkoms van onafhanklike uitgewers wat selfpublikasie moontlik maak, asook e-tydskrifte (e-zines) skep ’n verskeidenheid platforms vir ’n digter in Suid-Afrika om sy stem te laat hoor.

Suid-Afrikaanse poësie en meertaligheid

’n Mens kan seker tereg vra: met soveel invloede, style en tradisies; met só ’n heterogene register van Suid-Afrikaanse poësie – waarheen nou? Die droom om ons digterlike erfenis wat so divers is, te verenig, loop inderdaad ook die risiko van verdeling. Diversiteit kan maklik wegsplinter. Afrikaans verkeer onder druk, veral na die uitspraak van die Konstitusionele Hof wat op 10 Oktober bevind het dat US se 2016-taalbeleid, wat Engels die voorrang gee as onderrigtaal by dié instelling, grondwetlik geregverdig is. Daarteenoor toon Kaapse variëteite stadig maar seker ’n opbloei, terwyl van die Khoisan-tale op die rand van verdwyning is. Daar is genesing nodig vir die verwonding van die verlede vir al die tale in Suid-Afrika. In 2017 het die begrafnisondernemer, AVBOB, se Poësieprojek afgeskop. Naas die bevordering van skeppende poësie, is dit ook ’n vertaalprojek met ’n antropologiese fokus. Met die vertaling van poësie word die sosiale konteks van die een taal na ’n volgende taal oorgedra en vind ’n multikulturele kruisbestuiwing op linguistiese vlak plaas. Lesers ontwikkel begrip vir ander mense se kultuur deur vertaalde poësie te lees. Die doelwitte van die AVBOB Poësieprojek is, in lyn met die uitgangspunte van die bekende internasionale Creative Europe-vertaalprojek, soos volg: Dit ondersteun en bevorder kulturele en linguistiese diversiteit in Suid-Afrika; dit bevorder die verspreiding en sirkulasie van gekeurde poësie in al 11 tale; dit bevorder die literêre vertaling van tale wat minder gehoor word, of tale wat uitsterwing in die gesig staar; dit bied blootstelling en erkenning aan talentvolle Suid-Afrikaanse digters; die projek bied ’n uitstalvenster vir vertalers; dit skep die moontlikheid van publikasie in die I wish I’d said-bundels; dit lei tot bekronings in al 11 landstale; en dit bereik nuwe gehore via die Ek wou nog sê…-geselsprogram.

Drie jaar gelede het wenkbroue gelig toe AVBOB hulle Poësieprojek aangekondig het: hoe op aarde kan ’n begrafnisverskaffer ’n vennoot in die bevordering van poësie wees? As ’n mens daaroor dink, is dit heel logies. AVBOB ervaar daagliks smart en verlies wat te groot is vir woorde. Een van die eerste dinge wat agtergeblewenes dikwels vir AVBOB vra, is hulp met die opstel van begrafnisbriewe en -pamflette. Want gewone woorde is ontoereikend. ’n Nuwe – of ‘spesiale’ – taal is nodig. En hierdie taal is poësie, die volmaakte uitdrukking van verlies. Baie mense in Suid-Afrika is om die een of ander rede getraumatiseer. Om te dig oor die dood, impliseer ook noodwendig ontwrigting, trauma en pyn. Maar die dood is ook onlosmaak deel van sy binêre opposisie, die lewe. Om ’n gedig tussen duisende ander op ’n webwerf te publiseer, verg vertroue. Daarom is die AVBOB Poësieprojek ’n belangrike stabiliserende faktor tussen gemeenskappe en tale. Ten spyte van beloftes aan regeringskant om meertaligheid te bevorder en dan die teendeel doen, gebeur dit tog danksy die reuse-belegging van een maatskappy wat Suid-Afrikaanse poësie laat floreer.

Besoek www.avbobpoetry.co.za om jou profiel te registreer of gedigte in te stuur. Die kompetisie sluit op 30 November om middernag.

