Kompetisies

Lykdig 50: Trienke Laurie. Swiep van ‘n windswael

Monday, July 21st, 2014

Swiep van ‘n windswael
               Pieter Claassens (1949–1983)

Windswael, wat het van jou geword?
Selfs as jy na benede stort,
val jy nie op die grond:
Jou maats vang jou vere
pik donsies vir hulle neste
teen vertikale rotslyste
en die wind draai om jou
ondeursigtig, ‘n wolkkombers.

Speeksel uit jou bek
dié was jou nes en tuiste
en die Hottentotte van die oervlak
sou teen hulle tande suigklik
hulle tonge teen die verhemelte laat klots
en ‘n sug gee oor jou te vroeë dood.

Jou lewende windharpklanke
ramkie nie soos die hoë skree
van die hutjie-hee
of van die windswael
as hy vertonerig buitel nie,
maar kom lê, kom drup-drup
“in my diepste oor.”

Sommige swaai ‘n daggapil
of ry die baaik heluit
as hulle down is,
maar metafisika
is bog teen aërobatiek.
Die windswael rus
op die strome van die lug
en vinnig wik hy sy wîe rond.

In sy slaap, haal jy aan,
dig die digter oë-oop.
Die windswael vlieg in sy slaap:
het jy in jou slaap gevlieg?
‘n Brik se twee seile
—vlerke vir hemelvaar gevorm—
en ‘n veer skryf in die lug:
“Hier het ‘n windswael geroep
geroep” en terwyl ek soek
vou die smalt van die lugstroom
die woorde weer toe.

Lykdig 49: Sam Mantori. Ek dink net soms aan Oscar

Monday, July 21st, 2014

Ek dink net soms aan Oscar

-vir Oscar Wilde

 

’n Uitlandse engel se trane sal val, vir hom

die lykbus vul aan sy voete

want die wat oor hom treur is uitgeweke mans

uitgewekenes sal altyd treur

– The Ballad of reading Goal – Oscar Wilde. (vert.)

 

 

Alles wat is.

Is

 

totdat dit verkies

om te verander

of geforseer word

om te verander.

 

Wat vandag vir my

‘n soort van vryheid is

was in jou dag ‘n doodstraf.

Jou liefde, vir jou geliefde Douglas.

 

Alles wat was.

Was.

 

Jy, my ergste fout

het jou meester gesê.

SKANDE!

Het almal geskree.

 

Alles wat moontlik is

mag dalk moontlik wees.

 

Nou lê jy sag in Parys

onder vlerke van

‘n postmodernistiese engel

met sy silwer penis prostese.

 

En ek sien jou

hoe jy daar eenkant,

in jou krawat

en pelsjas lag.

 

Die lewe is tog

so ‘n tragiese komedie.

 

 

Lykdig 48: Nick Barkhuizen. Totius

Monday, July 21st, 2014

TOTIUS: requiescat in pace

 

jou doringboom het groot geword

massief van tak en stam

baken bastion en sieraad van die veld

rusplek vir die arend – die duif se habitat

geankerd heel en diep gepantserd teen

lot of smart of nag

vra sy fondamente deur die ou-ou putte

na die lewens-are af

 

ons sien jou broos met deernis nader

die palms hoog gestrek in seëngebaar

as jy die dik vergroeide eelt

iewers stam-op streel en tas

vergane amputasie uit agtertoe

se reis van kleintyd blom en bloei

om prys te gee of te behou

of…medalje vir ‘n oorlogswond

 

ons ken jou aan jou trane toe die

snoeiskêr van die hemel blink en

losgelate takkies kantel langs mekaar

tot êrens op verlate sand –

hoe lank het jy gespartel aan die

drenkeling se boei tot waar jou

troebel strome oopkloof en water-suile

rys in ere-wag langs elke sy

 

om die altaarrots tot edelsteen te slyp

en die bloedsaad van die doringkroon

dwarsdeur afrika die klipgrond week sal maak

dat die sterre in nuwe lig kan groei

of…ploeg die dwaalgees edel paaie uit

met ons wat steier oor braakland-kluit

om stom jou erfenis te slinger tot

binne-in die kelders van ‘n ou argief ?

