Posts Tagged ‘Lina Spies’

Jakarandas, poёsie en ideologie

Sunday, June 27th, 2010
Jakarandas

Jakarandas

Pretoria is groot en Kerkstraat is altesaam 26 kilometer lank. Volgens oorlewering is dit die langste hoofstraat in die wêreld. In Kerkstraat-Oos is daar aan albei kante van die straat jakarandabome. Ek is elke jaar op die uitkyk vir die eerste jakarandas wat begin blom, en 2 September was die vroegste wat ek ‘n jakarandaboom al sien blom het, hoewel hulle eers teen Oktober in hulle volle glorie staan. Nog ‘n interessantheid is dat ‘n mens jakarandabome met blomme aan baie maande van die jaar kan sien. Ek het vanjaar nog tot in Mei bome met blomme aan gesien. Dit beteken ‘n mens kan eintlik nege maande van die jaar jakarandas met blomme aan kry.

Afrikaanse digters soos Lina Spies (kyk “Somnambule” en “Van die weer gepraat” in Van sjofar tot sjalom (1987)) en Ina Rousseau (kyk “Jakarandatyd ‘83″ in Grotwater (1989)) het onvleiend oor Pretoria se jakarandas geskryf, maar die Griekse digter George Seferis (1900-1971), wat gedurende die 1940’s ‘n diplomaat by die Griekse Ambassade in Pretoria was en in 1963 die Nobelprys vir Literatuur verower het, het in Oktober 1941 met waardering oor Pretoria-Oos se jakarandas geskryf!

 

Kerk Straat Oost, Pretoria, Transvaal

 

Jacarandas playing castanets and dancing

threw around their feet a violet snow.

The rest’s uninteresting, and that

Venusberg of bureaucracy with its twin

towers and its twin clocks

profoundly torpid like a hippopotamus in blue sky.

And cars raced by showing

backs glistening like dolphins.

At the end of the street waiting for us -

strutting idly about its cage -

was the silver pheasant of China,

the Eurlocamos Nychtemerus, as they call it.

 

And to think we set out, the heart full of shot,

saying goodbye

to Onokrotalus the Pelican - he

with the look of a trampled Prime Minister

in the zoological garden of Cairo.

 

(Uit Roy McNab (ed.): George Seferis: South African Diaries, Poems and Letters (Cape Town: Carrefour Press, 1990)

Die skyn van tuiskoms

Tuesday, May 25th, 2010

Die skyn van tuiskoms. ‘n Keur uit die gedigte van Lina Spies. Saamgestel deur Johann de Lange. Human & Rousseau. ISBN 978-0-7981-5144-3. Prys: R160.

Die skyn van tuiskoms

Die skyn van tuiskoms

By die oorhandiging, in 1973, van die Ingrid Jonker-prys aan Lina Spies vir haar 1971-debuut Digby Vergenoeg (sy het ook die Eugène Marais-prys daarvoor ontvang), het Uys Krige ‘n standpunt oor literêre oorspronklikheid herhaal wat hy al voorheen uitgespreek het: “‘n Digter moet ‘n oorspronklike eie stem hê. Maar oorspronklikheid is dikwels ‘n gejaagdheid. As jy jouself is, is jy reeds anders - oorspronklik; Lina Spies is in haar gedigte haarself.” (Terblanche, 2009)

Veertig jaar later is die digterstem van Spies steeds so “herkenbaar” haar “eie” as destyds (luidens die samestellerswoord op die agterplat van die onderhawige keur uit haar werk).

Daarvoor sorg eerstens die “meditatief-outobiografiese” inslag van haar werk (E.C. Britz, 1999:588), en die herhalende terugkeer van sekere uitstaande onderwerpe en temas:

  • familiefigure en jeugherinneringe;
  • ‘n voorliefde vir bepaalde omgewings, met name die Noord-Vrystaat (Harrismith waar sy grootgeword het), die Boland (veral Stellenbosch) en Nederland (veral Amsterdam);
  • in samehang met laasgenoemde, die reistema;
  • (hoofsaaklik onvervulde) liefdesverhoudings en vriendskappe (wat soms in afkerigheid eindig);
  • vrouwees en kinderloosheid (waarin die intieme en kwesbare van die liggaam soms verken word);
  • (’n indiwidualistiese) godsdiensbelewing, wat meermale opstandigheid jeens dogma tot gevolg het;
  • verknogtheid aan die aarde en die aardse;
  • kuns en kunstenaarsfigure “met wie sy ‘n sterk verwantskap voel en in wie se nood sy haar eie kan verreken” (agterplat);
  • kinders (in verse waarin sy “onskuld, weerloosheid en verbondenheid deur die gebruik van die volkse, sprokies en kinderrympies [ondersoek]” - agterplat).

 

‘n Verdere faset van haar eiesoortige posisie in die Afrikaanse poësielandskap word eweneens deur Britz uitgewys: Dat sy “as ‘t ware ‘n Sestiger [is] wat haar ouderdom betref, en ‘n Sewentiger in terme van die publikasiedatums van haar eerste bundels, maar as digteres [...] nie werklik ‘n kind van sestig óf sewentig nie. Haar ontroerde, meditatiewe of belydende betoë, haar fraai en soms speelse poëtiese segging en haar preokkupasie met haar emosionele, spirituele en sosiale verhoudings maak haar nog die beste vergelykbaar met Elisabeth Eybers.” (Britz, 1999:588)

Spies identifiseer derhalwe nie net met Eybers nie, maar veral ook met iemand soos die Amerikaanse digteres Emily Dickinson. In die gedig “Vir Emily Dickinson” bestempel sy laasgenoemde as “naaste geesverwant”.

‘n Ietwat ouderwetse, elitêre estetiese houding spreek uit haar verskuns sowel as uit sommige van haar openbare uitsprake, veral vergeleke met die werk van haar dikwels eksperimenterende tydgenote. Onder meer hierom was sy meermale “vatbaar vir miskenning en selfs ridikulisering onder die meer radikale verteenwoordigers van die generasies van sestig, sewentig en ook tagtig” (Britz, 1999:589).

Voeg hierby dat sy van tyd tot tyd sterk en omstrede, selfs strydvaardige standpunte ingeneem het oor sake soos homoseksuele en nie-responsiewe mans, oor godsdiens, oor Pretoria as woonplek wat in haar oë sleg afsteek by byvoorbeeld Stellenbosch (in gedigte soos “Verpot” en “Verootmoediging” uit Van sjofar tot sjalom), oor die miskenning van Afrikaans … selfs oor die vraagstuk of katte in die hemel sal kom, al dan nie. Sulke standpunte het, soos reeds gesien, ook haar verse binnegedring (veral in sekere “haatgedigte” - Britz, 1999:592). Trouens, haar poësie neem meermaals ‘n betogende trant aan, vergestalt in hoofsaaklik beheerste maar dikwels ook woordryke, retoriekbesmette vryeverse, wat hoogstens “amusant” aandoen vanweë die felheid wat dit kan aanneem (Britz, 1999:595). In sulke gevalle mis ‘n mens dan die gedistansieerdheid en (self-)ironie, of taaldurf van byvoorbeeld ‘n Elisabeth Eybers en ‘n Emily Dickinson. Dit word volgens Britz (1999:591 & 592) “nogal breedsprakige ‘praatverse’” met ‘n gebrek aan “intensiteit”.       

Oor sulke dinge is Spies dan ook in die kritiek oor die kole gehaal.

‘n Keur soos die onderhawige, wat baie van bogenoemde ‘besondigings’ wegsnoei, laat ‘n mens egter die sterker kante van Spies se werk sien. En laat myns insiens duideliker uitstaan dat Digby Vergenoeg (”haar oerbundel” - Britz, 1999:589) en Hiermaals uit 1992 (”‘n ryp, volwasse bundel” - Britz, 1999:595) hoogtepunte in haar oeuvre verteenwoordig.  

‘n Groeipunt ná Hiermaals is die groter religieuse nederigheid in die aangesig van die naderende lewenseinde. Ná die rebelserigheid van Hiermaals en ook nog Die skaduwee van die son (1998), is daar in Duskant die einders (2004) ‘n religieuse inkeer te bespeur (al staan sy steeds “wars van elke leer”, luidens “Wyding”). Dis ‘n aantreklik aardse, sintuiglike religiositeit wat verwoord word. Die lewe duskant die graf word ervaar as ‘n bestek van verwondering. 

Na my smaak is Spies op haar beste wanneer sy as spreker meer op die agtergrond tree, soos in sekere portrette, en baie van die kuns- en kunstenaarsgedigte wat verspreid deur haar oeuvre voorkom. Hoewel die onvermydelike vergelyking wat die intertekstuele verwysings in laasgenoemde gevalle tot gevolg het, meermale ongunstig vir Spies uitval.

Momente van weerloosheid, wat in Spies se later bundels steeds dikwelser verwoord ord, en waartydens sy dan suggestiewer te werk gaan as in die betogende gedigte, is ‘n ander bron van haar aantreklikste digkuns. Die slotgedig uit Duskant die einders is ‘n voorbeeld:

 

Heemkeer

            For I am homesick after mine own kind

            Ezra Pound: “In durance”

 

Daar is donker en valstrikke in ‘n bos

maar smagtend op pad na eie soort

moet jy daardeur; moet jy roep of skree

dat ‘n waaksame jou hoor,

‘n vuur maak of ‘n lamp aansteek

dat jy die spoor nie byster raak,

tuiskom by wie jy hoort.

 

Die titel van hierdie samestelling deur Johann de Lange is derhalwe eintlik ‘n goeie een om Spies se onthoubaarste bydraes tot die Afrikaanse poësieskat te benoem. By wyse van die relativering impliseer Die skyn van tuiskoms dat reis en verlange eintlik die sentrale motiewe van haar oeuvre is. Britz (1999:589) het juis aangetoon dat die meerderheid van die titels van haar vroeër bundels “met die idee van ‘n lewensreis verband hou” (soos ook enkele van die lateres): Digby Vergenoeg, Winterhawe, Dagreis, Oorstaanson, Duskant die einders… In ‘n aantal gedigte (byvoorbeeld “Weteringschans”, “Wie die verlange ken”, “Tweespalt” en “Manifes”) word die verlange as digterlike leitmotief pertinent uitgehef. Vergelyk laasgenoemde gedig:

 

Ek wil die heimwee behou

na al die Edens van my wêreld

sodat Goethe se versugting

na die land waar die sitroene bloei

nooit aan my vreemd sal word nie

en my verse kan leef

omdat die verlange

die asem is van die poësie[.]

 

So word die tema van die voortdurende (emosionele sowel as fisiese) migrasie tussen die genoemde drie streke waarin sy haar besonders tuis voel (veral die Boland en Holland), gesinjaleer. Ook, by uitbreiding, haar verse oor die kosbare, wonderbaarlike aardse - maar waarin dan dikwels juis ‘n bewussyn figureer van die tydelike van die belewing vanweë die mens se sterflikheid, óf waarin die lig van die hemelse afskyn (soos in “Heemkeer” hierbo). Die spanninge tussen bestaanekstase en bedroënheid, tussen liefde en onvervuldheid/afkerigheid, tussen kunsskepping (waaronder die “taalspel” en “tekstase” van die digkuns, wat op die boemlesingagterplat vermeld word) en ontnugterende werklikheid, word eweneens in die bloemlesingtitel opgevang.  

De Lange se keur versterk dus Spies se profiel as unieke, nie-modieuse digter wat miskien nie poëtikale en tematiese berge versit het nie, maar toeganklik skryf “oor sentimente en menslike probleme van baie poësieliefhebbers [...] sodat sy altyd ook ‘n besonder gewilde en selfs geliefde digteres was” (Britz, 1999:589).

Bernard Odendaal, Departement Afrikaans en Nederlands, Duits en Frans, Universiteit van die Vrystaat

 

Bronnelys  

Britz, E.C. 1999. (Profiel oor) Lina Spies (1939-). In: Van Coller, H.P. (redakteur). Perspektief en profiel. ‘n Afrikaanse literatuurgeskiedenis, deel 2. Pretoria: J.L. van Schaik Akademies. Bladsye 588-597.

Terblanche, Erika. 2009 (geplaas op 5 Maart). Lina Spies (1939). Sanlam/ATKV/LitNet Afrikaanse Album. http://www.litnet.co.za/cgi-bin/giga.cgi?cmd=cause_dir_news_itme&cause_id=1270&new... (Besoek op 25 Mei 2010.)