 

Verwysings

https://www.bbc.com/news/world-africa-39935150?fbclid=IwAR2VzOpDsr2g9hJmWDghSfM7H0Gl9DHFcrNDx0B3jIzfQLf67Su_kVwF1ME

https://en.wikipedia.org/wiki/South_African_poetry?fbclid=IwAR1TpFhR4Y8qXMP-nyFUsaELVpmqMNWcQjOzLZXezeMdQANxOeoQHH48_Mo

https://www.news24.com/SouthAfrica/News/there-is-no-language-that-is-superior-to-another-ramaphosa-celebrates-heritage-day-with-a-focus-on-african-languages-20190924?fbclid=IwAR0hpcxoLj0j8LNiVUPkoe3WiIFS8NYL1XikVlad2k-PfxPmKGl2tTbdQ64

Chapman, M. en A. Dangor. Voices from within. Black Poetry from southern Africa. 1986. Cape Town: Creda Press.

De Lange, J. en M. Maphumulo (reds.). I wish I’d said…Vol. 2. 2019. Kaapstad: Naledi.

De Lange, J. en M. Motinyane (reds). I wish I’d said. 2019. Kaapstad: Naledi.

Mandela, N.R. Long walk to freedom. 2013. New York: Little, Brown and Company.

 

 

 

 

 

 

 

Nini Bennett. ’n Polifoniese simfonie van stemme

Friday, October 25th, 2019

 

 

  1. Ek wou nog sê …

 

Die groot aand het uiteindelik aangebreek. Dit is 16 Oktober, die eerste aflewering van Ek wou nog sê …

Ek rig die afstandbeheer en die televisie flits aan op VIA, DStv-kanaal 147. In die atlejee sit Gaireyah Fredericks, tweedepryswenner van die tweede AVBOB Poësiekompetisie. Die gespreksleier is Daniel Hugo. In sy grys baadjie is hy die toonbeeld van kalmte. Hy vra Gaireyeah uit na haar haar digkuns en haar betrokkenheid by die AVBOB inisiatief.

“Die dood het gereeld kom kuier,” sê sy. “Ek het my ma en kinders en susters verloor.” Daniel is ’n goeie luisteraar. Die bekende sonore stem, sinoniem met soveel radioprogramme oor die Afrikaanse poësie, weerklink landswyd oor die kassie. Gaireyah tel die bundel, I wish I’d said… (Vol. 2) op, en lees haar kompetisiegedig, Dood:

Dood is darem vir jou ’n snaakse ding.

Hy sal oppie mes se lem rus.

Saamie vuur dans.

Soese bullet op jou afpyl

of simply sy hand deur jou hare streel.

Som tart hom en klim hange met kaal hanne.

Spring uit aeroplanes en swem saamie sharks.

Som tel affie ure in dosages van morfien en stap saam hom parallel,

signed sealed, but not yet delivered.

(…)

Sy vertel hoe sy aanvanklik begin dig het deur verse vir haar niggie, haar pen pal, te stuur. Die hartseer is verwerk; dit het reeds poësie geword. Ánder mense put nou troos en berusting uit Gaireyah se verlies. En ek dink aan die eindelose siklus van lewe en dood, hoe die dood weer die bloeigrond vir nuwe lewe word …

Dan vertel sy van haar betrokkenheid by poësiewerkswinkels. Sy is deel van Diana Ferrus se Di Mengelmoes Digters wat gereeld by die Breytenbach-sentrum bymekaarkom. Gaireyah beduie geesdriftig: sy wil ’n liefde vir poësie onder die jeug kweek. Sy is stemmig geklee in ’n blou baadjie en bypassende kopdoek, maar sy sprankel. Sy tel nóg ’n bundel op; ’n eie publikasie van haar gedigte getitel Kaaps is Hollands, en begin om ’n gedig voor te dra. “Gevoelig en intens”, het ’n joernalis op ’n keer haar performance poetry beskryf.

Volgende aan die beurt is die veelbekroonde skrywer, Tom Dreyer, wenner van vanjaar se eerste prys in die tweede AVBOB Poësiekompetisie. Hy is geklee in ’n swart baadjie en praat vinnig, soos mens van ’n man met so ’n skerp intellek kan verwag. Hy knyp maar tydjies af om te skryf, vertel hy; hy is ’n rekenaarprogrammeerder van beroep en tans besig met sy tweede MA in skeppende skryfkuns aan die Universiteit Stellenbosch.