 

geliefde man – reus van vele pyn en pen

moes jy dan so die bitter bekers pluk

om al jou blomme uit te stort as jy

die wag-‘n-bietjie-bos trotseer ?

al bleik die winterson se glans tot

bleek bo verre ruimtes koud en wyd

hoor ons die lentekuikens pik alreeds

net onder die vaal gras en die ryp

 

moet die omgekeerde emmer sak om

jou ligte oor ons atlas te verslind

dat blinde generasies koersloos in die duister

se melaatsheid rond sal tas na rigting ?

dalk mag ons naak trek op ons tog

soms pateties knak in floue offensief as

ons kragte stol en stuit teen oormag vas

maar jou vergeet – dit kan ons nie

 

as die huldeklokke beier oor jou

vrome patos juig ons prys die Heer

omhels ons steeds in stil ekstase

meer die maat waaraan jy hard gebeitel het –

‘skuus dat ons so laat nog klop

wou maar net u dunk verneem van ‘n gewaande

plathandgroet iewers tussen rome of diep

uit ‘n bunker onder ou prins albrechtstraat

 

Lykdig 47: Ockie Strydom. In memoriam: Ingrid Jonker

Monday, July 21st, 2014

Stilte 

In memoriam: Ingrid Jonker (1933 – 1965)

 

In bossies van drie en sewe,

pomp die see ‘n buik vol skulp en wier

teen die strand se korrels vas;

strooi dit  oor  haar onderrok  se borrelsoom

tot voor die rooiskoen- vrou met die

die briefie in haar hand.

 

Ontvlugting, reeds jare dood

vir nou bly net die stilte oor:

Stilte.

Hartseerkind word hartseervrou:

Stilte.

 

Die water om haar enkels en dan heupe

het haar vir oulaas  vasgehou —

‘n selluloïedpoppie, reeds gesterf

met ‘n profetiese brander vervullend doodgerol:

 

Korreltjie klein,

korreltjie dood. “

 

Ek hoor nog steeds haar stem bo die branders redeneer

en die sleepspoor waar sy haar beker van wanhoop-wense vul;

waar die die diepsee die geheime  van rooi-wang pop kodeer

offer sy haar lende en die kurwes van haar laaste pen.

 

Sý is die hond wat steeds op strande draf,

die seëvoel wat verhongerd vir oulaas daal

en stukkies waarheid tussen wier en gras kom

haal en opdis as die brood, wyn en water

by ‘n nimmereindigende laaste avondmaal.

 

Skielik was sy “Safe soos Jesus”;

haar leë binneste  weer heel –

Pie” en “Gousblom” het  geantwoord

geglo,  geweet  en toe gedoen.

 

Die fluister van die branders is die wit spook

wat ongebore drome verenig en my terugruk

tot die toetse van haar tikmasjien

waar wonderwoorde die lig kan sien:

Vir álmal maar nie vir haar nie.

 

Stilte.

Stilte.

 

Kompetisie: Die lykdig

Monday, July 21st, 2014

Die kompetisie het nou gesluit! Webmeester gedaan!

Baie dankie vir almal wat hieraan deelgeneem het. Daar was besondere

inskrywings. Binnekort maak ons die Top 15 tot 20 bekend

wat dan na die finale keurders gestuur word vir verdere beoordeling.

-----------------------------------------------------------------------

Versindaba Poësie-kompetisie: die Lykdig

Die  kompetisie sluit vandag stiptelik om 17h00 (21 ste Julie, 2014). Laaste kans om in te skryf!

Die opdrag: Skryf vir hierdie kompetisie ‘n Afrikaanse lykdig

oor enige ontslape digter.