Onderhoud. Lina Spies

Thursday, February 18th, 2010

Die skyn van tuiskoms

‘n Onderhoud met Lina Spies deur Johann de Lange  

 

Lina Spies. Foto: Lucia Brand

Lina Spies. Foto: Lucia Brand

Lina Spies is op 6 Maart 1939 op Harrismith in die Noordoos-Vrystaat gebore waar sy die middelbare skoolloopbaan deurloop. In 1958 begin sy studeer aan die Universiteit van Stellenbosch waar sy in 1963 haar meestersgraad behaal met ‘n skripsie oor Elisabeth Eybers. Vanaf 1968 tot 1970 studeer sy aan die Vrije Universiteit (Amsterdam) in die Nederlandse Taal en Letterkunde.  Sy verwerf aan die einde van hierdie studies die titel van “doctorandus” deur die finale mondelinge eksamen te slaag en met ‘n skripsie oor die beroemde Nederlandse digter Martinus Nijhoff se sonnettesiklus Voor dag en dauw waarvoor sy groot waardering van verskeie Neerlandici ontvang. Sy publiseer ook naas artikels oor die Afrikaanse letterkunde gereeld artikels oor die Nederlandse poësie .In Maart 1982 promoveer sy aan die Universiteit van Pretoria op ‘n proefskrif oor D.J. Opperman.

Lina Spies het gedoseer aan die Universiteit van Port Elizabeth, die Universiteit van Stellenbosch en die Universiteit van Pretoria.  Vanaf 1987 tot 1999 was sy professor aan die Universiteit van Stellenbosch in die Afrikaanse en Nederlandse Letterkunde.

Uit haar pen het agt digbundels verskyn: Digby Vergenoeg (1971); Winterhawe (1973); Dagreis (1976); Oorstaanson (1982); Van sjofar tot sjalom (1987); Hiermaals (1992); Die skaduwee van die son (1998) en Duskant die einders (2004).  Vir Digby Vergenoeg het sy die Eugène Marais-prys van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns en die Ingrid Jonker prys gekry.

*

Die skyn van tuiskoms - ‘n Keur het vanjaar by Human & Rousseau verskyn. 

 

Hoe het jou liefde vir poësie begin. Wat het dit afgevuur?

 

My liefde vir die poësie is by my gewek deur my vader. Dit is ‘n liefde wat hy ook aan my twee susters oorgedra het. Hy het gereeld vir ons gedigte voorgelees uit die destydse bloemlesing van E. C. Pienaar, Digters uit Suid-Afrika. Pienaar het natuurlik by die vroeë Afrikaanse poësie vasgesteek en dus was my eerste kennismaking met die Afrikaanse poësie die werk van die sogenaamde “Driemanskap”, Totius, Celliers en Leipoldt. Veral die oorlogsliriek van Leipoldt en sy natuurpoësie het ‘n onuitwisbare indruk op my gemaak. Wat baie belangrik was vir my eie ontwaking as poësieliefhebber en sekerlik ook van my digterskap was dat my pa baie van sy geliefkoosde verse uit sy hoof geken het. As ons op reis was, het hy dit van agter die stuurwiel opgesê. Hierdie voordragte het my hiperbewus gemaak van versritme. My pa se liefde vir die poësie het ook Engelse gedigte ingesluit. Hy het die verhaal van ‘n Engelse gedig vertel of die inhoud opgesom en dit dan voorgedra en terwyl ek die meeste woorde nie kon begryp nie, het die ritme en die klank my meegevoer. Ek het ook ‘n hartstog vir die musiek en ek moet erken byna uitsluitend vir klassieke musiek. Dit is dan seker ook die rede waarom ‘n gedig by my eintlik altyd by ‘n versreël begin en alhoewel ek hoofsaaklik die vrye vers beoefen, is die ritmiese struktuur vir my van die allergrootste belang. Wanneer daar iets met die ritme haper, hinder dit my en sal ek alles in my vermoë doen om dit reg te stel.

 

Jy is een van die min digters wat nog nie oor jou vriendskap met Opperman & die rol van sy diglaboratorium uitgewei het nie. Ek voel dis belangrik dat so iets opgeteken word & nie verlore gaan nie. Hoe het jy hom ervaar as mens, as mentor?

 

Ek sal nog ‘n keer uitgebreid vertel van die rol van D.J. Opperman as mens en mentor in my lewe. As my pa vir my die vlam van die poësie aangesteek het, dan het Opperman dit laat brand. Dit bly vir my ‘n ope vraag of ek werklik in alle erns my aan die digterskap sou gewy het as Opperman nie in my derde studiejaar professor aan die Universiteit van Stellenbosch geword het nie. As professor in die Afrikaanse letterkunde het hy met sy eerste kreatiewe skryfkursus in die derde jaar begin. Dit het al my moed geverg om vir hom twee van my gedigte te gee om in sy eerste “bloemlesing” uit die werk van derdejaars op te neem; natuurlik anoniem. Dié verse van sy eerste “Letterkundige Laboratorium” is daardie jaar, 1960, nog in die groot klas bespreek. Van die volgende jaar af is die derdejaars in twee groepe verdeel; diegene wat in taalkunde en diegene wat in letterkunde wou spesialiseer. Opperman het egter alle aspirant-digters tot sy Letterkunde Spesiaal-kursus toegelaat saam met die toppresteerders in die letterkunde. Wat ek ten eerste wil noem, is dat Opperman deur sy leiding gesorg het dat die gedigte altyd simpatiek bespreek is. Hy het nooit afbrekende kritiek of persoonlike opmerkings toegelaat nie. Dit is natuurlik ook verhoed deurdat hy vooraf die gedigte gekeur het, wat dan getik en ingebind is in die vorm van ‘n “bundel”. Sy benadering was om eerstens die lewende kern in ‘n gedig te soek en dan kon daar kritiese kommentaar gelewer word. Op dié manier het studente ook geleer wat ‘n goeie en wat ‘n swak vers is. Opperman het nooit die gesprekke oorheers nie, maar heeltyd dialoog gestimuleer. Die belangrikste wat ek op menslike vlak oor die poësie van hom geleer het, is om nie  te bly steek in die persoonlike nie en om veral te besef dat die liefde en die godsdiens die twee moeilikste onderwerpe is om oor te dig. Hy het veral nadruk gelê op die belangrikheid van ‘n digter se sintuiglikheid; dat die digter moet leer om sintuiglik te lewe en hom met iemand anders te vereenselwig; in sy woorde: “om in iemand anders se vel te kruip”. Ek het langsamerhand begrip gekry van wat hy oor die poësie geglo het en die eerste keer wat ek my met iemand anders vereenselwig het, was met Anne Frank. My gedig “Vir Anne Frank van Het Achterhuis” was dan ook die eerste gedig van my wat Opperman in sy geheel goed gevind het. Ek glo dan ook vas dat my digterskap in alle erns by daardie vers begin het. Wat ek veral van Opperman as mens onthou, is sy kompromislose eerlikheid en sy integriteit. Hy was ‘n “man for all seasons” en deurentyd was sy balangstelling in my digterskap vir my ‘n steun en ‘n inspirasie. Die herinnering daaraan vervul nog steeds vir my hierdie funksie.

 

Jy het op ‘n keer vir my vertel van die omstandighede rondom die skryf van “Op die dood van Riëtte” & jou huiwering daaromtrent & die raad wat Opperman jou gegee het wat gehelp het om die gedig te skryf.

 

Ek was in 1966 in ‘n ernstige  motorongeluk waarin ek as passasier ernstig beseer en my vriendin se driejarige dogtertjie op slag dood is. Die geestelike letsels van so ‘n gebeurtenis dra jy lewenslank. Tot vandag praat ek nie graag daaroor nie. Maar in my gedig “Op die dood van Riëtte” het ek in die eerste weergawe weggeskram van die skokkende aard van die dogtertjie se verminking. Opperman het dié leemte aangevoel en vir my uit Totius se “O, die pyn-gedagte” aangehaal:

Sy was so teer soos ‘n vlindertjie,

sy’t lugtig omheen geswerf;

‘n asempie wind kon haar vlerkies breek

en - kyk watter dood moes sy sterf!

In my gedig was die uitbeelding van die kinderlike kwesbaarheid daar, het Opperman gesê, maar wat hy mis, is die uitroep “en - kyk watter dood moes sy sterf!”. Ek het dit in my gedig terug gaan skryf en so is dit in Digby Vergenoeg opgeneem. My vrees dat die ouers dit te kru sou vind, was misplaas; hulle het die finale weergawe om die egtheid daarvan meer waardeer as die eerste “mooier” teks.

 

Ek sou jou nie ‘n religieuse digter noem nie, maar dit is nietemin ‘n belangrike faset van jou oeuvre. Hoe verstaan jy die relasie tussen godsdiens & kuns, & hoe het jou godsdiensopvatting oor die jare verander?

 

Ek is baie bly dat jy my nie ‘n “religieuse digter” noem nie; allermins wil ek ‘n “Christelike digter” genoem word. Die redes lê voor die hand. Ons het in Afrikaans te veel skryfsters (vroueskrywers) wat met ‘n vooropgestelde Christelike doelstelling skryf. My gedigte het meermale ‘n religieuse ervaring as tema of impuls, maar dit word nooit met ‘n evangeliese oogmerk soos om die “blye boodskap” te verkondig of om “van Jesus te getuig”  geskryf nie. Daar is ‘n dun membraam tussen die poëtiese en die religieuse. Om eenvoudig te verduidelik wat ek daarmee bedoel: Ons kan slegs in metafore oor God praat, want God is transendent. Omdat die poësie, tensy dit in alledaagsheid verval, altyd iets van die transendente verwesenlik omdat dit die onsêbare probeer sê, kan ek nooit ‘n ateïs wees nie. My godsdiens-ervaring het deur die jare radikaal verander. Ek het baie werke van vooraanstaande teoloë wat geen tradisionaliste is nie, gelees. John Shelby Spong, ‘n Episkopaalse Amerikaanse biskop het naas Karen Armstrong - om my maar by twee te hou - my denke verander. Spong sê dat die Christelike kerk uiteenval in “literalists” en “dropouts” Diegene wat nie meer die Bybel letterlik kan lees nie - waaronder ek my bevind - word meesal “dropouts” m.a.w. ateïste, maar dit is nie die enigste alternatief nie. ‘n Mens kan die Bybel ook anders lees en anders glo. Ek is ‘n Bybelsgevormde mens en digter. Ek kan die Bybel nooit prysgee nie. Ek wil dit daarby laat. Hoe anders ek begin glo het, sal wel uit van my jongste verse blyk wat hopelik in ‘n volgende bundel sal verskyn.

 

Reis is nog iets wat jou baie na aan die hart lê, verál Nederland. Ek meen reis maak emosionele inhoude los & skep kreatiewe afstand & spanning. Die spanning tussen Nederland & Boland, of Vrystaat & Boland het al gesorg vir pragtige gedigte.

 

Naas die vreugde wat ek haal uit die  musiek en die poësie is om te reis vir my heerlik. Ek het ‘n reisiger geword toe ek in 1968 in Amsterdam in die Nederlandse Taal- en Letterkunde gaan studeer het. My eerste Europese lente was agt dae in Parys wat ek nog altyd beskou as die een volmaakte week in my lewe. Ek is nie Frans magtig nie, maar die vriend wat die Franse hoofstad vir my oopgemaak het, kon die taal vlot praat. By die ontdekking van die wonder van Parys en dit in stralende weer - ‘n uitbarsting van nuwe lewe na die lang, koue, donker winter - was ek dus in hoë mate taalloos en daarom was die aankoms op Roozendaal, die eerste stasie na die Belgiese grens, vir my ‘n ware tuiskoms. Dit is dus inderdaad so dat reis vir my terselfdertyd vernuwing en vervreemding beteken wat my kreatiewe drif stimuleer. Vir my eerste Europese somer is ek Griekeland toe wat my na nege maande in Nederland ten opsigte van die landskap en eetgewoontes baie sterk aan Suid-Afrika herinner het. Reis is dus vir my ook ‘n tuiskoms op verskillende mooi aardse plekke. Teenstellings en paradokse behoort tot die wese van die poësie wat seker ook die rede is waarom die spanning tussen verskillende tuistes ‘n sterk kreatiewe stimulus vir my is. My liefde vir die Vrystaat is streekgebonde. Ek was gelukkig genoeg om op my geboortedorp Harrismith my hele skoolloopbaan te deurloop. My kindertyd en vroeë jeug was dus nie soos wat Sheila Cussons ‘n keer aan my gesê het oor haar grootwordjare ‘n “nagmerrie van verhuising” nie. Ek gebruik die woorde direk in “Bereide plekke” (Oorstaanson) wat die sterkste uitdrukking is van my gelukkige jeug. Harrismith aan die voet van Platberg in die Oos-Vrystaat met sy tafelberge en Leeukop, my grootouers aan moederskant se plaas, geleë in die heuwellandskap van die Noord-Vrystaat, was my kinderparadys. Dit bly ‘n landskap wat my aangryp, maar ek woon, wat my betref, op die mooiste dorp in die land, Stellenbosch, en ek is verknog aan die Boland. Ek het ‘n Kaapenaar geword.