Dan vertel Tom van sy geliefde vriend, die skrywer Jaco Botha wat in 2016 tragies sy eie lewe geneem het.

Die Burger het my gevra om ’n huldeblyk oor Jaco te skryf, maar ek kon nie,” bieg hy. Maar dié nagelate huldeblyk het uiteindelik die wengedig, getitel Slaap jy solank, dan hou ek die fort geword. En die slotstrofe tref soos ’n uitknikker:

ek sien jou oplaas op die gewel van jou kothuis staan

en botweg weier om af te kom ek hoor jou kla dis

gevaarlik daaronder en ek weet wat jy bedoel nes daai

aand by die kknk toe jou trane so vryelik soos gemorste

whisky op die kroegtoonbank spat, en jy sê: kom ons gaan

slaap eerder, tom, dan is ons ten minste nie meer wakker nie.

ek verstaan my tjom my tjom slaap jy solank want die nag

is lank en die son sal basically forever oor magersfontein verrys

intussen sal ek nog vir ’n rukkie dié kant die fort probeer hou

solank ek nog onthou solank ek nog onthou solank ek

onthou kan jy met ’n halwe glimlag op jou gewel blý

staan: wagtend op daardie onverstaanbare golf wat toe

meer verwoestend as enige woord oor jou sou breek

Tien was my beste vriend,” sê hy. Jaco se bynaam op universiteit was “Tien”, omdat hy net tien persent sig gehad het. Jaco en Tom was as jeugvriende in die negentigerjare die eerste twee studente wat vir hulle MA-grade in skeppende skryfkuns onder leiding van Etienne van Heerden ingeskryf het.

Klik gerus op dié skakel om Tom in aksie met die ontvangs van sy toekenning te sien: https://www.youtube.com/watch?v=UoCYGFAHk4g

Digters wat aan vanjaar se TV-program deelneem, is Hélen Möller, Hannes Visser, Emma Bekker, Fourie Botha, Clinton V du Plessis, Willem S van der Merwe, Danie Marais, Eunice Basson, Jo Prins, Charl-Pierre Naudé, Jannie Malan, Jolyn Phillips, Fanie Olivier, De Waal Venter, Pieter Hugo, Christo van der Westhuizen, asook Leon Gropp en Jak de Priester.

  1. Agter die skerms: Gaireyah Fredericks

 

En met die pas afgelope program skaars op sy rug, is my nuuskierigheid behoorlik geprikkel. Ek besluit om Gaireyah Fredericks te kontak, want ek vermoed dit gaan ’n heerlike gesels afgee.

NB: Gaireyah, vertel ons asseblief meer van jou belewenis van die verfilming van Ek wou nog sê …

GF: Eerstens was ek nie bewus dat ek die tweede plek in die kompetisie gewen het nie, so ek het gevlieg Joburg toe op a sound mind dat ek wel deelgeneem het en my poem Dood dalk gekies is om op die lug gelies te word, but that’s it! Ek’t nooit my emails gekry nie …Techno gremlins sieker. Die program se staff was vriendelik en het mooi na my gekyk met al die grênd reëlings wat getref was net om ‘n mere single poem te lees (I thought in my mind). ’n Chauffeur tel my op by die hotel en ek word na die studio gery. Kom da aan word ek vriendelik ontmoet, maak kennis en na die make-up room word ek ge-escort. Om natuurlik gepoeier en gepaint te word, well, nou nie gepoeier nie, ma ek sê toe oek, “I want it natural, hey?” Issie een ve die fake-face-make-up gedoente nie. Ek is e-natoeraal.