(Die gedig moet ongepubliseerd wees, en NIE in boekvorm, of op die internet, ander tydskrifte, ens. verskyn het nie. Moet ook nie jou inskrywing elders of tussen vriende onder jou naam gaan adverteer, alvorens die kompetisie afgehandel is nie.) Die gedig vir inskrywing kan gaan oor enige gepubliseerde en bekende/gevestigde digter uit enige land of taalverbondenheid. Stuur jou gedig aan Versindaba  of Die Webmeester (in ‘n Word dokument & nie as pdf nie). Voorbeelde van lykdigte sal jy heel onderaan aan hierdie bladsy kry. Geen grafika mag die gedigte vergesel nie.

Pryse:

EERSTE PRYS: R2000

TWEEDE PRYS: R1500

DERDE PRYS: R1000

‘n Gedig met Eervolle vermelding: R500

 

 Om alle vorige inskrywings tot dusver na te gaan, kyk hier.

 

Kompetisiereëls :  

1. Alle gedigte wat kwalifiseer na ‘n eerste keuring sal van tyd tot tyd geplaas word op hierdie webblad, anoniem. Slegs een gedig per inskrywing mag ingestuur word.  Geen grafika by hierdie gedigte nie!

2. Die naam van die afgestorwe digter waaroor die lykdig gaan moet in die titel of subtitel van die gedig vervat word, sodat die lesers/keurders kan weet oor wie hierdie gedig handel. Bv.

Toe kom die najaar

                     Vir DJ Opperman

Of

In memoriam: Ingrid Jonker (1933 – 1965)

 

3. Na ‘n eerste seleksie (anoniem deur Versindaba se komitee) van 10 tot 15 kwalifiserende gedigte sal ‘n nie-deelnemende komitee van drie persone aangestel word om hierdie gedigte (ook anoniem) te beoordeel. Die keurders/beoordelaars sal nie in kontak met mekaar wees nie of weet wie die ander keurders is nie. Volgens ‘n puntetelling vir die keuses van die beoordelaars, sal die wenners gekies word.

4. Moenie jou gedig vir die kompetisie by jou vriende adverteer onder jou eie naam nie. Daar mag dalk ‘n keurder onder hulle wees! Die gedig sal dan gediskwalifiseer word. Geen skuilname is ook toelaatbaar nie. ‘n Gedig verskyn anoniem op hierdie webtuiste, en dus moet jy anoniem bly vir die duur van die kompetisie. Kommentare op gedigte is toelaatbaar, maar hulle mag weer later deur Versindaba verwyder word.

5. Die wenners sal dan hopelik teen die einde van Julie 2014 of vroeg in Augustus bekendgemaak word.

6. Die sluitingsdatum vir hierdie kompetisie is om 17h00 op die 21 ste Julie, 2014.

 

Aspekte van ‘n  lykdig:

‘n Lykdig is ‘n elegie of treurlied, meestal oor ‘n afgestorwene. Soms bevat elegië ook lofprysings of  ‘n huldeblyk  oor ‘n afgestorwene.  Die waarde en deugde van die digter se werk, sy menswaardigheid of selfs enige narratiewe elemente uit sy lewe kan besing word. Belangrike elemente in die lykdig sal bv. die volgende wees: lof, rou en troos. Maar jy kan ook in gesprek tree met die afgestorwe digter of selfs met hom identifiseer of nie identifiseer nie. Jy kan aansluit by ‘n spesifieke gedig (of bundel) van hierdie digter wat jou eenkeer geinspireer het en daaroor besin. ‘n Tema wat dus ‘n groot uitdaging aan jou as digter gaan stel!

(more…)

Lykdig 45: JC van Staden. Lord Byron

Sunday, July 20th, 2014

LORD BYRON, KONING VAN DIE GRIEKE

(met erkenning aan Edna O’Brien)

 

 

1.

Lord Byron, ridder

van die rewolusie,

du sy skip

na die Griekse kus

om liefderyk daar

daardie vrank naat

los te torring

waardeur hy geheg –

‘n kanto geskreeu

teen die grys dagreis,

‘n gepluimde geveg,

‘n verraderlike bataljon verse,

opgestel teen die laaste

kruis-en-dwars woorde –

aan die jong ling

wat die kis stroop

van goue ponde,

die bloed aftap

vir ‘n kruik

by die tempel se ingang

en ‘n kas onthutsinge

verskeep na Engeland –

 

2.