 

Hoekom Nederland? Wat is dit wat jou so trek?

 

Nederland is soos wat nou reeds moet blyk my “venster op Europa” om ‘n frase te gebruik waarvoor Van Wyk Louw so lief was. My eerste ware ontdekking van die visuele kunste het kort na my aankoms in Nederland plaasgevind en wel in die Mauritshuis in Den Haag. Daar het ek Vermeer se “Het meisje met de parel” en sy “Gezicht op Delft” die eerste keer gesien. Onvergeetlik. In Amsterdam in die Rijksmuseum is dit natuurlik veral die Nederlandse Goue Eeu wat voor my verwonderde oë tot openbaring gekom het: Al die Nederlandse ou meesters is daar verteenwoordig, in die besonder natuurlik Rembrandt. My belangstelling in die visuele kunste sluit natuurlik vandag baie Europese museums buite Nederland en ander kunstenaars as die Nederlandse meesters in, maar dit het in Nederland begin. Amsterdam is ‘n bruisende stad en ek is daar altyd onmiddellik tuis. Ek dink ek kan met goeie reg sê dat ek in Amsterdam opnuut gebore is. Dat dit juis Amsterdam en nie een van die ander beroemde stede van Europa is nie, het baie met die taal te make. Ek praat vlot Nederlands en ‘n stad maak jy nie jou eie voordat jy nie die taal van sy mense leer praat en hulle aard leer ken het nie. Amsterdam is die stad van my hart en Nederland is nie my “tweede land” nie - ek dink nie so hiërargies nie - maar my “ander land”.

 

Jy skryf nogal dikwels oor familiefigure, iets wat nie álle digters doen, of dan bedréwe doen nie, & dan is verse oor & vir kinders ook van jou debuut af deel van jou digkuns. Wei uit.

 

Die skryf oor familiefigure het seker maar sy oorsprong in twee teenoorgestelde waarhede: enersyds is jou bloedverwante die mense wat die naaste aan jou is, veral binne gesinsverband, andersyds “trek die lewe jou skeef en uitmekaar” (om myself aan te haal uit my gedig “Wond” in Dagreis). Namate jy ouer word en jyself en jou familielede ander verbintenisse aangaan, kom daar dikwels vervreemding tussen mense wat deur bloed en gene intiem aan mekaar verbind behoort te wees. In my jongste ongepubliseerde verse het familiefigure verdwyn, omdat ek die waarheid van die Bybelse woord ervaar, nl. dat “‘n vriend wat naby is, beter is as ‘n broer wat ver is”. Clarissa Pinkola Estes vertel die sprokie van die lelike eendjie oor in haar besondere boek Women who run with the wolves. Sy sê dat iemand soms verkeerd afgelewer word en dat sy dan op soek moet gaan na haar eintlike familie; so kom die eendjie uiteindelik na baie verwerping uit by die swane wat haar as een van hulle herken en kom sy tuis by wie sy hoort.

 

Soos die bundels op mekaar volg het jou werk ‘n toenemende elegiese kwaliteit begin kry, ‘n spanning tussen die hiermaalse & die hiernamaalse, & ‘n gevoel van ontuis wees waar ookal.

 

Die toenemende elegiese toon in my opeenvolgende bundels is al gedeeltelik beantwoord deur my antwoord oor die familiefigure in my werk. Met die vermeerdering van jou lewensjare vermeerder ook jou verliese. Jy verloor jou ouers en jou mentors en op ‘n dag ontdek jy dat jou ondersteuningsnetwerk weggeraak het en die valmat wat hulle vir jou uitgehou het onder jou uitgeruk is. Dit is dan dat lojale vriende al hoe belangriker word; hulle wat saam met jou ‘n hele end pad geloop het, maar ook jonger vriende. En op ‘n dag is die valmat en die vreugde terug en ontdek jy dat jy nog gedra word; altyd natuurlik ook deur jou blywende passies. Maar dit is goed dat ‘n mens die moed het om te treur, ook in jou verse, want dit waarborg genesing. Hoe dan ook, is my huis met my medehuisbewoners, my katte, en my dorp met sy berge nog my tuiste in die hiermaals. Oor die hiernamaals voel ek soos M.E.R.: dit is nie my saak nie. Vir my (soos vir jou) was dit ‘n vonds toe die titel vir die keur na ‘n lang gepieker oor ‘n moontlike titel my te binne geskiet het: Die skyn van tuiskoms. Jy kom nooit werklik tuis nie - dit is ‘n skyn - en tog kom jy oënskynlik by tye tuis en so ‘n tuiskoms “skyn” (straal ‘n welkomsgroet uit).

 

Hoe het jy die wording van die keusebundel ervaar? Hoe voel dit om terug te kyk oor byna 40 jaar se digwerk?

 

Ek kan niks anders sê as dat ek innig dankbaar is oor die verskyning van die keur uit my werk nie. Dit is eerstens ‘n keuse wat ek nie self sou kon gemaak het nie en ek kan nie genoeg beklemtoon dat jy dit uitstekend gedoen en my daarmee aangenaam verras het nie. So ver as wat ek gelees het, het ek gedig vir gedig jou keuse hartlik beaam. Ook met jou teks op die agterblad waarin jy my werk karakteriseer, kan ek nie anders as my volle instemming betuig nie. Tweedens en nie minder belangrik nie, is ek diep dankbaar oor hierdie erkenning deur H&R. Ek is ook besondere dank aan Alida Potgieter verskuldig met wie ek en jy nou saamgewerk het. Wat kan ‘n mens sê oor ‘n digterskap van veertig jaar, behalwe dat jy dankbaar is dat jy oor so ‘n lang periode kon aanhou skryf? Om jou uit te leef oor soveel jare heen in die kunsvorm wat jy beoefen, is ‘n buitengewone voorreg.

 

Ek weet jy neem Opperman se raad oor praat oor die broodjie in die oond baie ter harte, maar wil jy nie tóg die een & ander rondom jou nuwe manuskrip sê nie? En wat is jou standpunt wanneer dit kom by hersiening van gepubliseerde verse?

 

Ek het inderdaad trou gesweer aan Opperman se digterlike beginsel dat ‘n mens nie praat oor koek in die oond nie. Hy was ‘n puristiese Afrikaansspreker maar hy het inderdaad gesê “koek” en nie “brood” nie. Maar Opperman het darem stralend erken as daar ‘n broodjie in die oond was. Ek sal dus erken dat die manuskrip van ‘n nuwe bundel so-te-sê voltooi is. Ek is nie ‘n prolifieke digter nie in dié sin dat daar altyd ‘n tydsverloop van enkele jare tussen my bundels is. Dit is hoogs onwaarskynlik dat ek twee agtereenvolgende jare ‘n bundel sal publiseer. Die kreatiewe proses werk net nie so by my nie. Die waarheid dat skeppende werk 1% inspirasie en 99% persperasie vereis, is in hoofsaak waar, maar ek het daardie één persent inspirasie nodig om te kan dig. Ek kan nooit ‘n wilsbesluit neem om ‘n gedig te skryf nie. Natuurlik kan jy die moontlikheid om geïnspireer te word vergroot deur oop te staan teenoor die lewe. En dit doen ek nog altyd. Ook laat ek nuwe gedigte eers lê en neem hulle dan later weer op om te sien of ek tevrede is met wat daar staan. Meesal is dit nie absoluut die geval nie en werk ek aan ‘n gedig. Ek ontdek dat ‘n reël ritmies lomp is of ek sien ‘n cliché raak wat deurgeglip het en ek verbeter die teks sover moontlik. Jy sal weet dat ek my weerhou het om radikaal in te gryp op gedigte uit vroeëre werk wat jy gekies het vir die keur. Om jeugverse oor te skryf, sou ‘n vervalsing wees as jy die jeugdige sentiment as ouer digter meteens verleentheidswekkend vind. Op twintig het jy nie die lewenswysheid van jou latere lewe nie. Ek het my egter wel veroorloof om sekere wysiginge aan te bring in twee gedigte in my debuut Digby Vergenoeg: In die vers oor Frans Liszt het ek enkele woorde met sterker ekwivalente vervang en in my gedig oor Anne Frank (wat baie na aan my hart is) het ek ‘n enkele reël bygevoeg om nie misverstand te wek oor die persoon na wie Anne haar in haar eensaamheid gewend het nie: Binne die konteks was dit duidelik Peter van Daan, maar in die eerste weergawe kon in die  oorgang van strofe 3 na strofe 4 die “hom” op Dussel in strofe 3 geslaan het, al sou die kenner van Anne se dagboek nie die fout maak nie, aangesien Anne Dussel nie kon uitstaan nie! Ek was baie bly dat die keur my die geleentheid gegee het om sulke verbeteringe aan te bring. Wat die leser van my volgende bundel kan verwag? Ek self wag gespanne op die reaksie! Sela.

*

Ter afsluiting, twee onlangse verse wat nie in ”Die skyn van toekoms“ opgeneem is nie …

 

Naderende winter 

Die herfs kon ek nooit rym

met treurigheid en dood nie:

daarvoor het die kleuregloed in die bome

en die oorstelpende blou van die lug

my nog altyd te veel verruk.

En die strakheid van die winterbome

laat my sien wat deur digte loof onsigbaar is:

die sierlike skadu’s van hul takke

op gewels wat wit glinster in die son.

 

Waarom sal ek dan krampagtig vasklou

aan my somerblare

en nie die wisseling vertrou

van die seisoene in ‘n menselewe,

my oorgee aan die eb en vloed

wat stu in elke gety

waarvoor net een ding nodig is: die liefde?

 

Die rivier

Dit is nie die water wat die rivier maak nie;

dis sy vloei wat bome voed

dat hulle hul takke lowend strek

of soos obeliske reik na bo:  

die groen katedraal vir mens en dier.

 

Die rivier weet die veld verlang

dat hy diep in haar in sal dring

om hul verbintenis te komsumeer

dat sy versadig haar groen kleed

oor heuwels en valleie sprei.

 

En dit is die see waarna die rivier verlang

as hy kronkel oor vlaktes

en dawerend oor rotse tuimel

om in sy val nog ‘n reënboog op te vang

wat bly skitter wanneer hy verder stroom

totdat hy aankom by die bestemde plek

waar ‘n rivier hom druisend in die golwe stort

en lispel oor spoelklippe en skoon sand,

maar waar hy stik in wat hy met hom saam moes sleur

aan wat in hom gemors is op sy lang tog

deur die  besoedelende hande van die mens

waarteen hy nou in moet beur

om met die magtige waters een te word.

 

 © Lina Spies

 

 

Lina Spies oor poësie en veeltaligheid

Thursday, January 14th, 2010
Lina Spies

Lina Spies

Prof. Lina Spies se afskeidbrief aan haar alma mater, die Universiteit van Stellenbosch, en haar betrokkendheid by die US Universiteitsraad, is gister in LitNet se Seminaarkamer geplaas. ”In diens van twee moeders” is inderdaad ’n ontroerende besinning oor haar jarelange betrokkenheid by die universiteit.

Nietemin, die gedeelte wat my oog gevang het, is waar sy skryf oor die poësie en die rol daarvan in ‘n veeltalige samelewing; ‘n beskouing wat sy koppel aan TS Eliot se lesing, “The social function of poetry“, wat hy in 1943 voor die Brits-Noorweegse Instituut gelewer het. Haar kommentaar en aanbod is so aangrypend, dat ek graag vanoggend se Nuuswekker met enkele aanhalings daaraan afstaan:

“Hy (Eliot) spreek die oortuiging uit dat elke volk sy eie poësie behoort te hê, nie net vir diegene wat van poësie hou nie, maar omdat dit ‘n verskil maak aan die samelewing in sy geheel, waarby hy diegene insluit wat geen plesier het aan poësie nie en selfs nie die name van hulle eie digters ken nie. Wat hy presies bedoel met hierdie stelling, werk hy uit in ‘n skerpsinnige, logiese betoog [... ] Dit is volkome begryplik, sê Eliot, as ‘n mens in ag neem dat poësie primêr uitdrukking gee aan emosies wat individueel en persoonlik is, terwyl gedagtes eie is aan gemeenskaplike denke.”