Anyway, ek ken Daniel en sy liewe vrou Marlene al ʼn while, so I am quite comfortable. En so finally is ek saam hom opi set. Nou’s dit ‘n gekrap onne klere virrie soundbox en dit kos nou manouvering ommie invasive ding saam ’n slamse tietie te laat behave. Or so the guy appeared. Got the contraption strapped on en da gat os. Nou sit ek, swinging legs and all want ek’s soe klein ek hang opi stoel, my God, en toe wysit oek opi TV. Lag my klaaaaa. En niemand kon my warn nie, flikkers gooi en, I dunno, ’n gesture skiet om my bientjies aan te spreek nie, none the less, Daniel wish my toe congrats en ek is heel puzzled. “Waavoo?” Meisiepop, ek was over the moon and to Mars. Tweede innie AVBOB-kompetisie. For reals, for reals… En nou wil hulle skiet. Ek’t noggi ees tot verhaal gekomi, ma anyway the rest is mos toe VIA history.

Soe op Daniel. Kyk hie, hy’s a pro. Hy’t kwaai vrae gevra en my blêrrie goed lat lyk. Sal hom en sy vroutjie altyd onne my belt dra. Die nerves wasi rerag a prob nie, want ek’t myself net gesê ek’s saam Daniel en ‘he got me’. I’ll be fine. Een ding het gebeur toe os geshoot het though. My phone het blêrrieville afgegaan en my ring tone was soe a distraction. Vir my at least! En my swaaiende voetjies soes a klein meisie oppe swing was beide embarrassing en adorable at the same time. Liewe Heiland! Ek kan soms soe overdo. What can I say?

As a matter of fact, dai was my ‘gatvol gedig’ wat tweede gekommit. Na ali visits in my past wa dood my ma, my twieling en my twieling sussa weggevat het, was ek net mooi gatvol vir die Reaper se happy trot en skryf toe ’n gedig as ’n direct dialogue in Kaapse sassiness om net ’n piece of my mind te share. En I got to do it on the telly… dai wasse bonus.

NB: Gaireyah, wat dink jy is die belangrikheid van die AVBOB Poësieprojek tans vir poësie en meertaligheid in Suid-Afrika?

GF: Os sliep mos nog die past van Apartheid-fraaings wat vani mat wat alles onne in gevie was saam currently. Djy sienit innie lug en oral rondom jou. Sou to write about die temas (birth, death, love, hope) wat die kompetisie bied is soes om kaart te speel, ma issie game wat djy bly wen. Whatever topic djy kies grant jou die opportunity om nog meer te filter en te process. Vir jouself! Op ’n personal level. En dan as djyrit share, ve almal. Die temas maak lat djy gaan stap tussen die ruins vani past, ma oek opkyk na die future. Typical in essence, wat mens al verloor het en die nuwe hoop van more, broei in jou hart en dis wat ons land nou need. A clever method and platform wat healing and introspection promote. Djy kani verkeert gani. Djy moet wen! So in essence, wen amal.

  1. AVBOB, aanlynpoësie en ander tendense

 

“Meertaligheid” is vandeesweek die gonswoord op almal se lippe. Die Konstitusionele Hof het op 10 Oktober bevind dat US se 2016-taalbeleid, wat Engels die voorrang gee as onderrigtaal by dié instelling, grondwetlik geregverdig is in die hoop dat dit meertaligheid sal bevorder. Die AVBOB Poësieprojek wat op 1 Augustus vir die derde agtereenvolgende jaar afgeskop het, kan terugskouend as niks minder as visioenêr beskou word nie, en is meer relevant – néé, noodsaaklik – as ooit. In ’n onderhoud (2018) op LitNet met Johann de Lange, een van die samestellers van I wish I’d said, sê Naomi Meyer: “Dit was onlangs (weer) Mandeladag en steeds is daar in hierdie land nog so min vir meertaligheid gedoen. Maar daar is tog ook uitsonderings …”