21 dae ween hulle.

Die verlosser gelong

in ‘n karaf, genier, gehart

vir die balsembark,

terwyl Turkse klokke

‘n triomf beier,

‘n wrewelige plesier

oor Lord Byron

se Griekse slag –

gefnuik, gemoeras daar

waar hy ylend sy staf

in aftog en war

smeek en dreig

tot die hitte

met ‘n nat kleed

sy Griekse lot versnel,

alles jare vooruit

in ‘n sirkelsang vertel.

 

3.

En as Lord Byron wel dood is,

wys my die geraamte van swye

wys my die orgaanlose vat

waarin sy stiltes ingesout word

wys my die spook van Coleridge

wat soos handomkeer hier-hier

wys my die drog van ‘n vuur

wat aan die eeN eEN EEN slurp

wys my die rakke waarin Keats

en Tennyson soos spinnekoppe sit

wys my die oopgekerfte blik

sonder ‘n kyk daarbinne

 

En as Lord Byron wel dood is,

wys my onder die pyp die horrel,

‘n profesie, iets onafwendbaar

wys my die bloedlose vate by die bed,

wys my waar die kind nou en nooit

ja, ja, wys my die stotterende beuel

wys my die wind in die put

 

En as Lord Byron wel dood is,

wys my die bleek afgeroomde melk,

wys my dié-en-daardie asems, elk

wys my Shelley se biltonghart

wys my die blinde hond op die bult

buite die stad, ja, ja

wys my die uur waardeur die trein

sy dreun sleep en die slaap insluip

by die pasiënt in sy tent

 

4.

Geblik deurkruis Lord Byron die seë

van Gruland en Italië

tot uit die Teems hy ontboot

in staatsie hom bloot

vir Jan Rap en elke San

wat in hulle drome, dan en wan

oor sy koue wange streel

en hul wellustig omhels verbeel –

 

Lykdig 44: Andy Paulse. ‘n Veer innie ink

Sunday, July 20th, 2014

‘n Veer innie ink

(Vir Boerneef:  Izak Wilhelmus van der Merwe (1897-1967)

 

Sy berggans hette veer lat val;

dit sag swewend

inne bokkeveldse inkpot geskryfdoop

 

hy wassie net ‘n neef vannie boere nie;

Dirk Ligter het yt sy pen yt gekryp,

sam mettie poelieste sam

die hantam karoopêre vooryt gehol,

om vi sy skaaplus in Ceres te ga tronk

 

sy spoor loop in sy hartland rond

neffens’ie bokveldse groentegronne,

tussen boordpaadjies deur

warie kos virrie volk anie bome hang,

onnerie grondse groentemyne

die honger in vele lywe voed

 

‘n plaasklong hette prof ga word,

‘n neef virre ammal

wattie taal vannie pen innie bokveldse ink

ga doop’it, dit wonners lat baar’it.

 

 

Lykdig 43: Jonine von Wielligh. In gesprek met Boerneef

Saturday, July 19th, 2014

In gesprek met Boerneef

(11 Mei 1897 – 2 Julie 1967)

 

Woordenaar van Woeperdal

 

Teen die Sederbergsoom het jy eerstelig

en ‘n boodskap in dié berggansveer gesien;

het die Ceres-leksikograaf se oë ‘n gedig

in die rooi van ‘n wingerdblaar

en die warm mond van haar  gewaar.

 

In Boplaas en Houdenbek

het jy  kop vol skool gekry,

het nederigheid in die geelbossies

van Waboomskloof agtergebly.

Ons sal onthou hoe ‘n voshaarnooi se mooi,

saffraanpeerstroop en  flottina-klanke

verse uit ‘n digters-inkpot kon stroop.

 

Ek het na jou weggaan in die wêreld aangedoen;

in 1967 het jy lewe verlaat vir die dood,

sewentig jaar se mooigoed klaar staan gemaak,

maar steeds leef jou nalatenskap-

jou prosa en gedigte

in hedendaagse generasies voort.

Hoe stil het dit geword

toe ‘n digter sterf in die Kaap.