En dan - “Waarom vra die literêre impuls om uitdrukking in die moedertaal en nie in die amptelike taal waarmee die digter/skrywer vertroud is deur onderwys en die openbare gesag van dié taal nie? Eliot se antwoord lui: ‘It is easier to think in a foreign language than it is to feel in it. Therefore no art is more stubbornly national than poetry. A people may have its language taken away from it, suppressed, and another language compelled upon the schools; but unless you teach that people to feel in a new language, you have not eradicated the old one, and it will reappear in poetry, which is the vehicle of feeling.’ As ‘n taalgemeenskap nie meer digters en skrywers voortbring nie, waarsku Eliot, ‘their language will deteriorate, their culture will deteriorate and perhaps become absorbed in a stronger one’. Die feit dat daar steeds baie in Afrikaans gepubliseer word, is tans nog gerusstellend, maar dit kan ‘n valse gerusstelling word. Kwantiteit het nog nooit literêre kwaliteit gewaarborg nie en die dikte van die nuwe Groot verseboek (2008) en die voorlesings van gedigte tydens kunstefeeste kan ‘n rookskerm word vir die kwaliteit van wat as poësie aangebied word.”

Gewis ‘n uiters belangrike kommentaar wat deeglik ter harte geneem behoort te word. Terloops, dit is ook ‘n standpunt wat aansluiting vind by  Charl-Pierre Naudé se mees onlangse blog-inskrywing.

Prof. Spies sluit haar brief af met die volgende treffende aanhaling uit die Eiliot-lesing (On poetry and poets, 1969: Faber & Faber): “Poetry is a constant reminder of all the things that can only be said in one language, and are untranslatable. The spiritual communication between people and people cannot be carried on without the individuals who take the trouble to learn at least one foreign language as one can learn any language but one’s own, and who consequently are able, to a greater or less degree, to feel in another language as well as in their own.”

***

Goeie nuus vanoggend is dat ons kan bekend maak dat daar binne enkele dae ‘n nuwe toevoeging tot die webblad gaan wees. Ons webmeester is naamlik besig om ‘n blogruimte voor te berei vir ‘n aantal Nederlandse en Vlaamse digters om ‘n kollektiewe blog met die naam Wisselkaarten te bedryf. Ons is van mening dat dié inisiatief grootliks sal bydra tot sinvolle gesprek en wisselwerking tussen die Afrikaanse poësie en die digkuns van die Lae Lande; iets wat hopelik tot voordeel en verryking van beide sal wees. Die name van die digters wat hieraan gaan deelneem, sal binnekort bekend gemaak word.

***

Nuwe plasings op die webblad vanoggend is Bernard Odendaal se omvattende bespreking van oogensiklopedie, Gilbert Gibson se bundel wat in November verlede jaar verskyn het. En hemel, watter kragtoer is dít nie! Net soos Charl-Pierre Naudé se vertalings van twee gedigte deur César Vallejo en een van Raymond Carver wat gister in die vertaalkamers geplaas is.

Hê pret met alles en onthou om prof. Lina Spies se volledige brief op LitNet te lees. 

Mooi bly.

LE

 

 

Emily Dickinson – Vertaling in Afrikaans

Thursday, November 19th, 2009

Emily Dickinson – Vertaal deur Lina Spies & D.J. Opperman

 

 

 

‘n Ruiker vir Emily

Emily Dickinson

  

I

Voorneme

  

Sê nou ek sê: ek sal nie wag?

sê nou ek sê: ek breek vandag

nog uit dié liggaam wat my hou

ontvlug, my lief, bevry na jou?

 

O, ek sal als vergeet van leed

wat somers was aan my en sweet

en winters was en kou.

  

II

Verlangliedjie

  

As jy weer in die herfs sal kom

dan word die somer vaal

en kan ek uit my hart se klop

net dié verwagting haal:

 

geen vreugde oor die groen en blou

want als wat bloei en als wat sing

word in dié jubeltyd gering

voor daardie koms van jou.

 

En as jy dan nog talm

word ek die een wat sweef

om oor seisoene in die son

so ligweg by jou uit te kom:

 

Ek sal ’n flikkerstoffie

jou oë dol rinkink

dan word jy van die liefde

soos ek uiteindelik blind.

 

Maar ek bly tog van vlees en bloed

en tel met kinderryme

my vingers dat hul pyn –

“Eina Deina Dana Das” –

wanneer hou jy my vas?

   

III

Versoek

  

Vang in ’n bokaal

die son as hy in die Weste daal.

Klink op die môre ’n heildronk

dat oor die kranse amber en rooi

die dagbreek ontdooi.

Sê my: wie weef die blou

soms so skugter, so sag

dat in my arms die sfere oornag?

 

Tel noot vir noot die tremolo

as in verbaasde takke

Piet-my-vrou weer wysie hou.

En die lighoofdige by,

hoeveel snapsies drink hy

van die môre se dou?

 

Wie het my Boland-huis gebou,

die gewels so hoog, die luike so dig,

net die berge my sig?

Wie laat my watter feesdag

uit hierdie skoonheid, uit hierdie sel?

 

Wie ryg die krale van die stalagmiet,

wie tel die drup-drup van my verdriet?

 

Skryf, sê, vertel –

stuur jou woorde, jou liefde

in die koker van die lugtige libel.

  

 

IV

In die skaduwees

 

 Ek het die Piet-my-vrou gevrees,

gehoop my ore suis

maar dig-te-by hoor ek hom aan

nou byna al bedees.

 

Sy vreugderoep het ek gedink

sal soos ’n mes kan sny:

daarna sou nooit ’n jubelnoot

my weer kon hartseer kry.

 

Die affodille is ’n gloed,

’n kleed so vreemd aan my:

ek wou dat hulle knoppies

vir altyd toe kon bly.

 

Ek het gewens die gras groei ruig

oornag tot bo my hoof

dat met sagte halms

hul laag oor my sou buig.

 

Maar ek die wegkruipmeisie

is oog nog oor gespaar:

nie een wat hierdie voorjaar

om my ontwil versuim –

 

voorwaar, hul’t almal opgedaag

om met hul dom luidrugtigheid

ook my te kom behaag.

  

 

V

  

Straal daar weer oor my ’n môre,

breek ooit weer vir my die dag?

As ek hoog was soos die berge,

sou ek rustig daarop wag?

 

Gaan dit op ’n vreemde vywer

soos ’n waterlelie oop?

Kan ek oor die donker kolke

veilig na die rooidag loop?

 

Ek is ’n verdwaalde pelgrim,

gryp my, Here, as ek sink!

Wys met ’n bedaarde vinger

waar die môre na my wink.

  

 

VI

  

Daag die voorjaarsangers op

en ek leef nie meer,

sal jy jou vergewis

dat op die grasperk

daar vir die lyster

iets te ete is?

 

Breek tot my gedagtenis

krummels vir die outjie van olyf

en weet hoe deur bevrore lippe

ek my dankie wryf.

  

 

VII

  

Hart, ons sal hom vergeet,

jy en ek vannag!

Sy warmte sal ek vergeet,

vergeet jy sy lig en lag.

 

Vermaan my as jy klaar is

voor blink gedagtes kom:

Haas jou, hart, wat draal jy?

Netnou onthou ek hom!

  

 

VIII

Die antwoord

  

In die hemel se klaskamer

sal ek eendag als verstaan

as ek voor die Meester staan.

 

Met salwing vir die seerste plek

 – soos Hy in sy Woord beloof –

sal Hy die angel uit my trek,

elke pyn vir goed verdoof.

 

Ek sal elke smart vergeet

waarvoor ek geen rede weet,

met my aarselende hand

eindelik vasgryp aan sy kleed.

  

 

IX

Diens

  

Ek hou die sabbat deur tuis te bly;

ander woon ’n kerkdiens by.

Dis ’n boomgaard wat my koepel bou,

een koorlid is ’n Piet-my-vrou.

 

Geen predikant wat my verveel:

ek hoor alleen dié soet gekweel.

Geen koster lui sy somber klok:

ek’s ’n pelgrim sonder Sondagrok.

 

God – die Meesterdominee –

voer in my kerk die woord

en ek – hemelsgelukkig –

luister ongestoord.

  

 

X

Vliegvermoë

  

Vaagweg bevoeg om te kan vlieg,

versmaai ek my kledy:

uit knel en knyp van my kokon

kan vlerke my bevry.

 

’n Swiep van silwer, sweem van blou –

ek snak na wolk en lug!

Die hemel is bedag op my

wat fronsende sy skitter lees.

 

Om te kan sweef, is vlinderkrag

maar ek bly onbeholpe haak

en stotter as die seine doof

vir digterlike spraak.

 

  *

 

Om ‘n Karoo te skep het jy
‘n vygie nodig en een by,
een vygie en ‘n by
en mymery;
is bye skaars
dan net die mymery.

(Vertaal deur D.J. Opperman, & opgeneem in: Lina Spies, Die Enkel Taak, HAUM-Literêr).

 

Philip Larkin - Vertaling in Afrikaans

Thursday, November 19th, 2009

Philip Larkin - Vertaal deur Lina Spies, Marlene van Niekerk

 

Die bome

Philip Larkin

 

 

Aan die bome begin die blare glim

soos woorde wat net-net versweë bly;

die loof deur nuwe botsels stilweg uitgespin

se prilgroen is om byna van seer te kry.

 

Is dit so omdat hulle herbore word

en ons verouder? Nee, hul sterwe ook.

Die truuk van hulle jaarlikse verjonging

is opgeteken in die ringe van hul grein.

 

Tog soos kastele in hul lugtige luister

is dit asof in hul diggedorste lowerkleed,

hul elke lente fluister: verlede jaar is dood,

begin opnuut, opnuut, opnuut.

 

(Vertaal deur Lina Spies)

 

Die bome 
Philip Larkin
 

 

Die bome wil in blad uitskiet,

 

 

‘n Geheim nog net weerhou;

Die prille bot ontspan, ontvou,

Die groen daarvan ‘n soort verdriet.

 

Is dit dat ons een leeftyd dien

En hul herbore word? Hul moet ook sterf.

Hul voorjaarstruuk van nuut uitsien

Staan ringsom in die grein gekerf.

 

Tog, onbedaarlik bries en bruis

Die blaarkastele elke jaar.

Verby’s verby, wil hul verklaar,

Begin van voor, herrys, herrys.

 

 

©  Vertaling van The Trees [Philip Larkin] deur Marlene van Niekerk

Die bekendste skrywer op Harrismith

Tuesday, August 25th, 2009

Wie het ooit gesê Harrismith het nie net sulke interessante mense soos dié waaroor iemand soos Jan Spies geskryf het nie?

Leon Strachan tydens ‘n gesprek 

I

Vir baie Harrismitters en oud-Harrismitters het Leon Strachan met sy sketse oor die dorp en die distrik binne enkele jare waarskynlik die bekendste skrywer op die Noordoos-Vrystaatse dorp onder die imposante Platberg langs die N3 geword. Omdat Harrismith bekende Afrikaanse persoonlikhede en skrywers soos Petronella van Heerden, Lina Spies en Klaas Steytler opgelewer het, is dit nie ‘n geringe prestasie nie. Dit is daarom gepas en hoog tyd om iets meer oor hierdie onbekende bekende Harrismithse skrywer en sy werk te vertel.

Ek het Leon nog altyd ‘n terughoudende mens gevind wat nie graag oor homself praat nie en in sy boeke die klem baie selde direk op homself laat val, maar hoe kan ‘n mens anders as om in ‘n artikel soos hierdie jou te laat verlei om oor hom te skryf? Iemand met soveel te vertelle oor so baie interessante Harrismithse karakters moes sekerlik al daarop bedag gewees het dat hy uiteindelik self gekarakteriseer sal word. Bowendien het vandag se leser ‘n meer as gesonde belangstelling in “die ‘mens’ agter die boek”, wat vir N.P. van Wyk Louw liefs buite die gesigsveld moes bly. Daar is immers deesdae lesers wat verkies om eerder óór ‘n skrywer te lees as om die skrywer se boeke te lees.