Die AVBOB Poësieprojek is in 2017 gebore na die dood van ’n seuntjie en sy oupa se onvermoë om by die oop graf sy gevoelens van rou en verlies te verwoord. Christo van der Westhuizen, uitvoerende hoof van die reklameagentskap BRAND et al, wat dié projek namens AVBOB bestuur, het met die konsep vorendag gekom om ’n webwerf te skep waar elegiese gedigte ’n tuiste vind. Digters is al vir eeue lank die spreekwoordelike profete, mitemakers, dromers en sjamaans wat gemeenskappe help heel met die genesende krag van die woord. AVBOB is genader as medewerker, en Frik Rademan, uitvoerende hoof van AVBOB, het ingestem. Voortspruitend uit hierdie webwerf, wat in die 11 landstale geloods sou word, was die TV-gespreksprogram Ek wou nog sê … en die publikasie van gedigte wat op die AVBOB-webwerf verskyn. Naledi het as uitgewer hierdie reuse projek onderneem, en twee lywige bundels naamlik I wish I’d said (volume 1 en 2) het reeds verskyn. Ook ’n derde bundel word in die vooruitsig gestel. Hierdie projek as samebindende en inklusiewe platform is waarskynlik vergelykbaar met sosiale tendense soos die gewilde #I’m staying-beweging, wat al hoe meer momentum kry. Suid-Afrikaanse digters van alle kulture en tale publiseer op een platform. En met die beloning van R10 000 vir die wengedig, asook ’n betaling van R300 vir elke gedig wat op die webwerf verskyn, is dit lonend vir die digter. ’n Mens lees dikwels met nostalgie hoe sommige gevestigde digters se digloopbane dekades gelede begin het ná die instuur van ’n gedig na tydskrifte soos Rooi Rose of Huisgenoot. In meer as een biografiese opgaaf vertel die digters dat hulle byvoorbeeld R5 vir die gedig, wat aanvaar is, ontvang het. Die latere publikasie van poësie in die little magazines het weinig of geen finansiële voordeel vir digters ingehou. En die hedendaagse tendens is véél eerder dat die koste vir die digter se sak is, soos byvoorbeeld om ’n inskrywingsfooi te betaal vir deelname aan poësiekompetisies. Daarom is mens dankbaar vir die reuse belegging wat AVBOB in die poësie ter plaatse gemaak het. Vanjaar se kompetisie sluit op 30 November om middernag. Duisende inskrywings is reeds ontvang, en meer word nog ingewag. Tot en met 20 inskrywings per digter kom in aanmerking vir publikasie op die webwerf.

Digters wat nog nie geregistreer het of gedigte ingestuur het nie, moet opskud! Besoek https://www.avbobpoetry.co.za/ of AVBOB se Facebook-blad vir besonderhede.

Ten spyte van die tanende ekonomiese klimaat in Suid-Afrika is die individuele vergoeding vir gedigte nie vreemd nie, en heeltemal in lyn met hedendaagse oorsese tendense. In ’n onlangse artikel op Make Money skryf die sakevrou en skrywer, Laurie Blank, oor 30 verskillende internasionele webtuistes waar digters hulle werk kan voorlê teen vergoeding. Dit sluit die immergroen Kanadese Arc Poetry Magazine, asook die gewilde Chicken Soup for the Soul in. Maar dit is nie die enigste goeie nuus vir poësieliefhebbers nie. Die Suid-Afrikaanse gemeenskap is net ’n diorama van ’n groter wêreldbeeld. In die VSA was daar ’n 21% toename in die verkope van digbundels van 2015 tot 2017, wat poësie kenmerk as een van die snelgroeiendste genres in die uitgewersbedryf. In tandem hiermee het Naledi sedert die begin van 2019 reeds 13 digbundels uitgegee, wat hulle vestig as die voorste uitgewer van poësie in Suid-Afrika. Naledi het ook die twee meertalige I wish I’d said (Vol. 1 en 2) uitgegee, bloemlesings wat sowel die AVBOB-wengedigte, asook enkele opdraggedigte van gevierde digters bevat. Klik gerus op die volgende skakels om hierdie bundels teen R220 stuk aan te skaf: info@naledi.online of tertiaswart@naledi.online / (078) 648-8616. Daar is tans ’n spesiale aanbod vir albei hierdie pragbundels teen slegs R300.

Volgens die gesaghebbende American Academy of Poets is skryftradisies en teksproduksie patroonmatig en herhalend, soos modes. Tegnologiese vooruitgang en die gebruik van multimediafunksies speel ’n groot rol in die hedendaagse herlewing van poësie. Die nuwe internasionele gier is om gedigte op Instagram te plaas (die sogenaamde “Insta-digters”); en nie te lank gelede nie het die Net nog gegons met die werk van Twitter-digters. Duisende lesers wêreldwyd wag daagliks op hulle kwota aanlynpoësie, wat sommer op ’n selfoon gelees word. Die meeste mense is mobiel geletterd. En danksy die deelfunksies van webwerwe en mediaplatforms het poësie ’n verbruikersvriendelike kommoditeit geword wat die lees en verspreiding van digters se werk binne sekondes moontlik maak. Die blootstelling vir die digter is uitstekend. Op AVBOB se poësiewebwerf, byvoorbeeld, is die getal views of besoeke by die gedigte sigbaar. En dit is vir enige digter bemoedigend om te weet sy werk word gelees, en om ’n rekord daarvan te sien, is ’n bonus. Ook met hierdie derde poësiekompetisie skep AVBOB ’n platform wat ongepubliseerde, aspirant-, gevestigde en bekroonde digters op een webwerf akkomodeer – Johann de Lange het dit tereg “’n polifoniese simfonie van stemme” genoem. En dit is inderdaad goeie nuus vir meertaligheid en vir Suid-Afrikaanse poësie.

 

Verwysings

https://blog.publishdrive.com/publishing-poetry-2018/?fbclid=IwAR29nTdkY9n03kZl5OX-zg2TFlpP_qrPtpYn-mJG3oDrxi_Km1KNFAvfarg

https://wellkeptwallet.com/get-paid-write-poetry/?fbclid=IwAR3gVA9W23B4T_aLJQBu0Yxlq_Djt5kX9Itcm25-ZSDp_TmZ1ZsTR1IonBo

https://www.avbobpoetry.co.za/

De Lange, J. en M. Maphumulo (reds.). I wish I’d said…Vol. 2. 2019. Kaapstad: Naledi.

Nuwe publikasie: ‘n Hunkering se grein (Johann de Lange)

Saturday, August 20th, 2016

Hunkering se grein

‘n Hunkering se grein       

Johann de Lange

’n Ryk geskakeerde bundel waarin dié bekroonde digter indringend fokus op temas soos, onder meer, skoonheid teenoor verval, die skoonheid in verval, die troos van die woord en die gedig, die weerloosheid van die lewe en menswees, en die erotiek wat tog so deel vorm van elke mens. Daar is heelwat vernuwende elemente – meer waarneming, meer metafisies en fyner gedraad. Die verse is pretensieloos en daar is geen poging om die leser te beïndruk met ’n verwikkelde verwysingswêreld nie. Eenvoud is die eerste wagwoord, en die tweede is eerlikheid. Dit is ’n bundel wat na baie kante strek, maar wat konsekwent tot die leser spreek. Dit is ’n sensitiewe stuk werk wat vir die ware teksleser oneindige vreugde sal verskaf. ’n Uitstekende toevoeging tot die Afrikaanse digkuns.

Johann de Lange is op 22 Desember 1959 in Pretoria gebore. Sy debuutbundel Akwarelle van die dors (1982) is met die Ingrid Jonkerprys bekroon. Sy vierde bundel, Wordende naak, word met die Rapportprys vir Poësie bekroon in 1990. Die algebra van nood, wat in 2009 verskyn het, is in 2011 met die Hertzogprys bekroon.

.

Lente is kwastig

.

Lente is kwistig met die kwas:

kyk hoe kwastig dik hy die kammetjies aan

kleurig ry op ry, die blare van die magnolia

.

& die advokaatpeer is blink impasto.

So ver die oog kan knipperkyk

is veld fyn kwaspuntig met kleur ingestippel;

.

met paletmes is berge teen die horison bonkig

geplet en -smee sommerso uit vet verfbuise.

Naderby bak rotse bruinrug, & sonkant

.

waar eerstelig blink op blare van die oleander

brand op rotse loog-as-grys, & roes- & vuurrooi ligeen.

Lente is ’n digter wat daglank palissander.

.

[Human & Rousseau 2016, Prys : R175, Bladsye : 128, Formaat : 213 mm x 137 mm, Sagteband, ISBN-13 : 9780798172998, Epub-ISBN : N/A]

.

.