II 

Leon Strachan is op 5 Januarie 1954 gebore in die “Home” van die legendariese vroedvrou, suster Anne Dugmore. (Die Home was een van die laaste sinkhuise op King’s Hill en was die blyplek van offisiere van die Britse besettingsmag ná die Anglo-Boereoorlog tot in Mei 1913.) Leon se pa was Jacobus Johannes of Kosie Strachan (1927–2005) en sy ma is Mary Iris of Molly (geb. Davie; 1932–). William, die Skotse stamvader van die Strachans, oor wie min bekend is, het in die helfte van die negentiende eeu na Suid-Afrika gekom en hom naby Sannaspos in die Suid-Vrystaat gevestig. Die Strachans het nog in William se leeftyd verafrikaans. Aan die einde van die twintigste en begin van die een en twintigste eeu sou twee neefs, Alexander en Leon Strachan, opmerklike Afrikaanse skrywers word. Hoewel hulle uiteenlopende rigtings in hulle skryfwerk ingeslaan het, sou die bronne vir hulle prosa sekere gemeenskaplike trekke hê.

Leon word saam met sy suster, Linda (1958–), op die familieplaas Killiecrankie, op die Wattlegrove-pad en sowat 24 kilometer suid van Harrismith, in ‘n sterk patriargale gemeenskap groot. Die huis, naby die voetheuwels van die Drakensberge, is in ‘n vallei tussen twee plato’s geleë. Om die plaas is die landskap egter redelik plat. Kenmerkend van die plantegroei in hierdie gebied met sy kwaai winters is die rooigras (Themeda triandra) en tamboekiegras (Hyparrhenia hirta) wat geil teen die hellings groei. Bees- en skaapboerdery is die belangrikste landbou-aktiwiteite, terwyl mielies en wintervoer ook aangeplant word. Aangesien min inheemse bome en struike hier voorkom, vang die bloekoms, denne en swartwattels by die yl verspreide plaasopstalle die oog. In die somer sien ‘n mens groot wit wolke en in die middae rol die mis skouspelagtig oor die Drakensberge van die see se kant af in.

Die agrariese wêreld waarin Leon grootword, is ryk aan stories en hy hang graag aan sy pa se lippe. As kind maak hy aantekeninge oor verhale wat hy by onder andere suster Dugmore en die innemende spekulant Jan Eagar, wat so lief was vir handgemaakte swepe en sweepstokke, gehoor het. Hy doen dit op so ‘n manier dat ek wat “onder oom Jan se oë” grootgeword het duidelik sy maniërismes in “Die groot dors van Collinspas” in Blafboom kan sien en hoor. Op Killiecrankie begin Leon se pa, wat sy lewe lank ‘n passie vir die outyd en ougoed sou hê, ‘n plaasmuseum in ‘n buitegebou waarin hy van oraloor ou kombuis- en plaasgereedskap en -implemente, tuie, skoutrekgoed, ‘n eiehandig gerestoureerde Kaapse kapkar uit 1898 en propagandaplakkate uit die Suid-Afrikaanse politieke geskiedenis uitstal. Die plaasmuseum bestaan vandag nog. Hierdie voorwerpe wakker van vroeg af by Leon ‘n belangstelling in die geskiedenis aan.

Ek en Leon was net ‘n jaar lank saam leerlinge aan die Hoërskool Harrismith – in 1971 toe hy in matriek en ek in standerd 6 was. Ek kan nietemin goed onthou dat hy dié jaar rugby vir die eerste span gespeel het, ‘n sersant in die skoolkadetkorps was en, les bes, opstelle en briewe geskryf het wat hom die ATKB-prys vir Afrikaanse stelwerk besorg het. As ek deur jaarblaaie van die skool (menige aspirantskrywer se eerste publikasiegeleentheid) blaai, merk ek dat daar al in sy standerd 8-jaar van sy Afrikaanse en Engelse opstelle en gedigte opgeneem is. Die eerste een se titel was, byna profeties, “Oupa vertel”! In 1970 verskyn ‘n opstel wat daardie jaar ‘n A-toekenning tydens die kunswedstryd op die dorp verwerf het.

Ná skool het Leon medies aan die Universiteit van Pretoria gaan studeer, maar in die tweede helfde van die eerste jaar sy studies gestaak. Dit was in die dae toe blanke seuns vanaf sestien jaar dienspligtig was en baie by die stryd op die grens tussen Suidwes-Afrika/Namibië en Angola betrokke geraak het. In 1973 begin Leon dus sy twee jaar militêre diensplig en offisiersopleiding by die Krygskool op Kimberley, waar hy later as ‘n opleidingsoffisier vir kommando-offisiere aangestel is. Daarna word hy ‘n stigterslid van die Berede Sentrum op Potchefstroom en die bevelvoerder van die eerste berede operasionele groep wat op die grens ontplooi word.

Ná die voltooiing van sy diensplig gaan studeer Leon aan die Universiteit van die Oranje-Vrystaat en verwerf in 1979 die B.Sc.Agric.-graad met landbou-ekonomie en veekunde as hoofvakke. In sy finale jaar is hy die stigter en redakteur van die halfjaarlikse tydskrif UOVS Landbou, waarin nagraadse studente en dosente oor afgehandelde navorsing kon skryf. Terug op Harrismith gaan boer hy saam met sy pa op die plaas Nesshurst naby die KwaZulu-Natalse grens, wat sy pa vyf jaar vantevore gekoop het. Kort voor lank ontmoet hy op die dorp sy toekomstige vrou, die onderwyseres Elsa (geb. Viljoen). Hulle trou in 1980 en twee seuns, Jakkie en Bossie, word uit die huwelik gebore.

Miskien is daar iets ironies daarin dat Leon sou trou met Elsa, die Engels-onderwyseres. Want Elsa moes die gevreesde en genadelose mev. El Bedford, die jongste suster van die skrywer sir Laurens van der Post en die moeder van die Springbok-agtsteman Tommy Bedford, se plek volstaan. En het Leon nie soos ons almal gely onder die “corrections of corrections” en “corrections of corrections of corrections” nie? Maar so is sy skryfvermoë ook sekerlik geslyp. Dit is egter veral die Afrikaans-onderwyser, mnr. Eben Louw, met die helder omroeperstem by atletiekbyeenkomste, wat Leon se skryftalent raakgesien en aangemoedig het.

As boer raak Leon ‘n tyd lank saam met Hercules de Jager en Jaap de Villiers by die georganiseerde landbou betrokke. Tussen 1982 en 1989 was hy die sekretaris en tussen 1989 en 1992 die voorsitter van die Swinburne-boerevereniging. Daarby dien hy op die Landboukredietraad, wat boere finansieel bystaan. As lid van die Harrismith Kommando met sy ryk geskiedenis beklee hy die rang van kaptein. (In “Dice die administrateur” in Blafboom, en “Die kaal vrou” en “Die polisieman se keps” in Botterbek skryf hy oor kommando-ervarings.) Maar dit is veral danksy die nastergal wat onder besproeiing op Nesshurst met sy allemintige dam verbou en in die plaasfabriek ingemaak word dat Leon en Elsa wyd bekend word. Nastergal (Solanum nigrum) dra bossies klein, ronde bessies wat donkerpers is wanneer hulle ryp is en kom op bewerkte lande voor waar hulle tot een meter hoog groei. (Die “oumense” het natuurlik reeds konfyt gekook van die bessies wat die plaasmeisies in skottels versamel en vir ‘n klompie pennies kom verkoop het.) Jare lank reeds sien ‘n mens, dikwels tot jou verbasing, oral in die land die bekende flessies met nastergal (en tot soveel as twintig ander soorte konfyt) met die twee tarentale op die veelkleurige “Annie’s”-etiket wat van Nesshurst af kom.

Van Leon Strachan het sedert die einde van die 1980’s ‘n aantal publikasies die lig gesien, wat van ‘n diepgaande belangstelling in die geskiedenis en die verhale uit Harrismith en die distrik getuig. In Maart 1988 verskyn Harrismith Kommando: 130 jaar, wat “kapt. Leon Strachan” nagevors en gepubliseer het. Die herdenking van die 130-jarige bestaan van die Harrismith Kommando was ‘n uitvloeisel van die publikasie van dié boek. Daarna skryf en publiseer hy saam met Marí Smit die jubileumuitgawe Kerkenberg 1942–1992: 50 jaar (1992) in opdrag van die NG Kerk Kerkenberg op die dorp waarvan hy toe ‘n lidmaat was. Dit is egter veral met die sketse in Blafboom: Legendes van ‘n dorp (1999) dat hy as skrywer aandag trek en ‘n betekenisvolle aanhang verwerf. Daarna publiseer hy in min of meer dieselfde toonaard Blinkoog: Lieglegendes (2002), wat sy stem en die verhaalmatige sterker laat deurkom. Die derde bundel, Botterbek: Ware wolhaarstories (2004), waarvan die titel met die vorige twee s’n allitereer, sit hierdie patroon voort, sodat ‘n mens op grond van die ruimte waarin die teks afspeel, die soort karakters en die wyse van vertelling sonder veel teenspraak van ‘n drieluik kan praat.

Hoewel Leon met sy boeke so ‘n groot aanhang onder Harrismitters en oud-Harrismitters het dat daar in 2003 van Blafboom ‘n hersiene uitgawe kon verskyn, was daar, anders as wat van ‘n gepubliseerde boek verwag kan word, tot dusver byna geen gepubliseerde resepsie van sy werk nie. Alleen maar in die Harrismith Chronicle en Volksblad het berigte verskyn oor die plaaslike bekendstellings en sukses van sy boeke. Maar dit beteken nie dat sy boeke nie gelees en hy in sy gemeenskap as skrywer waardeer word nie. Daarvan is daar genoeg getuienis vir almal wat maar enigsins ‘n oor op die grond het en Harrismith en sy mense “ken”. Volgens die (oud-)personeel van die plaaslike biblioteek (onder andere mev. Rina Crawley) is sy boeke onder die gewone lesers baie gewild, maak die skrywer hulle van hul eie en die dorp se geskiedenis bewus, en kweek hy terselfdertyd ‘n belangstelling in die dorp se “eie skrywers”.

III

Reeds in die “Inleiding” tot Blafboom (1999) tipeer Leon Strachan sy tekste as “sketse”, wat dan ook die subgenrevorm van die literêre prosa is wat die meeste in sy drie bundels voorkom. Die 1994-HAT se lemma vir die “skets” in die literatuur lui soos volg: “Kort, beskrywende artikel, verwant aan die essay, maar minder formeel en ligter van aanslag” (p. 933). Volgens A.P. Grové en Elize Botha (Handleiding by die studie van die letterkunde, 1975) is dit as ‘n noemer van ‘n soort literêre prosa “‘n ligte vlugtige tekening” en val die klem “op die mees tiperende eienskappe van die landskap of watter onderwerp die kunstenaar dan ook al wil voorstel – die mees tipiese dan, volgens sy interpretasie daarvan” (p. 110). Die skets word dus eintlik met die beeldende kunste geassosieer en oordragtelik vir ‘n subgenre in die prosa gebruik. Nadat hy ‘n aantal uitsprake van kundiges oor die skets aangehaal het, lei M.C.A. Seyffert in T.T. Cloete (red.) (Literêre terme en teorieë, 1992) af dat die skets “gewoonlik ‘n kort prosateks is, dit het nie die verwikkelde strukturele samestelling van ‘n kortverhaal nie; die opeenvolging van gebeure en omstandighede wat verander, kom selde voor; daar is nie veel sprake van karakterisering nie en die storie-elemente is by dié subgenre in ‘n groot mate uitgeskakel” (p. 498).

Leon se drie bundels (iemand het by geleentheid gesê ‘n skrywer met drie boeke het die eerste keer ‘n oeuvre!) bestaan uit kort prosastukke waarvan die langste, in Blafboom, twaalf bladsye beslaan. Blafboom is tewens die bundel waarin die tekste gemiddeld die langste is. In die volgende twee bundels, Blinkoog en Botterbek, is die tekste oorwegend korter en heelparty is net meer as ‘n bladsy lank. Belangrik vir nog ‘n nader tipering (sonder skoolse oogmerke) van hierdie tekste is die subtitels van die bundels, naamlik “Legendes van ‘n dorp”, “Lieglegendes” en “Ware wolhaarstories” (lg. in ‘n bundel met ook ‘n hand vol sketse oor wolboere en -boerdery). Die skrywer vestig uit die staanspoor die leser se aandag op die “legende” en die “storie”, wat as ‘n belangrike rigtingwyser beskou word.

Een van die lemmas oor “legende” in die HAT lui soos volg: “Verhaal van ‘n werklike of denkbeeldige persoon wat nie op die werklikheid berus nie, maar op volksoorlewering en gevolglik soms geloofwaardigheid mis” (p. 611). Met hierdie tipering van die subtitels val die klem op die storie of die fiktiewe in die vertellings oor die uitsonderlike persone en gebeure in die tekste (van wie Annamarie Roberts ‘n aantal akkurate houtskooltekeninge vir Blafboom gemaak het), maar die karakters is nie só legendaries of fiktief dat hulle met verloop van tyd agter ander vertellings “verdwyn”, sodat dit nie seker is of hulle werklik bestaan het nie. (”Caveman Spies” in Blafboom en “Die jakkalsjagter” in Botterbek is moontlik uitsonderings.) Die deurlopende verwysing na feitelike bronne (waaruit sommige figure soos Masottenjan selfs “saamgestel” is) laat min twyfel oor die intieme wisselwerking tussen fiksie en werklikheid.

‘n Voorbeeld van ‘n teks waarin fiksie en werklikheid vermeng word, is “Wie is die vyand van die Boerevolk?” in Blafboom. Die teks handel oor die skending van die Burgermonument voor die stadsaal op Harrismith op 1 Maart 1940, wat gemoedere tussen Nasionaliste en ondersteuners van die Ossewa-Brandwag en genl. J.C. Smuts se Rooilissies laat hoog loop het. Talle Afrikaners het die gebeurtenis as ‘n klap in hulle rigting beskou en geweier dat die skade herstel word. Later is ‘n granietpaneel met die volgende bewoording aangebring: “Hierdie monument is in die nag van 1 Maart 1940 deur die vyand van die Boerevolk geskend”. Aangesien die skuldiges nooit aangekeer is nie, is lank gewonder wie vir die daad verantwoordelik was. Dit is die onderwerp van ‘n skets vol feite en wetenswaardighede (oor onder meer die ontwerp en oprigting van die monument), maar waarin terselfdertyd klaarblyklik denkbeeldige dialoog voorkom waarmee die verteller ‘n fiktiewe dimensie in die teks inbring en (soos ook elders) asem in die historiese gebeure blaas. Hierdie werkwyse in die gees van die historiese roman kom dikwels in die bundels voor.

Die noukeurige weergawe van historiese feite saam met die anekdotiese laat die leser mettertyd ‘n soort “geloofwaardigheid” in die anekdotiese aanvoel. Die skrywer van monografieë oor die Harrismithse Kommando en die NG Kerk Kerkenberg (albei is voorbeelde van streeksgeskiedskrywing) het in sy tekste veral ‘n sterk aanvoeling vir geskiedkundige feite. Baie van die tekste handel oor figure (soos Jan Kriek wat “sy vrou vir ‘n fiets verruil het”; die legendaries-sterke Caveman Spies met sy kontraste; die negentiende-eeuse “groot vegkaptein”, aldus Mosjesj, kmdt. C.J. de Villiers of Masottenjan; suinige Casper Badenhorst wat een van die eerste motorkarre op die dorp gekoop het; die onverskrokke en goedhartige perdeliefhebber Kethlaan Odendaal) sowel as oor gebeure wat in die herinnering voortlewe (soos die Rebellie van 1914 en die episode toe die rebellerende genl. Wessel Wessels te perd in die stadsaal ingery het waar soldate lê en slaap het; die skending van die Burgermonument; Jan Els (met die mooi dogters!) se bykom van ‘n ongewilde stadsklerk).

Maar die tekste kan waarskynlik ten beste as boerestories, kontreisketse en anekdotes getipeer word. Sommige is selfs uitgebreide grappe. Één so ‘n voorbeeld is “Die duur ram” in Botterbek wat handel oor die twee vriende wat van ‘n ramveiling in Bloemfontein af gekom het en toe hulle die nag langs die pad honger word die duur Merino-stoetram in plaas van die goedkoop kudderam vir ‘n stukkie vleis geslag en dit eers die volgende dag agtergekom het. Van hierdie teks, wat as ‘n stoeplegende beskou kan word, bestaan verskillende variante, wat dit ‘n goeie voorbeeld van tipiese volkskuns maak. Deurdat die verteller by geleentheid ‘n sterk selfironiserende ingesteldheid openbaar (soos in “My debietkant” in Blinkoog) en die tekste iets van ‘n boerewysheid openbaar, is die vertellings egter op ‘n hoër vlak as dié soort vertellings wat sterk op die vernuf van die voordraer steun.

Die leser leer ken ‘n wye spektrum van karakters, wat van die negentiende tot die een en twintigste eeu strek. Hulle word op ‘n menslike wyse voorgestel, sonder dat daar ooglopende appeltjies geskil word. Daar is selfs sprake van ‘n vorm van “demokrasie”, want oor ryk en arm, man en vrou, geleerde en selfs ongeskoolde, oor almal word iets vertel. Niks wat gedenkwaardig is, word oorgesien nie. Net soms word die gegewe verdoesel, soos in “Die blikslaer” in Blinkoog en “Die groot ontkenning” in Botterbek, waar die ware identiteit van die karakters verhul en net deur ingewydes agterhaal sal kan word. Temas word ook nie altyd heeltemal uitgewerk nie, en sommige karakters maak meer as een keer hul verskyning.

Wat is Leon se bronne? Volgens die kunstenaar Thelmi Bekker (wie se pragtige veelkleurige omslagontwerpe vir die eerste twee boeke herinner aan Marc Chagall se kleindorpse tonele) is dit Leon se pa wat die stimulus van heelparty van die verhale was. Sy pa het, soos reeds genoem, van kleins af vir hom stories vertel. Daar is ook die lang lyste informante wat in die verskillende boeke erken word met wie hy onderhoude gevoer of van wie hy andersins inligting bekom het, en baasvertellers soos Jan Eagar, Hans Spies en Willem Odendaal wat in die tekste aan die woord kom. Betekenisvol is dat verskillende generasies se perspektiewe verteenwoordig word, sodat die versamelings verhale iets van ‘n kollektiewe geheue word. Die leser word hiervan onder meer bewus uit frases soos “Volgens oorlewering …”, “Die ou boere het gesê …” en “Daar word vertel …” in die tekste.

Daar is ook gepubliseerde bronne. Van die belangrikste is F.A. Steytler se Die geskiedenis van Harrismith (1932) en E.B. Hawkins se The story of Harrismith (1982). (Steytler was inspekteur van skole in die Vrystaat en die vader van die joernalis en skrywer, Klaas Steytler.) Daar is meer (soos dr. Petronella van Heerden se Kerssnuitsels (1962) en Die sestiende koppie (1965)) wat in die bronnelyste (wat op sigself betekenisvol is) aangedui word en daartoe bydra om die historiese en/of feitelike van die tekste te beklemtoon. Daar is ook daardie ryke skat van inligting, naamlik die Harrismith Chronicle, die plaaslike koerant wat weekliks verskyn en reeds sedert Oktober 1903 bestaan.

In die Afrikaanse literatuur het Leon voorgangers wat sover as Gustav S. Preller, M.E.R. en C.G.S. (Con) de Villiers teruggaan. Uit die meer onlangse verlede is daar die werk van Dot Serfontein oor die mense van die Vrystaat, Chris Barnard oor die Laeveld en Hennie Aucamp oor die Stormberge. En is daar nie “op ‘n hoër vlak” selfs elemente van die lughartige boereverhaal in Etienne Leroux se werk nie? Met sy sterk historiese bewussyn, noukeurige optekening van feitelikhede en wetenswaardighede en deernis met mense (in ‘n moralistiese era!) voeg Leon ‘n onderskeibare warm, intieme en persoonlike stem by. Soos baie van sy voorgangers s’n is Leon se verhale lig, met min somberheid, en word die vernames graag kortgevat. Hy het dit verder oor ‘n dorp, Harrismith, en ‘n kontrei, ‘n deel van die Noordoos-Vrystaat, wat nog nie in enige ander skrywer se werk soveel aandag gekry het nie. Dit verteenwoordig ‘n klinkende bydrae tot die Afrikaanse volkskultuur.

Wat is, op die keper beskou, die waarde van Leon Strachan se werk? Met die talle tipiese kenmerke van sy herkenbare en gesuggereerde karakters in ‘n landelike Suid-Afrikaanse gemeenskap, die feitelike en kontroleerbare inkleding van sy tekste en die insluiting van (kultuur)historiese wetenswaardighede gee hy aan die gemeenskap van Harrismith hul geskiedenis en herinneringe in ‘n geskrewe vorm terug. Talle gedeeltes van sy sketse sal mense ontroer, omdat hulle geliefde en legendariere figure en ‘n sekere grootliks verbygegane leefwyse daarin sal herken. Die tekste laat ‘n mens meermale gebeure onthou waarvan jy (gelukkig net voorlopig) heeltemal vergeet het. Op hierdie manier kan van die dinge wat andersins verlore sou raak moontlik minstens in die herinnering behoue bly.

By geleentheid het ek Leon gevra wie hy as die vyf of ses interessantste lewende en/of gestorwe Harrismitters beskou. Dit sou dan mense wees wat hy graag vir ‘n onwaarskynlike ete sou wou uitnooi om ‘n bietjie te gesels. Hy het nie gehuiwer om die eerste drie name te noem nie: “Jan Kriek beslis! Kethlaan Odendaal … Miskien oom Casper Badenhorst … Jan Promise … Genl. Wessel Wessels … Ek sal graag vir die generaal ‘n paar vrae wil vra …” Maar toe het hy ook ander moontlikhede genoem: “Masottenjan, dr. Petronella van Heerden, dr. Frank Reitz …”

Dat Jan Kriek, wat volgens oorlewering sy vrou vir ‘n fiets verruil het en deur die dorpskinders met hulle “krrr krrr krr” gekoggel is en oor wie Leon die eerste verhaal in Blafboom geskryf het, eerste in Leon Strachan se gedagtes opgekom het, spreek boekdele. Maar dit het my nie verbaas nie, want Leon het ware skrywersbloed in sy are. Die historikus en politikus sou sekerlik iemand anders gekies het, maar die skrywer sal met sy besondere sin vir “demokrasie” dalk juis ‘n karakter soos Jan Kriek uitkies.

Wilhelm Knobel van Bethlehem

Saturday, July 18th, 2009

Johann Lodewyk Marais

 

Met Wilhelm Knobel (1935–1974) het ek die eerste keer in koerantberigte oor die Sestigers kennis gemaak toe ek op hoërskool op Harrismith was. In daardie jare was skrywers op grond van hul teenkanting teen apartheid en sensuur baie in die nuus. Dink maar aan Breyten Breytenbach se toespraak in Februarie 1973 by die Sestigerkongres by die Somerskool van die Universiteit van Kaapstad, wat tot groot omstredenheid gelei het. Veral die nuwe, verligte Sondagkoerant, Rapport, het die leser op die hoogte van die woelinge gehou.

 

Tydens die Sestigerkongres is ’n foto van Breytenbach saam met Chris Barnard, John Miles, P.G. du Plessis, Lina Spies, Jan Rabie, Berta Smit, Hennie Aucamp, George Weideman en (byna eenkant) Wilhelm Knobel geneem. Op die foto het Knobel soos tewens byna al die ander mans ’n pak klere en ’n das aan en dra hy ’n sonbril. Dit was ’n era toe skrywers nog ’n “sense of occasion” moes gehad het. Breytenbach en Miles was die enigstes sonder das! Hierdie foto het lank my visuele beeld van Knobel bepaal.

 

In hierdie tyd, waarskynlik in 1973, het Knobel ’n keer in my klas ter sprake gekom. Die skoolhoof, mnr. Johan Steyl, ’n oud-Vrystaatse rugbyspeler, het met die st. 8-klas oor die vorige kwartaal se punte en ons vakkeuses kom praat. Met sy borselkop, staalblou oë en regop houding het Steyl gesag afgedwing en dissipline streng toegepas.

 

Steyl was sterk partydig vir wiskunde. Ter illustrasie het hy verwys na ’n leerling wat op Bethehem, die buurdorp waar hy elf jaar lank wiskundeonderwyser aan die Hoërskool Voortrekker was, hom gevra het waarom jy wiskunde op skool moet neem as jy nie in hierdie rigting gaan studeer nie. Steyl het nie van die vraag gehou nie, waarmee seker nie fout gevind kan word nie, en duidelik onvleiend verwys na een van die Sestigerskrywers en dié se foto wat onlangs in die koerant saam met dié van die ander Sestigers verskyn het. Die Sestigerskrywer waarna Steyl verwys het, was gewis Wilhelm Knobel.