Joan Hambidge. Épater la bourgeoisie

Thursday, February 26th, 2015

Épater la bourgeoisie

Vir Johann

 

In ‘n studie oor genre van ene Heather Dubrow,

konkludeer hierdie teoretikus, so waar as vet,

dat die verhouding met ons ouers nadoods voortduur.

In ‘n lesing oor jou verbintenis met jou vader

sien ek hoe jy elke genre-voorskrif oor ‘n gedig

se sluiting ondermyn, afbreek en uitstel.

Waarom, wonder ek, word ons onthou om die on-

bedoelde, die jeugvergrype, die San Andreas-fout

van die lyf, die onvergeeflike vloek-in-die-vers

eerder as die onverwoordbare pyn wat voortslinger

in gebreekte sonnet na gebreekte sonnet?

 

 

(c) Joan Hambidge / Februarie 2015

Gisela Ullyatt. “In ’n niemandsland het ek verdwaal”: Johannes Kerkorrel (27 Maart 1960-12 Nov. 2002)

Monday, November 10th, 2014

November 2002. Ons is op pad Suid-kus toe. Ek kry ’n SMS-boodskap van ’n ou vriendin. “Johannes Kerkorrel dood”.

Die hele karrit daarnatoe en terug luister ons na Kerkorrel-kassette. By Van Reenenspas begin Eet Kreef uitrafel; die kassetspeler spu bruin lint uit. Onherroeplik beskadig. Ek koop ’n plaasvervangende CD in Look ’n Listen Pavilion se piepklein Afrikaanse afdeling. My kop loop draaie wanneer ek op die strand is:

 

Hier kom die somer die son

hier kom die somer die son

dae soos heuning warm en lou

 

My kop rewind tyd soos ek ander kassette in die karradio terugspeel: 1991. Pas in die hoërskool, te jonk om by die 1989 Voëlvry-konsert te kon wees, stig ek en my beste pel, E, ons eie alternatiewe groep. Ons koop Eet Kreef en luister ook na Koos Kombuis. By sokkies blêr die nuutste Roxette se Joy ride, maar ons, ons luister na Kerkorrel. Ons is alternatief. Ons maak vir ons alternatiewe name op. Ons wens Houtstok het nog bestaan. ’n Jaar later koop ek Bloudruk met karige sakgeld wat ek vir maande spaar.  Later kom Cyanide in die beefcake; sommige van Kerkorrel se mees aangrypende lirieke. Daarna verval hy in die rave-kultuur met lirieke wat steeds aangryp soos “my ewige ontwykende beminde” en “sirkusdier”, maar helaas, die musiek het net nie meer die impak van byvoorbeeld Bloudruk nie. Dis ’n natuurlike fenomeen onder sangers en hulle volgelinge: die eerste generasie luisteraars en aanhangers identifiseer bloot meer met die eerste albums van die kunstenaar. Dink maar hoe Bob Dylan uitgejou is veral tydens ’n toer in Engeland toe hy van folk hero in elektriese hero ontpop het. Die wêreld gaan aan.

Forward: 2003. Kerkorrel. ’n jaar later … in die staatsteater, ’n mooi rymende titel van die DVD van die konsert wat vir Kerkorrel gehou is, ‘n jaar na sy selfdood naby Kleinmond. Talle van sy songs word gesing; Karen Zoid, toe nog die jong-opkomende-zoid, ontroer veral met haar song “Foto teen die muur” wat sy vir hom geskryf het. Haar woede oor sy selfdood is sigbaar. Haar weergawes van sy “Sit dit af” en “Ek ry ’n BMW” is rouer as rou. Die skok, steeds immer aanwesig. Stef Bos se weergawe van “Hillbrow” ontroer geweldig met sy Nederlandse aanslag. Valiant Swart (wat deur Kerkorrel as die opvolger of fakkeldraer van die post-Voëlvrybeweging beskou is) se “Kleinmond goodbye” is sag, is seer. Maar Amanda Strydom se weergawe van “Hoe ek voel” laat ’n mens voel asof hy iewers in die omstreke was. Strydom se rou pyn word veral saamgevat wanneer sy die woorde van hierdie song verander na ‘ons’ in plaas van die oorspronklike ‘ek’:

 

Sou jy weet, jy sou weet

as jy teen die tyd nog vergeet

hoe ons voel, hoe ons voel

oor jou

 

Strydom se lirieke wat sy ter herinnering geskryf het, ontruk nie die alter ego Kerkorrel aan die vergetelheid nie, maar wel Ralph Rabie, vriend en vertroueling. Die volgende lirieke (eerste drie verse) is in Kaalvoet (2004:53) gepubliseer:

 

Ek het gedroom (vir Ralph)

 

Ek het gedroom jy het opgestaan

uit jou dood

en aan my deur kom klop soos

altyd met blomme

wyn en brood

Jy sê: “Ek moes net vinnig

wegkom,” en jy maak die

bottel oop

“Ek is jammer oor die drama,

maar dis die pad wat ek

moes loop…”

 

En jy gaan sit op die rusbank

Jy glimlag verleë

My mond is droog, my hande

Beef as ek die glase vir jou gee

“Het jy enige idéé hoe ons gevoel

het met jou dood?

Jy was selfsugtig, jy was wreed.”

Jy sê: “Miss Mandy, sny die brood.”

 

En so hard soos ek probeer, kan

ek nie uit hierdie droom ontsnap

En ek sê vir God: “Meester

hierdie droom is ’n siek grap.”

Maar hier sit ons op die rusbank

en jy kyk my in die oë

en jy sê ek moet vir altyd in die

liefde bly glo

jy sê ek moet vir altyd in die

liefde bly glo

 

Daar is verbasend min Afrikaanse gedigte geskryf in die twaalf jaar sedert JK se dood, maar die leser vind wel ’n roerende lykdig in Johann de Lange se Stil punt van die aarde (2014:98):

 

Die ander kant

Vir Ralph

Jou laaste songs het somber ondertone

van ’n finale kleedrepetisie:

in “Die ander kant” sing jy in sober swart

ontwapen voor jou demone

in ’n naamlose bos, in & uit

fokus met oë wat ontroosbaar pleit.

sommiges onder ons weet

voortydig van ons dood.

 

Jy het jou aan ’n wattelboom

vasgemaak, van alles losgemaak

& jou woorde geword,

& ’n naam op ’n dossier. Ook hiér

in die bos van die verbeelding

het die middag botstil geraak.

 

Vir sommige was hy Johnny K, vir ander die ewige ontwykende Kerkorrel van die laaste doodsrukke en -snikke van apartheid; die vergestalting van die weermag-generasie wat jong seuns soos Ralph Rabie ingestuur het en ironies genoeg apartheidsrebelle soos Johannes Kerkorrel ontketen en teruggestuur het. Vir ander was hy Ralph, die introverte joernalis, met die skerp brein en foutlose Afrikaans. Hoe dit ook al sy, hy was nie net ’n popster nie; sy lirieke was soms meer soos gedigte.

Ons het ’n nuwe protes-generasie nodig, een wat nie verswelg in sy eie plesierige vette nie. Is dit hoegenaamd moontlik? Of koes hulle vir hul BMW’s, goue plate en vintage kitaar-altare in hierdie deurmekaar en Eskom-bedonderde niemandsland? Ek gee die laaste woord aan Ralph/Johannes:

 

Derde Wêreld (Bloudruk)

Lente in die ou Transvaal

môredou en oggendlig

eerste son op sink en staal

en kolle nat groen gras

klavier se note hou my vas

gisteraand weer donderweer

 

in niemandsland het ek verdwaal

sal ons ooit weer die daglig haal

die toergids gee die reisplan aan

sê totsiens Azanië

ek groet my vriende een vir een

versigtig elke tree

en ek stap deur die spieël se raam

die derde wêreld in

 

Van die allerlaaste beeldmateriaal van Kerkorrel

is te sien op http://www.youtube.com/watch?v=cGTiynJ8pqA deur Tiny Laubscher

 

Bibliografie

 

De Lange, J. 2014. stil punt van die aarde. Kaapstad: Human & Rousseau.

Strydom, A. 2004. Kaalvoet. Liriektekste. Parklands: Genugtig!

 

 

  •