 

Sestigerskrywers was in daardie jare omstrede, selfs op skool. In my Afrikaans-onderwyser, mnr. Cas Steenekamp, se klas was daar iets van ’n openlike stryd teen hierdie skrywers. Behalwe die berigte in die pers het die Broederbond agter die skerms ’n verbete stryd teen die invloed van die Sestigers gevoer, wat tot in die Afrikaans-klaskamer deurgewerk het. (Dit is ’n stuk geskiedenis waaroor ek nog uitvoeriger wil skryf.) Ek volstaan egter deur te sê dat Knobel ’n vae bekende was toe ek van sy onverwagse dood in Januarie 1974 gehoor het.

 

Die eerste bundel wat ek van Knobel besit het, het ek by die lank reeds vergete tak van Perskor in Andriesstraat in Pretoria gekoop. Dit was die Nagelate gedigte wat deur Knobel se jongste broer, Deon Knobel, versorg is en in 1976 deur Perskor gepubliseer is. Veral die biografiese inleiding tot die bundel het my belangstelling in hierdie skrander man geprikkel, terwyl die voorbeelde van sy handskrif my gefassineer het. (Die gedigte was ongelukkig nie op dieselfde peil as dié in die twee bundels wat tydens sy leeftyd verskyn het nie.) Uit die inleiding en die gedigte self kon ’n mens aflei dat Knobel ’n nogal moeilike lewe gehad het en dat veral sy laaste lewensjare nie maklik was nie.

 

As boorling van die Oos-Vrystaat het Knobel my nog altyd geboei, maar tot dusver is geen indringende aandag aan sy werk gegee nie. Selfs sy mede-Sestigers wat oor sy dood getreur en gesê het dat hy ’n betekenisvolle bydrae gelewer het, het min gedoen om sy lewe en werk aan ons bekend te maak nie.

Onderhoud: Lina Spies

Saturday, June 27th, 2009

Vraaggesprek met de Zuid-Afrikaanse dichteres Lina Spies

 door Hans Ester

 (Hierdie onderhoud verskyn ook in die somer-uitgawe van die tydskrif BEWEGING.)

Lina Spies

Lina Spies

De Zuid-Afrikaanse dichteres Lina Spies werd in 1939 geboren. Zij groeide op in de toenmalige Oranje-Vrystaat en studeerde Afrikaans en Nederlands in het idyllische Stellenbosch. Een verblijf van twee jaar in Amsterdam (studie aan de VU) had grote vormende waarde voor Lina Spies. In het werk van Lina Spies domineren vier onderwerpen: de verhouding tot God en Jezus Christus; het kwetsbare kind; de liefde voor zowel Zuid-Afrika als voor Nederland; het wonder van de poëtische scheppingskracht. De poëzie van Lina Spies weet de grote levensproblemen zodanig te verwoorden dat veel lezers in Zuid-Afrika hun eigen vraagstukken en ervaringen daarin vertegenwoordigd zien. Als lid van het bestuur van de Universiteit van Stellenbosch schuwt Lina Spies de discussie over de toekomst van het Afrikaans geenszins. Ook neemt zij met heldere stellingnamen deel aan hedendaagse theologische debatten binnen Zuid-Afrika, onder meer over de opvattingen binnen de zeer invloedrijke charismatische geloofsgemeenschappen. Het is de hoogste tijd om deze belangrijke schrijfster ook in Nederland aan het woord te laten.

Poëzie is een vorm van taalgebruik waarin de woorden veel beter en harmonischer op elkaar reageren dan binnen de spreektaal. Aan de andere kant bemoeilijkt poëzie het verstaansproces door de conventies van de “gewone” taal te doorkruisen. Dat lijkt tegenstrijdig. Wat is voor u het motief om in die verrijkte taal van de poëzie te schrijven?

 

Ek het nooit gekies om liewer poësie as prosa te skryf nie. As laerskoolkind het ek uiteraard opstelle geskryf wat absoluut vir my die heerlikste iets op aarde was om te doen en uiteraard was dit in die vorm van prosa. My onderwysers was onder die indruk van my opstelle en het my verseker dat ek ‘n “skrywer” gaan word. Ek het dus nie as jong kind aan myself as ‘n “digter” gedink nie, maar nogtans was die poësie ‘n lewende werklikheid in my jong lewe. My vader was’n groot poësieliefhebber en het gereeld - indien nie daagliks nie, dan wel weekliks - vir my en my twee susters gedigte voorgelees. As ons op reis was, het ons nie liedjies gehoor nie, maar verse wat hy van agter die stuurwiel voorgedra het. Op tienjaar het ek my eerste eenvoudige versie wat ek “Lenteliedjie ” genoem het, geskryf. Dit het so begin: “Die lente is jonk/ en die velde die pronk.” My vader het vir my die vlam van die poësie aangesteek en die groot Afrikaanse digter D.J. Opperman wat my professor in die Afrikaanse letterkunde aan die Universiteit van Stellenbosch was, het dit laat brand. Ek het besef dat ek ‘n digter is en onder sy leiding het ek ernstig begin gedigte skryf. ‘n Gedig meld hom by my aan meesal in die vorm van ‘n versreël. Die digter J. C. Bloem het in sy weergawe van hoe die ontstaansproses van ‘n gedig hom voltrek, daarop gewys dat die digter die “inhoud” en die “vorm” van die gedig tegerlykertyd vind. So gebeur dit ook by my. Ek sal nooit ‘n roman kan skryf nie. Dit ontbreek my volkome aan die vermoë om ‘n romanwêreld met personasies binne ontwikkelende relasies te konsipieer. Kortom: Ek het nie ‘n talent vir die epiek - en dus vir die prosa - nie.

 

Als hoogleraar Afrikaans en Nederlands in onder andere Stellenbosch analyseerde u literaire teksten. Ging dat gemakkelijk samen met het dichterschap en het mogelijk meer onbewuste proces van het scheppen van poëzie?       

 

Dit was vir my as hoogleraar in die letterkunde aan die Universiteit van Stellenbosch heerlik om “college” te gee. Die analise van literêre tekste - in die besonder gedigte - saam met studente was ‘n stimulus vir my eie digterskap en veral ook vir die skryf oor die literatuur. Die voltooiing van ‘n gedig met die wete dat dit geslaag het, is die ervaring van vervuldheid, maar ook die skryf van ‘n vakwetenskaplike artikel oor ‘n literêre onderwerp, bring ‘n besondere gevoel van voldoening met sig mee.

 

Het Afrikaans heeft een rijke schat aan slaapliedjes en andere kinderliedjes. Speelden deze liedjes een rol bij uw groei naar het dichterschap?

 

My bewuswording van die wonder van die poësie het by slaap- en kinderliedjies begin. Die enorme rol wat my vader in dié verband vervul het, het ek reeds op in gegaan. My moeder het ook vir my as klein kind gesing. Ek weet nie meer watter liedjies nie, maar sy moes self ook liedjies versin het, want sy het vertel dat ek dikwels gevra het: “Sing katte, Mamma, sing katte.” Ek was van kleins af versot op katte; vandaar dié versoek. As ek soos vir dié vraaggesprek met u noodwendig oor my eie poësie moet nadink en bundels moet herlees, val dit my op hoe ‘n groot aantal verse in my debuutbundel Digby Vergenoeg (1971) as ‘t ware vorm gevind het deur die herskepping van ‘n sprokie of deur verwysings na sprokies en kinder- of slaapliedjies. Dit word minder en verdwyn in my latere bundels wat eintlik bewys hoe belangrik hierdie kinderverse was vir die ontwikkeling van my digterskap.

 

Het is duidelijk dat het Afrikaans voor u een grote emotionele waarde bezit. Speelt de vergelijking met het Nederlands daarbij een rol?

 

My debuut het verskyn na my twee Amsterdamse studiejare in die Nederlandse taal- en letterkunde. Van aanvang tot hede is my poësie tematies beïnvloed deur Nederland en taalmatig deur Nederlands. My moedertaal Afrikaans het inderdaad vir my ‘n groot emosionele waarde; dit is benewens die taal waarin ek die gemaklikste is, ook as medium van my poësie my kosbare, onverhandelbare instrument. Ek glo dat Nederlands ‘n bron vir die taal van my poësie is sonder dat dit daardeur Neerlandisties word. Ek hoop dat ‘n Nederlandse woord of ‘n gesegde of ‘n uitdrukking in van my gedigte spontaan opgeneem word in idiomatiese Afrikaans.

 

Bijbelse thema’s en figuren komen regelmatig voor in uw werk. U kijkt op een originele manier naar de Bijbelse gegevens. Leidt deze originaliteit tot een soort concurrentie met de theologen, de ambtenaren van God? Door welke theologen laat u zich inspireren, terwijl zij zich op hun beurt door u laten inspireren?

 

Ek is noodwendig ‘n Bybelsgevormde digter omdat, getrou aan die gereformeerde tradisie, my vader soggens en saans by huis­godsdiens uit die Bybel voorgelees het. Die verhale uit die Ou Testament het my intens geboei soos o.a. die liefdesverhaal van Dawid en Migal wat neerslag gevind het in die gedig “Migal aan Dawid” in my debuutbundel. Episodes uit Jesus se lewe het ‘n groot aantal verse in Dagreis (1976) geïnspireer. Ek weet slegs van een gedig oor ‘n Bybelse figuur wat ontstaan het in konkurrensie met ‘n preek waarin Josef soos altyd - ook in ‘n Bybelse kinderboek van my - as ‘n edel figuur by uitnemendheid voorgestel is. In teenstelling met die dominee se preek, het ek Josef meteens gesien as ‘n “verwende, vervelende jongen” wat tereg die toorn van sy broers teen hom laat ontvlam het met sy drome oor hoe hulle as sterre of koringgerwe voor hom buig. Dié siening oor Josef was slegs ‘n prikkel en kom slegs indirek tot uitdrukking in die gedig “Jakob seën sy seuns” (Oorstaanson: 1982). Die gedig is juis getrou aan die siening van ds. J. Overduin oor Jakob as vader se vormende  invloed op sy seuns met hulle bepaalde persoonlikhede in sy boek Profetische vergezichten. Nee, ek het hierdie gedigte dus op ‘n enkele uitsondering na (waarvan ek bewus is) nie in konkurrensie met teoloë geskryf nie. Ek is en word deur teoloë geïnspireer en enkeles van hulle ook deur my, maar dan bedoel ek inderdaad teoloë soos wyle Ferdinand Deist, en nie dominees nie. Ek weet byna nie van dominees wat poësie lees nie en ek - of enige ander digter - sal dus selde of nooit deur hulle in ‘n preek aangehaal word. My jongste bundel Duskant die einders (2004) het wel aanklank gevind by hedendaagse Afrikaanstalige vrysinnige teoloë wat graag my gedig “Geloofsbelydenis van ‘n afvallige” siteer, selfs in plaas van die kerklike credo.

 

Predikanten kijken graag met een schuin oog naar de literatuur. Ze oordelen ook met een zekere gretigheid over literatuur. Wat is uw reactie daarop? Een glimlach of boosheid?

 

As predikamte ‘n negatiewe oordeel oor literêre werke uitspreek  - meesal oor die prosa, omdat die poësie selfbeskermend is weens sy  gekonsentreerde aard en gevolglike mindere toeganklikheid - op grond van die eis dat dit “mooi” en “skoon” moet wees, maak dit my kwaad. Literatuur ontspring aan die werkliheid wat nooit sonder sy skadukante is nie. Dit is gekompliseerde mense wat met konflikte in hulleself in die reine probeer kom en die verwikkeldheid van menseverhoudings wat van oudsher af die stof vir groot literatuur lewer. Ook die digter is bewus van hierdie kompleksiteit en gee daarin uitdrukking in die poësie.

 

Hoe verhoudt zich uw dichterlijk werk tot het grote thema van de tijdelijkheid, van de vergankelijkheid van het menselijk bestaan. Is poëzie een dam tegen de vergankelijkheid?

 

Sintuiglikheid is vir elke goeie digter essensieel. “Die digter dink deur die oog”, het Opperman gesê. In sy gedig vang die digter deur sy sintuie - soos die skilder op sy doek - ‘n stukkie van die uiterlike werklikheid vas of op metaforiese wyse ‘n stukkie innerlike werkliheid en gee daaraan iets bo-tydeliks. Op dié wyse word gedigte wel skanse teen die tyd en kan die gedig die digter en die leser momenteel van die bewussyn van die tydelikheid van die menslike bestaan bevry, selfs by die onderliggende besef van eindigheid en sterflikheid. Ek dink dit is wat ek doen in my verse oor Vermeer in Duskant die einders. Dié titel beklemtoon juis die bestaan in die eindige - hierdie lewe -  by die wete van die eindigheid daarvan; die lewe kom tot ‘n einde êrens aan ‘n grens  soos wat die oorskouing van ‘n landskap vir die waarnemer ophou by die horison. Vermeer se skilderye, het een kommentator gesê, gee uitdrukking aan die volheid en selfgenoegsaamheid van die huidige oomblik.

 

Het lijden neemt in uw werk een voorname plaats in. De geschiedenis van de twintigste eeuw, in het bijzonder de terreur van het nationaal-socialisme, is prominent aanwezig in uw gedichten. Ligt daarin ook een morele plicht om te blijven getuigen van het onrecht en van de kracht van het woord, zoals bijvoorbeeld bij Anne Frank?

 

Ek is deur my kennismaking met die dagboek van Anne Frank in my Stellenbosse studiejare en in my Amsterdamse studiejare deur my inwoning by ‘n Jodin wat Auschwitz oorleef het, intens bewus gemaak van die Sjoa. Die rasgebaseerde ideologie van die Nazi’s wat verantwoordelik was vir die uitwissing van sesmiljoen Jode het ook mettertyd die wete by my ingeskerp van wat die aaklige implikasies en gevolge van rassisme is. Dit was terselfdertyd ‘n pynlike  bewuswording van die apartheidsideologie van ‘n veertigjarige politieke bewind in my eie land wat nooit volksmoord nagestreef het nie, maar wel mense van mekaar geskei en vervreem het op grond van ras. Na Auschwitz en na demokratisering in Suid-Afrika is die grensoorskryding na die “Ander” - om ‘n begrip van Levinas te gebruik - nog steeds in ons een-en-twintigste-eeuse wêreld nie altyd ontmoeting en erkenning nie, maar dikwels konfrontasie en konflik. Daarom moet ons bly getuig van onreg en van die krag van die woord; spesifiek die woord wat verbind en heel.

 

De gedachte van het leven als reis, als onderweg zijn naar een bestemming, is in uw werk duidelijk aanwezig. Waarheen zijn wij als mensen onderweg?

 

Ek is ‘n plekgebonde mens en terselfdertyd ‘n reisiger. Ek is verknog aan my skilderagtige mooi dorp Stellenbosch en as mense my sedert ek met pensioen is, vra waar ek nou woon, kyk ek hulle verbysterd aan en antwoord: “Op die enigste plek waar ek kan woon, Stellenbosch”. Soms voeg ek by: “Behalwe in Amsterdam, maar dit het vir my om velerlei redes onmoontlik geword.” Ek moet dikwels in Nederland en in Amsterdam kom om my in harmonie met myself te voel. Reis is vir my in meerdere opsigte heerlik en stimulerend en lewer dikwels impulse vir my poësie. Dit is vir my  opwindend om my eie te maak met ‘n vreemde plek soos in 1990 met die dorp van Emily Dickinson waarbinne sy haar afgesonder het, Amherst in New England. Ek het op die spore geloop van dié digteres vir wie se poësie ek ‘n hartstog het en my tuis gevoel in haar dorp. Om dolgraag te reis en plekgebonde te wees, is naruurlik ‘n paradoks in my poësie, maar die digter as mens sit ook vol teenstrydighede. As mens is ek altyd in laaste instansie onderweg na my medemens en deur hom/haar na God.

 

U bent een kenner en groot liefhebber van muziek. Is poëzie verwant aan muziek?

 

Sonder  musiek kan ek nie lewe nie, maar ek moet erken dat ek nie ‘n katolieke smaak het nie en dat my liefde beperk is tot die klassieke musiek. Die hoogtepunt van alle kunsuitinge is vir my die kunslied waarin die woord en die musiek met mekaar één word. My liefde sluit al die liederkomponiste in, Schubert uiteraard, maar selfs nog in hoër mate Schumann. Die poësie is myns insiens wel intiem verwant aan die musiek en as ‘n gedig ontaard in spreektaal in dié sin dat die versreël nie meer die ritme bepaal nie, kan ek dit nie meer waardeer nie.

 

MIGAL AAN DAWID 

En Dawid sê vir Migal: …ek sal nederig wees in my eie oë en met die slavinne waar jy van gepraat het, met hulles al ek myself eer …

II Sam. 6: 22

 

Vir my is daar geen hisop en geen duiwe:

soos een wat buitekant die stadspoort roep,

bly ek deur jou onaangeraak.

 

Die spies van Saul het jou skrams gemis;

die trefkol van my hart was kwesbaar-oop

vir die klippie uit jou hart se slingervel -

 

ek het langsaam, stuk-stuk doodgegaan:

jou lied was opgeloste sonskyn in my oë

wanneer jy voor die koning speel;

prinses van Israel, bedroë luistervink!

Saul wou Merab aan jou gee.

 

Ek was die tweede keuse vir sy strik

toe die eerste strategie van haat misluk:

my liefde was so goedkoop, maar jou eis

was oorlog vir die koning teen die Filistyn,

honderd voorhuide vir ‘n huwelikskoopprys.

 

Skoonseun van die koning! Gewaande regterhand

van God, het ek jou deur die venster af laat sak,

geglo my liefde sou jou elke keer weer red,

onbeskaamd gejok en jou afwesigheid gecamoufleer

met ‘n huisgod in ons warm bed.

 

God! Jy is net aan my drome toevertrou:

Abigail was die woestynoog van jou dorre vlug

- sy het honderd rosynekoeke aangebied -

Saul het my aan Palti weggegee as vrou.

 

Ek het gewag soos God wag

totdat die steenbok van die berge lam,

ek het die tyd gemeet soos God

die maande tel waarin hul dragtig is.

 

En toe jy met die ark terugkom,

het ek ineens onthou: koordans en tamboeryn!

My besete hart het my vooruitgegaan:

Saul het duisende verslaan! Dawid sy tienduisende!

‘n Prinses het hoog voor jou gaan staan,

maar jy was nakend voor jou God;

 

toen kon ek heerlik haat:

sanger van Betlehem, kneg van Jahweh,

man na God se hart, gesalfde van die volk,

teenstander van Saul, boesemvriend van Jónatan,

minnaar van Batseba, vader van my nooit-gebore kind.

 

hart van my hart.

 

Ek sal die rondheid van my borste bly behou

vir ‘n bekenning van die hande

van jou toegewyde siterspel,

die halleluja van my hart sal swyg

dat jy dit kan verwek.

 

Dawid, laat een duif wegvlieg, die ander stadig bloei,

lê jou hande weer priesterlik op my

al sal ons een-wees nooit ‘n kind

laat harp speel in die veld.

 

Uit: Lina Spies, Digby Vergenoeg. Kaapstad en Pretoria 1971

 

Onverklaarbare

 

U is vandag die Hippie-koning,

die Jesus-people kroon en klee u.

U is die arme

en ons moet ons goed uitdeel,

Ons liggaam oorgee om verbrand te word.

Maar u kleed was in een stuk geweef

dat die soldate daaroor moes dobbel

om dit ongeskeur te kan behou.

 

Hulle maak van u ‘n queer, ‘n moffie,

hulle sê u was gay op swerf met twaalf mans

en dat u Petrus en Johannes innig liefgehad het.

Niks kom daarby nie: dié liefde van eensoortiges.

maar u het u hande na kinders uitgestrek

en Petrus eenmaal vir die duiwel uitgeskel.

 

Hulle praat van Maria

wat keer op keer u by die maaltyd opgesoek het

om by u voete te kon sit,

om met teer hande u te salf.

Maar oor die leë graf het u vir haar geroep:

    “Raak my nie aan nie!”

 

Hulle het vir u gevlug in kloosters,

    heilige oorloë gevoer,

         gevas,

              kerse opgesteek in katedrale

en u naam op die preekstoel uitgeroep

bokant ‘n blinkborduurde kanselkleed wat sê

    “So spreek die Here.”

 

Skone,

    Gemartelde,

        Verlate Vriend,

            Opgestane Bruidegom,

 

Jesus van Nasaret, gaan ons nie verby.

 

Uit: Lina Spies, Dagreis. Kaapstad 1976

Anne Frank se dagboeke terug by Het Achterhuis

Thursday, June 25th, 2009

 

Die Agterhuis - Anne Frank

Die Agterhuis - Anne Frank

Naas die Bybel is Anne Frank se dagboek seker een van die mees beroemde publikasies ter wêreld. Selfs vir ons hier in die ander halfrond het dit onlangs besonderse betekenis verkry vanweë Lina Spies se skitterende vertaling daarvan. (Die agterhuis, Protea Boekhuis, 2007). Nietemin, by die Anne Frank-huis te Prinsengracht in Amsterdam word die vure omtrent hoog gestook, want vir die eerste keer sedert Anne se pa, Otto Frank, haar dagboeke in 1980 aan die Nederlandse Instituut vir Oorlogsdokumentasie (NIOD) geskenk het, is dié pryslose boeke nou in die gedenkhuis te besigtig. En die ampsdraers van die Anne Frank Stigting het omtrént die tromme geslaan en die trompette geblaas … Almal wat leef en beef was blykbaar by die oorhandiging teenwoordig: van Ronald Plasterk, die Nederlandse minister van onderwys, kultuur en wetenskap, tot Robbert Dijkgraaf, president van die Koninklike Nederlandse Akademie vir Wetenskap. Te midde van die wêreldmedia, wat almal in die beknopte “agterhuis” ingeprop was, het die hooggeplaasdes mekaar op die skouer geklop en hul onderskeie rolle in dié suksesvolle oordrag besing. Ronald Plasterk het byvoorbeeld na die dagboeke verwys as ’een geschenk aan de wêreld’, want, het hy gesê: “realiseer je goed hoe beroemd Anne Frank is: In Zuid-Korea weten ze van Nederland niet veel meer dan dat Anne Frank er gewoond heeft.” Om die belangrikheid van dié dagboeke te onderstreep, het voortgegaan en ’n vergelyking tussen Anne se dagboeke en die Rosetta-steen in Egipte getref, terwyl, soos De Trouw se beriggewer dit stel, die luukse faksimilee-uitgawes – wat teen 650,000 euro vervaardig is, en vir 29 jaar in die vertoonkas gepryk het – vergete eenkant gelê het. Inderdaad, ’n besonderse geleentheid … Maar hoekom het dit hulle 29 jaar geneem om dié wêreldskat enkele blokke verder te skuif na waar dit eintlik hoort? Het dit dalk iets met die kwynende toerismebedryf te make? Ek wonder maar net.

Nietemin, as verdere toegif vanoggend, Lina Spies se treffende vers oor Anne Fank hieronder. (Lees gerus ook die toespraak wat sy tydens die bekendstelling van Die Agterhuis by die Holocaust-museum (Kaapstad) gelewer het hier, asook haar lesing met die titel “In die skadu van Auschwitz” hier.)

 
Lekker lees!
LE

 

 

 

Vir Anne Frank van Het Achterhuis

 

Hulle onthou die gaskamers, Auschwitz,

as van lyke, onsigbaar vervoer deur eensame riviere,

die meisie in haar sabbatrok,

wat in die dodeput afstort,

die vrou wat met sekslose sekerheid besef,

uit haar vervloekte bloed sal ‘n kind

die nuwe, vrye wêreld nooit weer vind …

 

Maar in die agterhuis was veel

menslikheid: Mevrou van Daan,

prikkelbaar-bevrees, vervelig-verwaand,

‘n moeder se subtiele verset,

omdat haar kind die vader liewer het …

 

En tog moes jy jou jong

ontwaking leer verstaan – alleen.

En wat het al jou vroulikheid gebaat?

Jy moes die laaste toevlug deel

vir nog ‘n Jood se veiligheid –

tandarts Dussel jou ongewenste kamermaat.

 

Toe het jy jou na hom gekeer:

blou agter ‘n berookte ruit en ‘n gordynde raam

het helder in sy oë kom leef …

maar die natuur verdra geen surrogaat –

jy het geweet, te lig bevind. Weer

moes Peter maar vir Mouschi streel

en vir ‘n troos het jy seisoenverward

pinksterrose en bloudruifies in een droom verbeel.

 

Meer as Jood of Christen het jy geweet

die mens se gees oorwin as hy

elke dag sy aartappels met vreugde eet.

 

(Uit: Digby Vergenoeg, 1971, Human & Rousseau, Kaapstad)